TLU SA-MEDIAVERKLARING
Die onthulling van Cosatu by die debat oor nasionalisering dat hy die ANC-Jeugliga aangemoedig het om die saak van nasionalisering stewig op die tafel te plaas, en dat ’n taakspan wat die ANC skynbaar reeds aangestel het om na die uitvoering van nasionalisering te kyk, is skokkend.
TLU SA se president, mnr. Ben Marais sê dat dit duidelik is dat die Jeugliga se eise nie net praatjies van ’n klomp jong heethoofde is nie en dat dit in werklikheid ondersteun word deur beide die ANC en Cosatu, waarskynlik op grond van die SAKP se kommunistiese agenda. “Die ANC het dus blatant gelieg oor sogenaamde versekerings dat nasionalisering nie op die tafel is nie. Cosatu het nou openlik erken dat die ANC-taakspan reeds aanvaar het dat nasionalisering sal plaasvind maar dat daar nog net besin moet word hoe dit prakties uitgevoer moet word.”
Mnr. Marais sê die feit dat vir alle nasionalisering vergoeding ter sprake is behalwe op grond bevestig TLU SA se standpunt dat die kommersiële boer, wat kos aan almal voorsien, geteiken word om vernietig en uitgeroei te word. “Is dit dan ook die rede waarom daar nie die aandag aan plaasmoorde gegee word wat dit vereis nie, want elke boer wat nie meer daar is nie is ’n probleem minder as dit kom by nasionalisering?” vra mnr. Marais.
“Ten spyte daarvan dat daar geen enkele suksesverhaal van nasionalisering in die wêreld gewys kan word nie loop die ANC en sy trawante reguit op die ekonomiese afgrond af wat dit skep. Die tyd het nou aangebreek dat georganiseerde landbou en georganiseerde besigheid in Suid-Afrika dringend byeenkom en hande vat om almal se belange te beskerm teen die ernstigste bedreiging nog wat die ekonomie en die land nou te wagte is. TLU SA sal binne dae prosesse aan die gang sit om tersaaklike rolspelers byeen te bring.”
Intussen waarsku mnr. Marais dat voedselsekerheid ernstig bedreig word. “In Egipte en Malawi het revolusies ontstaan deur hoë voedselpryse as gevolg van te min voedsel. As hier soortgelyke revolusies uitbreek het die regering niemand behalwe homself daarvoor te blameer nie.”