TLU SA MEDIAVERKLARING
Plaasmoorde wek internasionale aandag
‘n Mosie deur verskeie partye in die Nederlandse Tweede Kamer (Parlement) is gister met ‘n klein meerderheid verwerp, terwyl die Minister van Buitelandse Sake baie positief was oor die mosie.
Die mosie het veral gefokus op die plaasmoorde in Suid-Afrika en die diskriminasie wat teen die boere van die land plaasvind. Verskeie partye, waaronder die SGP, PVV en Groenlinks het onder andere gepleit dat internasionaal kennis geneem moet word van die plaasmoorde in Suid-Afrika en dat die Nederlandse regering selfs kundigheid moet aanbied om die probleem te help oplos.
Die Sosialiste en Arbeidersparty het die mosie in ‘n stemming laat sneuwel, maar die Minister van Buitelandse Sake, Rosenthal, het verklaar dat hy die mosie “omhels”.
“Al is die mosie afgestem en daar geen hulp aangebied kan word nie, beteken dit tog dat daar toenemend kennis geneem word van die haglike omstandighede waaronder ons boere moet probeer voedselsekerheid handhaaf”, sê TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes in reaksie op die gebeure. “TLU SA is verheug daaroor dat daar deurbrake kom in sy aksies om die wêreld se oë op die vergrype teen Suid-Afrikaanse boere te laat fokus. Ons wil nie graag ons vuil wasgoed voor die oë van die internasionale gemeenskap was nie, maar as die Suid-Afrikaanse regering nie self iets aan die saak wil doen nie, het ons geen ander keuse as om die wêreld in te lig en daardeur druk van buite af uit te oefen op die Suid-Afrikaanse regering,” sê mnr. Meintjes. TLU SA sal hierdie aksie van hom voortsit, want die voortdurende moord op die boere kan nie langer stilweg aanvaar word nie.