Gewelddadige aanval op blankes blatant rassisties
Anita Morkel
“Julle Boere gaan ***!” het ‘n swarte twee blanke mans toegesnou, terwyl hy hulle voertuig op die pad tussen Rustenburg en Marikana verwoes het.
Die rassistiese antwoord is gegee deur die swarte, wat in ‘n T-hemp van die vakbond Numsa geklee was, nadat een van die mans, mnr. Ugie Coetzer hom in Xhosa gevra het waarom hy hulle vloek. Die swarte het sy kop in ‘n blou hemp toegedraai sodat net sy oë uitsteek. Terwyl hy hulle met los klippe bestook het, het hy geskreeu: “Dit is nou vir julle Boere”.
Hy het aanvanklik in Engels aan mnre. Ugie Coetzer en Tallie Gouws gesê:
“We are Malema’s people”, waarna hy na Afrikaans oorgeslaan het. Tydens die aanval op die twee blanke mans was verskeie voertuie van Numsa-lede langs die pad geparkeer. Die twee geskokte mans kon daarin slaag om te ontvlug. Mnr. Coetzer het verskeie snywonde aan sy rug opgedoen.
Die voorval hou verband met ‘n landswye staking deur NUM-lede wat by die Xstrata-myngroep werk. Verskeie voorvalle van intimidasie, kwaadwillige saakbeskadiging en aanranding het die afgelope week op Rustenburg en omgewing voorgekom, waar derduisende swart mynwerkers van Numsa aan die staking deelneem.
Lede van die publiek is ook rassistiese en erger aanmerkings toegesnou toe tussen 2 000 tot 3 000 stakers die afgelope week deur die strate van Rustenburg gemarsjeer het.
Hulle het tydens ‘n ander voorval drie voertuie by die Boshoek Smeltery beskadig en probeer om ‘n BMW X3 voertuig aan die brand te steek. ‘n Sekuriteitshokkie is ook op die perseel uitgebrand.
Die stakers het ook op Xstrata se plaaslike hoofkantoor op Rustenburg toegesak, waar hulle ‘n verslaggewer van die Rustenburg Herald met klippe gegooi het, terwyl hulle rassistiese beledigings geskreeu het. Die militante stakers het bloedrooi T-hempde gedra en baie was met knopkieries en stokke bewapen.
Die landswye staking hou verband met ‘n aanbieding deur Xstrata ingevolge ‘n werknemer aandele besit-program wat deur NUM verwerp is. NUM-lede het intussen hul staking opgeskort nadat die twee partye met bemiddeling van die departement van mineraalsake ooreengekom het om binne sewe dae ‘n oplossing vir die kwessie te kry. Die stakers verwag dat Xstrata aan al die NUM-lede presies dieselfde uitbetaling maak, desnieteenstaande die pos wat beklee word. Die uitbetalings wat Xstrata bereid was om te maak, wissel tussen R2 500 tot R6 000.
NUM het op ‘n stadium gedreig om te sorg dat hulle ‘n einde sal maak aan Xstrata, wat ‘n internasionale myngroep is, se mynbedrywighede in Suid-Afrika.
Myne wat toemaak en ‘n ander maatskappy (Tharisa) se voorneme om ‘n chroom-smeltery in China te bou, waar chroom van sy Rustenburg-myn verwerk kan word, is glo van die oorwegings wat Eskom die afgelope tyd beweeg het om indringend sy elektrisiteitstariewe te heroorweeg.