SLEGS SOMMIGE VARKE SE PES ONDER BEHEER...

Varkpes in Transvaal byna onder beheer

Alani Janeke

Die uitbreking van varkpes in Transvaal en Oos-Transvaal Mpumalanga is glo byna iets van die verlede met sowat 250 varke wat reeds uitgeslag is, sê die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie.

Mnr. Simon Streicher, hoof-uitvoerende beampte, sê sowat 500 varke in totaal moet weens die siekte van kant gemaak en die eienaars moet vergoed word.

Die siekte is op ses plase in Transvaal en agt plase in Oos-Transvaal gediagnoseer. Streicher sê tans “lyk dinge goed” met geen nuwe gevalle wat nog gevind is nie. “Die veeartseny-beamptes het deeglik en ver gaan soek.”

Volgende twee weke
Volgens Streicher sal die laaste van die 500 varke binne die volgende twee weke uitgeslag wees. Ná die laaste diere van kant gemaak is, mag die plase waar die diere gevind is vir 60 dae geen nuwe diere inneem nie sodat seker gemaak kan word dat die siekte nie weer voorkom nie en alles gesteriliseer is.

Veilings mag ook eers 60 dae nadat die laaste dier uitgeslag is, in dié provinsies hervat word.

Streicher sê die diere wat uitgeslag word, se karkasse word óf begrawe óf verbrand. “Dit hang af van die terrein wat beskikbaar is. Ek weet in Oos-Transvaal is al die karkasse verbrand, terwyl dit in Transvaal weer begrawe word.”