Luidens ’n verklaring word erge storms vir vandag Vrydag 13 Januarie 2012, en moontlik nog later, in die noordoostelike dele van die Oos-Kaap, in die verre oostelike dele van die Vrystaat asook in die westelike dele van KwaZulu-Natal voorspel. Die Nasionale Weerdiens het waarskuwings oor hierdie storms uitgereik. Volgens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye word veral boere gewaarsku om hiervoor op die uitkyk te wees en die nodige voorsorgmaatreëls te tref om hul eiendom en vee te probeer beskerm. Van die storms kan met hael gepaardgaan. In die algemeen word verwag dat die storms sowat ’n halfuur tot ’n uur kan woed.