Dr JP Botha
Lees reeks by REËNBOOGLAND
Geel (2)
Whang Ling en die ander Asiate
Toe die eerste skeepsvragte met ons Chinese in Julie 1904 in die Durbanse hawe land, het ons besef dat ons in China gewerf is om in Suid-Afrika in die goudmyne te kom werk. Daarna het ons verneem dat die land ‘n groot tekort aan goedkoop, ongeskoolde, nie-blanke arbeid ondervind het en dat ons Chinese die behoefte daaraan in die goudmyne moes kom voorsien.
Die duisende Bantoes wat voor die Engelse-Boere-oorlog vir die mynbase ondergrond gewerk het, is gedurende die oorlog deur die Engelse só ruim vergoed dat hulle na die oorlog nog geen onmiddellike behoefte gehad het om weer te gaan werk nie. Hulle het, versadig van hul oorlogtydse geld, in ledigheid gesit en wag op die millennium wat die Engelse hulle beloof het.
By ons aankoms aan die Johannesburgse Rand was ons uitermate verbaas om die algehele verwoeste toestand van die land te aanskou. Die Engelse het met hulle oorlog teen die Boere feitlik alles vernietig. Die boerewonings is afgebrand, die veestapel is vernietig en die vrugteboorde is verwoes. So iets het ons nog nooit gesien nie.
Toe hoor ons dat met die uitbreek van die oorlog tienduisende Randse uitlanders na die hawestede in die suide van die land gevlug het. Dit het tot ‘n byna algehele stilstand van die Transvaalse goudmynwese gelei. Die goudopbrengs van die myne was voor die oorlog in 1898 reeds meer as R32 miljoen, maar gedurende die oorlog het dit in 1901 tot skaars R2 miljoen gedaal.
Die man wat vir ons van China af ingevoer het om die goudmyne te kom opkikker, was lord Alfred Milner. Die Britse owerheid het hom die taak opgedra om hulle twee nuwe verowerde kolonies, die Vrystaat en Transvaal, te bestuur. Milner was ‘n baie beter oorlogstoker as wat hy weeropbouer was van die verwoeste land waar-aan hy self ‘n groot aandeel gehad het. Om al die gate toe te stop, het hy groot lenings aangegaan. Hy was van mening dat indien die Randse goudmyne weer ‘n op-brengs van R32 miljoen kon lewer, sou hy minstens vir Transvaal van ‘n algehele krisis kon red. Daarom het hy ons Chinese in 1904 in China gewerf om in die goudmyne te kom werk. In Julie 1904 het die eerstes van ons op die Rand aangekom. Nege maande later het ons getal reeds op ongeveer 34 000 gestaan en in Januare 1907 het daar 54 000 Chinese in die goudmyne aan die Rand gewerk.
Dit was reeds vroeg in 1903 al bekend dat Milner van plan was om ons Chinese in te voer. Die Boere, wat toe Britse onderdane geword het, het met alle mag en krag daarteen geprotesteer. Hulle leier, generaal Botha, het in Julie 1903 op Heidelberg ‘n groot protesvergadering ge-hou. Milner was só bang dat die Boere dalk dié dag daar ‘n militêre opstand sou begin, dat hy nie minder nie as 500 ekstra konstabels daar saamgetrek het. Die Boere het geëis dat Milner nie ons Asiate uit China moet invoer nie, maar daardie stugge, hardvogtige, ongenaakbare man het hom nie daaraan gesteur nie.
Die Boere wou ons onder geen omstandighede in die land hê nie en het toe by die Engelse regering geprotesteer teen die uitvoering van Milner se voorgenome planne, maar dié het toe vir hulle laat weet dat die meeste Boere ons Chinese graag in die land wou hê ! Hierdie leuen het die Afrikaners só kwaad gemaak dat hulle ‘n groot volkskongres in Mei 1904 gehou het en ‘n vereniging, Het Volk, gestig het, om hulle teen Milner te help veg.
Milner het egter met die uitvoering van sy planne om ons Chinese as arbeiders in te voer, wel deeglik daarin geslaag om die goudopbrengs te verhoog. In 1905 was die waarde daarvan reeds meer as R41 miljoen. Maar ons Chinese was nie gewone immigrante nie, maar ongeskoolde kontrak-arbeiders. Ons was onderworpe aan gedwonge repatriasie sodra ons inboektermyn verstryk het. Nietemin het Milner en die goudbase se maatreël heftige kritiek uitgelok. Al die inwoners van die land, Boer en Brit, het in hulle protes teen ons teenwoordigheid in die land vir Milner en die geldmagnate daarvan beskuldig dat hulle met vuur speel. In die Britse laerhuis is ‘n mosie van afkeuring teen lord Milner aangeneem. Dit was die einde van Milner se gehate politieke rol in Suid-Afrika. Hy het hom aan die openbare lewe onttrek en in die politieke woestyn verdwyn.
Maar ons Chinese was nog steeds in Suid-Afrika die mees ongewenste element van die hele bevolking. Daar is beweer dat ons Oosterlinge geensins godsdienstig, moreel en sosiaal by die Blankes se westerse bestaan en leefwyse aanpas nie en dat ons so gou doenlik na die land van ons herkoms teruggestuur moes word.
Die Engelse van die land het saam met die Afrikaners teen ons aanwesigheid in die land protesteer. Daar is menigvuldige bangmaakstories onder die publiek versprei, as sou ons Chinese snags die barakke waarin ons gehuisves was, verlaat en met yslike lang messe op moordtogte rondsluip. Ek wil nie graag oor die waarheid al dan nie daarvan oordeel nie.
Ons Chinese se teenwoordigheid in Suid-Afrika het selfs in Engeland politieke stof opgejaag. Die Konserwatiewe regering wat die oorlog in Suid-Afrika gestook het en vir Milner hier geplaas het, se regeertyd was verby en die Liberale Party het hulle in die verkiesingstryd wat gevolg het, oor ons aangeval en kwaai veroordeel. Die verkiesing het toe aan die pro-Chinese ‘n verpletterende neerlaag besorg en die Liberale Party van sir Henry Campbell-Bannerman het die regering oorgeneem. Toe het daar ‘n juigkreet opgegaan. Daar is beweer dat dit nie net alleen ‘n oorwinning van die Liberale oor die Konserwatiewe in Brittanje was nie, maar ook ‘n oorwinning van die Afrikaners en die Suid-Afrikaanse Engelse wat met hulle saamgewerk het, oor Milner, die mynmagnate en oor alle jingo’s.
Die Campbell-Bannerman-regering was die Afrikaners goedgesind en het aan Transvaal in 1906 en vir die Vrystaat in 1907 selfregering gegee. Reeds voor hierdie tyd is die verdere uitreiking van lisensies om nog meer van ons Chinese in te voer, stopgesit.
Generaal Botha het die hoof van Transvaal se nuwe regering geword. Ons Chinese wat toe nog in die land was, is nie dadelik gerepatrieer nie. Hulle het daarmee gewag tot ons inboektermyn verstryk het. Onderwyl die laastes van ons in die skip terug na China seil, hoor ons dat die Boere beweer het dat “die hele Chinese gedoente” net ‘n kapitalistiese set was om goedkoop arbeid in die hande te kry, omdat hulle werwing van mynwerkers onder die Suid-Afrikaanse inboorlinge ondoeltreffend was.
So was ons Chinese se verblyf in Suid-Afrika destyds maar baie kortstondig alhoewel ons tans weer 'n groot persentasie verteenwoordig.. Maar ons wil nie eintlik saampraat oor die land se huidige politieke verwikkelinge en rasseverhoudings nie want ons is nie deel van die troebel onderlinge verhoudings wat sy inwoners moet trotseer nie. Hulle moet maar sonder ons Chinese wat in die land is, in hulle gewaande “reënboognasie” ontwikkel en hulle eie ondergang tegemoetsnel.
BLINK... Vervolg