Sarie Pieterse
Die afgelope dae is ons land weer aan die brand! En dit op meer as een wyse...
Terwyl brande in die distrik Vryburg tot 53 km ver gestrek het saai dit ook groot verwoesting in Transvaal met meer as 20 000 ha wat reeds in die slag gebly het sedert die naweek in die distrik Schweizer-Reneke. Daar was ook in Fochville baie swaar rook wat veroorsaak het dat paaie in die omgewing na Johannesburg, Potchefstroom, Ventersdorp en Parys gesluit is, wat dié dorp van die buitewêreld afgesny het. ‘n Veldbrand het ook Maandag naby Viljoenskroon uitgebreek en is deur die wind na Vredefort gedryf. Twee vroue en ‘n kind is in ‘n hospitaal in Parys opgeneem nadat hulle motor weens die omringende veldbrande op die pad aan die brand geslaan het.
Mnr. Jaco Maré, ’n boer van Hartebeesfontein, vertel dat brande gister, Dinsdag, 23 Augustus, ook in dié omgewing asook in die distrik Klerksdorp woed. Hy meen daar is ernstige rede om te glo dat dit deur brandstigting veroorsaak is, iets wat elke jaar hierdie tyd gebeur en jaarliks vererger namate daar meer swart immigrante die land instroom.
Mens kan nie die vier boere verkwalik wat in die distrik Schweizer-Reneke probeer het om die vier swartes te stop om die veld aan die brand te steek nie. Die boere was besig om die brande te bestry toe hulle op die brandstigters afkom - enige regdenkende mens sou sy eiendom probeer beskerm het, maar nou word hierdie boere aangekla van aanranding en moes elkeen reeds R5000 vir borgtog betaal tot 5 September wanneer hulle weer moet verskyn; wat 'n klug!
Dit is feitlik ook voorspelbaar wat van die boere se saak van brandstigting sal word wat hulle weer op hul beurt aanhangig gemaak het.
Die boere beweer met reg dat die skuld van al hierdie dinge voor die ANC-polisie se deur gelê moet word want geen klagtes en sake word behoorlik ondersoek nie; hoe anders dat eienaars hul eiendom self beskerm? Daarby word minstens 90% van brande deur boere self bestry want daar is nie hulp van die staat daarvoor nie.