Gert Kotzé
Lees reeks by Sport en politiek
SPORT EN POLITIEK (4)
Die eerste aanslag deur 'n groepie Johannesburgse Afrikaners teen die anti-Afrikaanse bestuur van die Transvaalse Rugbybond het die grondslag gelê vir 'n soortgelyke aanslag 20 jaar later. Hierdie keer het die opstandelinge absoluut seker gemaak dat die tegniese haakplekke wat die eerste poging laat misluk het betyds uitgeskakel sou word.
In die twee dekades tussenin was daar heelwat verwikkelinge.
Voormanne van die Afrikaner-sportlui aan die Rand het hulle oënskynlik daarin berus dat die Engelse oorheersing in die bestuur van Transvaalse rugby so stewig verskans was dat geen pogings om dit te beëindig sou slaag nie.
So 'n standpunt was nie heeltemal verkeerd nie.
Die Sanderson-bewind het besef dat hy die 1944-opstand slegs op tegniese gronde afgeweer het. En eweneens het hy besef dat die Nasionaalgesindes wat tydens daardie opstand by verskillende klubs aan die bewind geplaas is, vir hom 'n bedreiging inhou.
Daarom het die Sanderson-mense voortaan jaarliks hul huiswerk deeglik gedoen. Daar is gesorg dat die klubs wat hul goedgesind was, nie maklik weer gerysmier sal kan word nie. Veral die mynklubs, wie se rugby-besture aan die sogenoemde “moederklubs" gekoppel was, het sake binne hul eie geledere deurgaans goed onder beheer gehou.
Sake is vir die Sanderson-bewind vergernaklik deurdat die ou vrede in die vooroorlogse tyd teen die einde van die jare veertig tot die spel teruggekeer het. Daar was belangriker sake as politiek om die aandag aan die gang te hou. 'n Reeks opwindende internasionale toere was op koms, met die besoek van die All Blacks van 1949 as die beginpunt.
Die saambindende faktor het weer eens die oorhand in die spel gekry en die politieke geskille van die vroeë en middelveertigers het in die agtergrond beland.
Maar selfs die nuwe tydvak het nie verhinder dat dit vir sommige Afrikaanse klubs aan die Rand soms baie moeilik was om hulself in die spel te handhaaf nie.
In die besonder was dit die Diggers-klub van Johannesburg wat die uiterste druk van bo moes weerstaan. Dit was die klub wat 'n sleutelrol in die eerste aanslag teen die Engelse bewind gespeel het.
Voortaan sou hy vir sy voortbestaan moes veg. Slegs die geringste aanduiding van agteruitgang sou aan die Sanderson-bewind die geleentheid bied om hierdie Afrikaner-klub se aansien te benadeel deur om byvoorbeeld tot die laer ligas of te skuif.
Dit het die klub goed besef. Hy het hom dit ten doel gestel om deur middel van sy prestasies aan die voorpunt van Transvaalse rugby te bly. En in weerwil daarvan dat sake soms vir hom bemoeilik is, het hy hierdie posisie feitlik deurgaans gehandhaaf.
So het Diggers gesorg dat hy onaanraakbaar gebly het. Hy het homself onteenseglik as die prestige-rugbyklub van die Randse Afrikaners gevestig. Daar het die Afrikaners 'n aanvaarbare tuiste gevInd. En hulle het dit as oogmerk gestel dat Diggers die belange van Afrikaans en die Afrikaners in Transvaalse rugby sou kies, al was dit dan ook in 'n ondergeskikte rol sover dit die bestuur van die Transvaalse Rugbybond betref.
Intussen was daar in die bestuursale van Transvaal, wat mettertyd die simboliese beskrywing van die Glashuis verwerf het, nie veel tyd vir die Afrikaner en sy belange in die spel nie. Die taal van verreweg die meerderheid spelers was Afrikaans, maar die taal van die bestuur was veelal Engels.
Die posisie het voortgeduur tot in die vroeë jare van die sestigs. Toe het 'n klompie Afrikaners besluit dat daar iets aan die saak gedoen behoort te word.
Aan die voorpunt van die nuwe opstandsbeweging was die man wat in 1944 as seun die bedrywighede rondom die eerste revolusie aanskou het . . . Jannie le Roux.
Sy rugbypad het intussen deur Stellenbosch geloop, waar hy vir die eerste span gespeel het, en later terug na Diggers waar hy ná sy speel dae tot die bestuur toegetree het.
Dat die tweede Afrikaner-opstand in Transvaalse rugby deur Jannie le Roux gelei sou word, was, en is nog, in sekere opsig 'n verrassing. Want aanvanklik was hy nie die rugby-kroonprins van die Randse Afrikaners nie.
Die man wat daardie oormerk gedra het, was mnr. Le Roux se mentor by die Diggers-klub, die baie bekende Dan de Villiers.
As voorsitter, en geruime tyd ook hoofafrigter, van die Afrikaners se spogklub, was mnr. De Villiers as't ware die trots en die oogappel van die Rand se Afrikaanssprekende rugbyspelers en rugbyliefhebbers.
Nasionaliste het in homdie toekomstige president van die Transvaalse Rugbybond gesien; en moontlik ook die voorsitter van Afrikaanse Rugbyraad onder 'n “nuwe" bedeling.
Van die visie sou egter niks kom nie.
Trouens, die man wat oor so 'n lang tydperk sulke hoë aansien in Transvaalse rugby, en veral by Diggers, verwerf het, het by sy eie klun die slagoffer van 'n interne revolusie geword.
Kenners van die rugby-politiek glo vandag nog dat “magte van buite" agter die opstand in die Diggers-klub teen mnr. De Villiërs was. Met hierdie standpunt stem ek saam. As rugby-skrywer van Die Vaderland destyds was el deeglik bewus van ontwikkelinge op die rugby-politieke terrein. Daar bestaan by my geen twyfel hoegenaamd nie dat die aansien wat mnr. De Villiers in Afrikanerkringe geniet het, as 'n bedreiging vir die posisie van sommige vooraanstaande rugbybase van sy tyd beskou is.
Nie net het die vrees bestaan dat hy moontiik Transvaal se voorsitter kon word nie; daar was ook destyds gerugte in omloop dat Afrikanerrugbybelange dit hulle ten doel gestel het om mnr. De Villiers in die bestuur van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad gevestig te kry.
Self meen ek dat mnr. De Villiers se opgang in die bestuursvlakke van rugby in 1965 'n knou gekry het; nogal in die jaar dat hy onverwags as onderbestuurder aangewys is van die Springbokspan van Basie Viviers wat in Australië en Nieu-Seeland gaan toer het. Dit was immers 'n sterk aanduiding van die man se opgang. Maar dit was omtrent mnr. De Villiers se laaste sukses.
lewers is 'n besluit geneem dat dit tyd geword het om hom na die rugby-woestyn uit te skuif. En dit is presies waar hy beland het.
Nie net is hy uit die bestuur van Transvaalse Rugby gestem nie maar hy het ook by sy eie klub, Diggers, in die onguns beland. Die finale afskeid sou kom by 'n jaarvergadering van die klub in die ou Waverley-hotel in Johannesburg.
En die man wat intussen geleidelik na die toppunt van Diggers se bestuur uitgestyg het, was Jannie le Roux.
As Diggers se hoofverteenwoordiger in Transvaal se bestuur het mnr Le Roux gou opgang gemaak. Hy was 'n aanvaarbare persoonlikheid daar. By geleentheid het mnr. Sanderson, die man wat bykans 30 jaar lank voorsitter van Transvaal was, van mnr. Le Roux aan my gesê: “Ek hou van die prokureurtjie van Diggers; hy's nogal 'n oulike kêreltjie."
Enkele jare later het dieselfde “prokureurtjie" mnr. Sanderson se rugbygraf met bekwame doeltreffendheid help grawe. Daar was naamlik 'n klemverskuiwing in die sport-politiek. Die interne rusie onder Diggers se Afrikaners was agter die rug; nou was dit opnuut Nat teen Sap.
Die tweede opstand teen die Sanderson-bewind het begin.
Saam met hom het mnr. Le Roux 'n ewe bekende in destydse rugringe, mnr. Boet Smit, as vertroueling en hoofbeplanner ingetrek. Daar sou te werk gegaan word op dieselfde metodes wat so ampertjies 1944 welslae gebring het. 'n Uitgesoekte aantal klubs se besture moes reg gedokter word voor die finale aanslag in die hoofbestuur. Ander bekendes in die topgeledere van die opstandsbeweging was die oud-Springbok Piet Malan, 'n onderwyser van die Wes-Rand, mnr. Corrie Bornman, en mnr. Hennie Loots, wat aan die Oos-Rand moes organiseer. Dis dieselfde mnr. Loots wat later so 'n vername rol in die hoofbestuur van die Suid-Afrikaanse Spoorweë gespeel het.
Omdat hy 'n oudstudent van die Universiteit van Kaapstad was, is met huiwering om sy hulp genader. By 'n ontmoeting wat tussen hom en mnr. Le Roux en van die ander topmanne belê is, het hy egter laat blyk waar hy staan.
By sommige klubs was dit noodsaaklik om saans “huisbesoek" by Klublede te gaan doen, sodat stemme vir nuwe bestuurslede gewerf kon word. 'n Bekende Johannesburgse predikant, wat later elders verhuis het, en 'n ewe bekende gewese stadsraadslid van Johannesburg, het aan die huisbesoek-aksie deelgeneem.
In die bestuur van die Transvaalse Rugbybond het die Le Roux-revolusie 'n bykomende stem gaan verwerf. Hy was 'n Engelssprekende. In latere jare is hy op gepaste wyse vir sy spesiale hulp “vergoed".
Die rysmier-organisasie is só geheimsinnig afgehandel dat dit te betwyfel is of die Sanderson-mense ooit daarvan te hore gekom het. En toe hulle wel die nuus van die op hande synde oorname verneem het, was dit klaar te laat vir enige moontlike teenskuiwe. Daar was hierdie keer ook geen “tydelik" geskorste klub wie se drie stemme op die laaste oomblik as troefkaart op die tafel gegooi kon word nie.
Toe sy voorbereiding afgehandel was het mnr. Le Roux besluit om self oor die beplande oorname met mnr. Sanderson te gaan praat.
Daar is gesê dat mnr. Le ROux die “Oubaas", soos mnr Sanderson destyds bekend was, aangeraai het om liefs terug te staan omdat ‘n kans om die opstand te stuit, feitlik nie bestaan het nie.
Mnr. Sanderson het stellig besluit om nie voor die tyd te ontrek nie omdat die ou bestuur se benoemings toe reeds gedoen was.
Hoe skitterend en doeltreffend die opstandelinge hulle aanslag gevoer het, word beklemtoon deur een van hul finale skuiwe. Hulle het naamlik 'n rukkie voor die vergadering nie heeltemal sekerheid gehad oor waar die voorsitter van 'n bepaalde klub sou stem nie. Wel was hul seker dat die voorsitter se plaasvervanger ... ‘n wese provinsiale speler van Noord-Transvaal . . . vir die opstandelinge sou stem.
Die saak is toe met die “twyfelagtige" man se werkgewers bewimpel. Daar is besluit om hom 'n dag of wat voor die jaarvergadering op “dringende sakebesoek" so ver weg van Johannesburg te stuur dat hy onmoontlik betyds vir die vergadering sou kon terugkeer. So is absoluut seker gemaak dat hierdie een ekstra stem heeltemal “veilig" sal wees.
Die jaarvergadering in Ellispark se Glashuis was 'n gebeurtenis vir die Rand se Afrikaanse rugbylui. In Afikaner-geledere was daar groot afwagting oor die uitslag van die belangrike verkiesing van 1965. Sou die Engelse weer op die laaste oomblik wen?
Op die vergadering daardie aand was daar merkbare spanning toe mnr. Sanderson, ná die afhandeling van enkele minder belangrike agenda-sake, die benoemings vir die nuwe bestuur voorgelees het.
Soos hy dikwels voorheen gedoen het, het mnr Sanderson my gevra om die stemme saam met die destydse sekretaris, mnr Jeppe van Heerden, te gaan tel. Halfpad deur die tellery was dit vir my duidelik dat die tweede aanslag op die Glashuis geslaag het. En stellig ook vir Jeppe van Heerden. Met 'n merkbare teleurstelling in sy stem het hy gesê: “Well, they say a change is as good as a holiday."
Dit was inderdaad 'n almintige "change". Die hele ou bewind met die uitsondering van die man wat deur die Le Roux-mense “aangeneem" is om uit die binnekringe te help, is uitgestem.
Sigbaar bewoë, en met 'n bewende stem, het die “oubaas” van die Glashuis, die uitslag van die stemming voorgelees.
Dit was die toppunt van die doeltreffendste sport-opstand wat nog in Suid-Afrika beleef is. Die heerser van Ellispark was uiteindelik verslaan.
In 'n kort bedanking aan sy ondersteuners het mnr. Le Roux sy later bekende en omstrede gesegde die eerste keer laat hoor:
“You either love us, or you leave us."
Klaarblyklik bedoelende dat die Le Roux-bewind geen teenstand sal duld nie.
Die volgende oggend vroeg het mnr. Le Roux en mnr Smit ‘n draai by die ou Vaderland-kantore in Auckland Park gaan maak waar foto’s van die “nuwe base" van Ellispark geneem is.
“Nou gaan ons die sleutels haal," het mnr. Smit gesê. Daarna is hulle reguit na Ellispark.
Dit het 'n nuwe tydvak in Transvaalse rugby ingelui. Die eerste keer in die geskiedenis van hierdie bond in die Afrikaner se hande.
Oor die Le Roux-bewind in Transvaal se optredes kan daar stellig meningsverskil bestaan. Maar oor een saak hoef daar nie onduidelikheid te wees nie. Dit is dat die Afrikaner en Afrikaans sedert daardie geskiedkundige oorname van 1965 op Ellispark tot hul reg gekom het.
Die hoofkwartier van een van die land se voorste sportliggame het voortaan ook die tuiste van die Afrikaner van die Rand geword.