REËNBOOGLAND (1)

Dr JP Botha

Lees reeks by REËNBOOGLAND

Rooi John Hunter en die Engelse (1)

Ek verteenwoordig al die Engelse wat in 1795 die eerste keer in Tafelbaai voet aan wal gesit het en almal wat daarna deur die jare heen tot 2007 in Suid-Afrika kom woon het, of op een of ander wyse met die land kontak gehad het.  Baie min van ons Engelse wat hier gewoon het of nog steeds ‘n vaste verblyfplek hier het, het die land ooit volkome met hart en siel ons vaderland gemaak.  Selfs dié van ons wat hier gebore is en hulle hele lewe in Suid-Afrika deurgebring het, praat maar gedurig nog van Engeland as ons “home.”

So ‘n superieure en merkwaardige nasie soos ons, versaak nie sommer sy roemryke herkoms nie.  Ons hou dit in ere en verruil dit nie vir die minderwaardige burgerskap van enige ander onderontwikkelde land nie, al woon ons ook lewenslank in Suid-Afrika.

Dit is natuurlik vir ons Engelse baie gerieflik om hier te wees.  Baie van ons kon in die verlede - en selfs vandag ook nog - geen heenkome meer in ons pragtige moederland vind nie.  Daarom het baie van ons deur die jare heen maar uitgewyk na die nuwe gebiede wat ons moeder Engeland vir ons oorsee verower het.  Ons het met durf en deursettingsvermoë plekke soos Australië, Nu Zeeland en die Kaap van die Hollanders afgeneem en met ons eie mense gekoloniseer.  Dis tog ‘n erkende regsbeginsel dat dit in almal se voordeel is dat die sterkste moondheid gesag moet voer oor ‘n waardevolle gebied, omdat hy oor die middele beskik om ‘n sukses daarvan te maak, wat ander nasies nie kan doen nie.

‘n Historikus het eenmaal probeer om ons Britte se mentaliteit af te kraak en ons te beledig.  Dit het hom egter nooit opgeval dat wat hy oor ons geskryf het, maar net ons absolute meerderwaardigheid oor ander rasse bevestig nie.  Hy skryf:

Vir die Engelse, wat hulself as die hernvolk beskou het, was dit eenvoudig ondenkbaar dat hulle in ‘n land kon woon wat nie aan die Britse ryk behoort het nie. Hulle heerssug was só sterk, dat hulle dit eenvoudig nie kon afskud nie.  Hulle kon dit nie verdra dat hulle nie almal kon hiet en gebied nie. Die uitstaande eienskap van ‘n Engelsman enige plek is die hoë dunk wat hy van homself het en die lae dunk wat hy van ander het, of dit nou Franse (Frogs), Duitsers (Huns), Sjinese (Koelies) of Afrikaners (Boors) is, maak nie saak nie.  Hierdie Engelse eienskap is al toegeskryf aan ‘n “eiland-mentaliteit”. Omdat hulle uit ‘n eiland stam, het hulle nog nooit nodig gehad om respek teenoor ander te betoon nie. Die volke wat hulle daar aangetref het, het hulle eenvoudig onderwerp en oorheers en met minagting op hulle neergekyk. (PF Bruwer:  Vir Volk en Vryheid).

Ons het al hierdie eienskappe waarmee ons vereer word, gebruik en toegepas in die verowering en kolonisering van ons oorsese besittings.  In Australië het die primitiewe inboorlinge van die land, die Aborigenes, in ons pad gestaan, maar ons het hierdie struikelblok maklik uit die weg geruim deur hulle met strignien te vergiftig en die res in reservate te plaas.  Daarna het ons aan die wêreld verkondig dat hulle uitgesterf het.  Ek weet nie of hulle ons geglo het nie.  Die doel heilig tog die middele.

In Amerika het ons mense wat hierdie land begin koloniseer het, dadelik met die natuurlike inwoners gebots.  Maar ons vindingryke voorvaders het hierdie probleem ook mettertyd opgelos.  Elke kolonis wat ‘n Rooi-huid se afgeslagte kopvel vir die Sheriff kon gaan wys, het daarvoor 5 sjielings ontvang.  Vandag is die Rooi Indiane geen probleem meer in Amerika nie.

Maar met die Kaap, wat ons van die Hollanders in 1795 en weer in 1806 verower het, was dit ‘n ander storie.  Hierdie Hollanders kon die wêreldmoondheid geword het wat ons Groot Brittanje vandag nog steeds is, as hulle van dieselfde kaliber as ons Britte was.  Dit kon gebeur indien hulle regering hulle buitelandse besittings self bestuur het en dit nie in die hande gelaat het van ‘n uiters onbekwame en roofsugtige Oos-Indiese handelsmaatskappy nie.  Dit het aan ons vérsiende Britte die geleentheid gegee om al op hul spore langs, hulle uit een na die ander koloniale vastrapplek te verdryf en dit vir ons in besit te neem.  Daarna kon ons al hierdie plekke, soos Australië, Indië, Nu Zeeland, Kanada, die Hollandse Oos-Indiese Eilande, Malakka en Batawië op uiters doeltreffende Britse wyse ontwikkel, administreer en regeer.

Albei kere wat ons die Kaap in besit geneem het, het eintlik met ‘n groot grap gepaard gegaan.  Toe generaal Craig met sy vloot en 4 000 dapper manskappe in Tafelbaai land, kon kolonel Gordon se verdedigingsmag onder aanvoering van luitenant-kolonel De Lille, nie vinnig genoeg oor die Kaapse sandvlakte die aftog blaas nie!  Wat die Hollandse goewerneur Sluysken wat die Kaap moes verdedig, nie geweet het nie, was dat ons De Lille omgekoop het.  Generaal Graig het ook vir Sluysken ‘n brief gebring van hulle Prins van Oranje, waarin hy gevra het dat die Kaap aan ons Engelse oorgegee moes word, sodat ons hom kon beskerm teen Franse aanvalle.  So het die Kaap maklik in ons hande geval, danksy die toepassing van slim Engelse diplomasie en taktiek.

Op die inwoners van hierdie nuwe Engelse kolonie kon ons egter nie dieselfde maatreëls toepas as wat ons in ons ander kolonies gedoen het nie.  Ons het hoofsaaklik mense van drie verskillende rasse hier aangetref:  Hulle was die blanke Hollandse koloniste, verskillende variasies van die Negroïede ras, naamlik Hottentotte, Boesmans en Bantoes en ook nog ‘n groot klomp slawe van Asiatiese afkoms.  Daar was ongeveer 22 000 Blankes, 25 000 slawe en in die Kaapse omgewing was daar 10 000 Hottentotte, afgesien van die duisende der duisende Bantoes op die oosgrens van die kolonie, wat Kôsas genoem is.

Dit was nou die verantwoordelike taak van generaal Craig en sy opvolgers, graaf Macartney en goewerneur Francis Dundas en sir George Yonge om hierdie bont spul tot orde te roep en met mekaar te versoen.  Die invloed wat filantrope soos Read, Van der Kemp, John Barrow en later dr Philip, op ons regering in Engeland uitgeoefen het, het veroorsaak dat ons goewerneurs aan die Kaap baie mooi met die Hottentotte moes werk.

Maar ons grootste probleme het ons in die binneland teëgekom, veral in die twee distrikte Graaff-Reinet en Swellendam en verder aan die oosgrens van die kolonie waar die Hollandse koloniste rond en bont gewoon het en gedurig in botsing met die Swart Kôsa-stamme was.  Hierdie gewese Hollanders wat hulle self “Vryburgers” genoem het, was die hardnekkigste spul boslansers waarmee ons Engelse nog ooit te doen gehad het.  John Barrow het hulle “peasants” genoem en by die regering aanbeveel dat hulle met Chinese boere vervang moes word.  Hulle het groot troppe vee aangehou, waarna die inboorlinge gedurig met begerige oë gekyk het.  Hulle het dan strooptogte onderneem en soveel as wat hulle kon daarvan gebuit.

Voor ons Engelse se koms na die Kaap het hierdie Vryburgers na sulke strooptogte ‘n kommando saamgestel en teen die Kôsas wat hulle beeste geroof het, opgetrek.  Hulle aanvoerder was ‘n sekere Adriaan van Jaarsveld, wat glo ‘n derduiwel van ‘n man was.  Hy het daarmee gespog dat hy altyd eers skiet en dan praat.

Ons kon dit nie waag om hierdie Kôsas te straf wat elke keer oor die Visrivier-grens gebars het, die boere se vee geroof en ‘n hele klomp van hulle vermoor het nie.  Die filantrope sou byna die stuipe gekry het, want hulle het geglo dat hierdie Swartes onskuldige natuurkindertjies was waarin absoluut geen kwaad geskuil het nie.  Ons regering in Engeland het dr Philip-hulle se stories geglo en het ons Kaapse regering belet om enigsins hardhandig teen die Swartes op te tree.  Daarom het goewerneur Macartney met hulle gaan mooipraat en hulle laat beloof om nie weer oor die grens te kom nie en anderkant die Visrivier in hulle eie gebied te bly. Hy het allerhande presentjies onder hulle uitgedeel om hulle goedgesindheid te koop.

Die grensboere het niks daarvan gehou nie en ons gedurig beskuldig dat ons hulle verwaarloos en nie beskerm teen die aanvalle van die swart barbare nie, want ons het hulle boonop ook nog belet om self oor die grens te gaan om hulle gesteelde vee weer te gaan terughaal.

Die inwoners van veral die twee buitedistrikte, Graaff-Reinet en Swellendam, was baie opstandig.  Dit het tot rebellie teen ons Engelse gesag gelei, wat ons genoodsaak was om streng te onderdruk.  Maar die opstandigheid het voortgeduur en in die regeringstyd van lord Charles Somerset het hierdie grensbewoners se griewe in die Slagtersnekrebellie losgebars en was die Goewerneur verplig om dit met strenge Engelse ysterhand te onderdruk en vyf van die belhamels op te hang.

Dit was in 1815.  Drie jaar vantevore het daar nog ‘n gebeurtenis plaasgevind wat hierdie Vryburgers, wat hulle alreeds Afrikaners begin noem het se gemoedere nog verder in die harnas gejaag het en hulle totaal wars van enige Engelse gesag oor hulle gemaak het.  Goewerneur Cradock het ‘n rondgaande hof ingestel waar hulle aangekla is van sogenaamde talryke misdade en moorde wat hulle op Hottentot-bediendes sou gepleeg het.  Alhoewel die hof bevind het dat al hierdie aanklagte op ‘n paar uitsonderings na geheel en al vals was en deur dr Van der Kemp en sy geliefde Hotnotjies by Bethelsdorp aangevuur was, het hierdie koloniste ons regering aan die Kaap die skuld daarvoor gegee.  Wat kon óns nou daaraan doen?

Ons probleme met hierdie grensboere het al hoe erger geword.  Goewerneur lord Charles Somerset het ‘n goeie plan uitgedink om hulle te probeer verengels. Hy het Skotse predikante laat kom om vir hulle in hul kerke te preek. Dit het eintlik nie veel gehelp nie, want hierdie Skotte, soos ou dr Andrew Murray, het naderhand vir hulle in Hollands gepreek! Somerset het ook Engelse onderwysers ingevoer en Engelse skole gestig en Engels die amptelike taal van die kolonie gemaak en ons Engelse regstelsel ingevoer. Toe dit alles niks help om hierdie hardkoppige grensbewoners te assimileer nie, het hy in 1820 meer as 3 000 Engelse setlaars laat kom en hulle oral in die buitedistrikte tussen die boere laat woon, maar dit het nie die Kaap verengels nie.

Vervolg...(2)