Mediaverklaring
Blanke prokureurs: onttrek aan Malema se saak
Herstigte Nasionale Party
Die HNP het kennis geneem van die uitlatings van Julius Malema oor sy wit regsverteenwoordigers en blanke ondersoekbeamptes wat sy sake hanteer en ondersoek.
Malema het gesê elke keer as hy in ’n vergadering met sy drie wit prokureurs sit, is hy baie geïrriteerd. Hy meen die regbank word deur die wit minderheid beheer.
Die saak is baie eenvoudig. Malema het regsverteenwoordigers nodig omdat hy ’n oortreding begaan het en het kundiges nodig om dié sake te hanteer. Hy het waarskynlik self sy regsverteenwoordigers gekies. Hy sou, met groot finansiële steun tot sy beskikking, waarskynlik die beste regsverteenwoordigers aangestel het om sy verdediging te behartig.
Die HNP stel dit aan Malema dat hy wit prokureurs aangestel het omdat hy by hulle nie net die beste professionele dienste kry nie, maar beslis ook die beste kundigheid. Hy het klaarblyklik nie swart prokureurs aangestel nie omdat hy nie vertroue in hulle het nie.
In die lig van Malema se uitsprake waarin blatante rassehaat die botoon voer, doen die HNP ’n beroep op die span blanke prokureurs om uit selfrespek hulle aan Malema se sake te onttrek en hom vry te stel van sy wit regsverteenwoordigers. Dit sal ook sy irritasie verminder en hom die vryheid gee om swart prokureurs na sy keuse aan te stel om dié sake te hanteer.