Mediaverklaring
HERSTIGTE NASIONALE PARTY VAN SUID-AFRIKA
Die stelling van die ANC se Minister van Grondsake, Gugile Nkwinti, dat as die grondwet in die pad van die ANC-regime se doelwitte met grondhervorming staan, die ANC bereid is om die Grondwet te wysig, bewys dat die HNP reg was in sy ontleding van die politiek sedert 1994.
Die HNP het van meet af gesê dat die land se Grondwet nie die papier werd is waarop dit geskryf staan nie. Die Grondwet is trouens al deur ons beskryf as een van die mees vyandelike dokumente teen die Afrikanervolk wat nog die lig gesien het.
Solank die aanhef praat van die gewaande ongelykhede en ongeregtighede van die verlede, geniet die Afrikaner wat die verlede beheer het, geen beskerming in daardie Grondwet nie.Asof dit nie genoeg is vir die ANC dat hy die Afrikaner uit sy land het nie, wil hy die Afrikaner se privaat eiendomsreg van hom ontneem. As die Grondwet verander word, sal dit nie net plaasgrond in gevaar stel nie. Eienaars van strandhuise en ander eiendom het ook rede om bekommerd te wees. Soos die Grondwet tans is, word uitdruklik vermeld dat die term “eiendom” nie beperk is tot vaste eiendom, m.a.w. grond nie. Hierdie uitlating wys dat die ANC voortgaan op die ou kommunistiese model wat wêreldwyd al uitgebak is nadat dit lande en ekonomieë vernietig het. Hier doen hy dieselfde sodat ‘n klompie vet regeringskatte bevoordeel kan word.
Die HNP verwelkom egter Nkwinti se erkenning dat hulle geen respek vir hulle eie grondwet het nie. Partye soos Azapo en PAC, en waarskynlik elemente in die IVP, sal die ANC graag steun as dit daartoe kan lei dat blankes van hulle besittings ontneem gaan word.