Gert Kotzé
Lees reeks by Sport en politiek
SPORT EN POLITIEK (3)
(As hierdie weergawe totaal die waarheid is, dan is dit dalk tyd om weer so ‘n revolusie te reël...)
Die besluit van die Smuts-regering om op 4 September, 1939, oorlog teen Duitsland te verklaar het die skerp en bitter twiste in die Suid-Afrikaanse politiek tot gevolg gehad. Die twis sou mettertyd na die terrein van sport oorwaai.
Die nasionale sportheld, Johannes van der Walt, se politieke bedrywighede en sy dood wat deur die optredes van die Smuts-mense veroorsaak is, het die Afrikaner-gemoedere help opkook.
Afrikaners wat die oorlogsbeleid nie goedgesind was nie, het al gou bykomende rede gehad om in opstand te kom. Want verskeie sportbase, met 'n paar rugbybonde aan die voorpunt, het hul simpatie met die oorlogspoging nie weggesteek nie.
Twee van die bekendste rugbybonde, Transvaal en die Westelike Provinsie (ook die Oostelike Provinsie en Griekwaland-Wes het hulle later hierby aangesluit) en het besluit dat daar by sekere wedstryde fondse ten bate van die oorlog ingesamel moet word.
Dit het die Afrikaner-sportlui se bloed laat kook.
Daar is gesê dat sport, wat tot op daardie tydstip veronderstel was om los te staan van die oorlogspoging, vir politieke doeleindes aangewend is.Daar was aanvanklik nie veel wat die Afrikaners aan die saak kon doen nie, behalwe dat hulle hul misnoeë oor die besluite van die betrokke rugbybonde duidelik te kenne gegee het.
Die Afrikaners het hulle in die posisie bevind dat hulle feitlik geen seggenskap in die bestuur van sport gehad het nie. Die Engelssprekendes en die hanskakies (Afrikaanssprekendes wat die oorlogspoging goedgesind was) was aan die bewind. Hulle besluite was die wet. En hulle het op hul beurt die Afrikaners as verraaiers beskou.
Die eerste sport-politieke botsing aan die Rand het plaasgevind toe klomp Afrikaners besluit het om die werklike gesindheid van die rugybase daar te toets.
Die Reddingsdaadbond, 'n organisasie wat destyds in die lewe geroep is om onder meer die nood van die verarmde Afrikaners in die stede te verlig, het besluit dat 'n rugbywedstryd gereël moet word om fondse ten bate van die armsorg en die SA Vroue-federasie in te samel.
Die plan was eers om so 'n wedstryd in die Wembley-stadion van Johannesburg te probeer reël. Dit was dieselfde stadion waarin honde-wedrenne in die vooroorlogse jare, en selfs later, sulke groot aftrek gekry het.
Mnr. Reg Haswell, 'n man wat later vir hom groot aansien verwek het as boksbestuurder, afrigter en promotor, was toe bestuurder van die Wembley-kompleks. Toe hy verneem dat die Reddingsdaadbond die wedstryd wou reël, het hy die aansoekers as't ware daar weggejaag.
Die Transvaalse Rugbybond is toe genader met die oog daarop om die wedstryd op Ellispark te laat plaasvind. Daar was heftige teenkanting.
Verskeie bestuurslede van die bond het gesê die Reddingsdaadbond is 'n politieke organisasie. Een van die grootste beswaarmakers was wyle Abe Hofmeyr, 'n bekende toetsskeidsregter en ‘n nog bekender politieke figuur van die oorlogsjare, “Slim Jannie Hofmeyr”.
Maar die manne van die Reddingsdaadbond wou nie tou opgou nie. Hulle het hul versoek daarna aan die Suid-Afrikaanse Rugbyraad gerig. Dié het sy toestemming gegee en die saak is na Transvaal verwys.
Transvaal keur die aansoek na 'n lang beraadslaging goed, maar dit was nog nie die einde van die politieke skaakspel nie.
Johannesburg se stadsraad, wat toe nog 'n finale seggenskap oor die aanwending van Ellispark se rugbyveld gehad het, beslit toe dat die wedstryd nie kan plaasvind nie, omdat daar volgens die raadslede politieke motiewe agter die aansoek was.
Jannie Fourie, destydse sportredakteur van Die Transvaler het in sy berigte sterk te velde getrek teen die raadsbesluit. En terselfdertyd het die Rand Daily Mail kwaai standpunt teen die speel van die wedstryd ingeneem.
Ná nog vertoë is uiteindelik toestemming tot die speel van die wedstryd verleen .. . op die uitdruklike voorwaarde dat die geld wat ingesamel word net vir Armsorg en die SA Vrouefederasie se fondse aangewend mag word.
Die ander voorwaarde was dat die spanne in truie smoes speel wat spesiaal vir die geleentheid deur die Reddingsdaadbond gemaak moes laat word. Dit was stellig om die skyn van die amptelikheid van die geleentheid te verwyder.
Terloops, die briewewisseling van die kant van die Transvaalse Rugbybond was deurgaans in Engels.
‘n Span van die Pretoria-klub het uiteindelik teen 'n Randse vyftiental gespeel. Maar as gevolg van al die swak publisiteit en die politieke twiste daaromheen, het so min toeskouers by die wedstryd opgedaag dat die hele plan op 'n geldelike mislukking uitgeloop het.
Dié teleurstelling, en die latere besluit van die Transvaalse Rugbybond om wedstryde ten bate van die oorlogsfondse te reël, het die Transvaalse Afrikaners se woede net verder aangeblaas.
Willem Stork, 'n bekende in Transvaalse rugby destyds, en 'n geskiedenis-onderwyser aan die Hoërskool Helpmekaar, het besluit dat iets aan die saak gedoen moet word.
By geleentheid het hy en dr. H.F. Verwoerd, toenmalige hoofredakteur van Die Transvaler, oor die rugbywedstryde ten bate van oorlogsfondse gesels. Mnr. Stork het hom gegroet met hierdie woorde: “Gee ‘n jaar of twee kans en ek maak die spul reg."
Dit was die begin van een van die grootste ondergrondse opstandbewegings in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse sport. Dit sou ongeveer twee jaar later op 'n hofgeding uitloop waarin die ganse poging onverwags 'n nekslag gekry het. Stork het sy voornemens om die “Engelse" bewind in Transvaalse rugby tot 'n val te bring, met sy skoolhoof, mnr. Oubaas Brink, gaan bespreek. Daar was dadelik eensgesindheid tussen die twee. Stork het toestemming ontvang om dadelik weg te spring en as dit nodig sou wees so af en toe “vakansie" te neem ook. Daar is besluit om 'n ondergrondse organisasie op gang te sit. Met oog daarop het Stork vir hom 'n paar boeke, selfs een uit Rusland, aangeskaf waarin metodes om so 'n “revolusie” te organiseer, uiteen gesit is. Nadat hy die saak lank bestudeer het, het hy besluit om 'n bepaalde aantal klubs van binne te laat saboteer. Daarvoor moes hy eers die konstitusie van sowat 65 klubs en sub-unies van die Transvaalse Rugbybond, en ook die grondwet van die bond self, in die hande kry. Uit 'n verdere studie van elke grondwet sou hy dan agterkom waar die gapings is en hoe hy presies te werk moet gaan.
Stork het vir hom 'n nuwe motor aangeskaf vir al die reiswerk, want jurisdiksie van die Transvaalse bond het destyds van Volksrust in dis Ooste tot by Vensterspos in die Weste gestrek.
Daar het baie dae en baie nagte, en ook talle teleurstellings, op hom gewag.
Die konstitusies van die verskillende klubs het hy weldra in die hande gekry en begin bestudeer. Maar nêrens kon hy 'n afskrif van die Transvaalse Rugbybond se konstitusie in die hande kry nie.
Stork moes 'n plan beraam.
'n Goeie Engelse vriend by die Pirates-klub waar hy 'n spelende lid was sou hom help. Die man was terloops ook 'n grootkop by die Oppenheimer-organisasie en ook 'n verteenwoordiger van Pirates by die Transvaalse Rugbybond.
“Steel die grondwet vir my. Ek wil net iets daarin naslaan. Jy kan dit binne 24 uur weer terugneem," het Stork aan hom gevra.
Dit is gedoen en Stork se vrou, Johanna, 'n bekwame tikster, het oornag sewe afskrifte van die Transvaalse grondwet gemaak.
Gewapen met al die inligting waarna hy gesoek het, het Stork met ‘n ondergrondse organisasie begin.
“Goedgesinde konneksies" is by die verskillende klubs bewerkstellig. Hulle is ten eerste versoek om die grootste geheimhouding oor die uiteindelike planne van die beweging te bewaar. En ten tweede dat hullemoet begin organiseer, sodat die bestuur van die klub by die volgende jaarvergadering uitgesmyt kan word.
Die organisasie het feitlik 'n hele jaar geduur. En vroeg in die nuwe jaar van 1944 is die eerste vrugte gepluk. Toe die Johannesburgse Munisipaliteit sy jaarvergadering hou, is die ou Sap-bestuur man en muis uitgesmyt.
Ander soortgelyke suksesse het gevolg. Dis toe dat die bestuur van die Transvaalse bond en die sportredakteur van die Rand Daily Mail, ene Ted Nelson, 'n sterk oorlogsgesinde, begin lont ruik het.
Nelson het in sy koerant gevra wat aangaan dat die klubs se besture so links en regs getuimel het.
By die bekende mynklub, ERPM op Boksburg, wou Willem Stork sy organiseerders probeer beïnvloed om nie die hele ou bestuur uit te smyt nie. “Hou so 'n paar van die Engelse dan sal hulle nie verder onraad merk nie," het hy gevra.
Dog die koppe was reeds getel en op die jaarvergadering is die bekende Springbok van die dertigerjare, Jack Kipling, later ook nasionale keurder, uit die bestuur gesmyt.
In sy organisasie het Stork vir hom verskeie handlangers uitgekies wat later bekende figure in die Afrikaner-geledere sou word. So was die jong mediese student, Carl de Wet, later Minister van Gesondheid, en SA Ambassadeur in Londen, die organisasie se man by Wits. Twee bekendes in onderwyskringe, mnr. P.A.M. Brink van die Oos-Rand en mnr. Martin Brink, hoof van die Hoërskool Monument op Krugersdorp, het ook gehelp.
Intussen het die “Stork-revolusie" seepglad verloop. Totdat dit uit eie geledere verraai is.
'n Provinsiale speler van daardie tyd, en ook 'n bekende onderwyser aan 'n ewe bekende skool, het die hele plan aan mnr Abe Hofmeyr gaan uitlap.
Die kat was toe behoorlik in die duiwehok.
Daar is besluit dat drie lede van die organisasie die “verraaier” moet gaan opsoek en met hom moet “ afreken". Hulle het na sy huis gegaan en hom gevra waarom hy die daad gedoen het.
Die groot man het soos 'n kind begin huil en om vergifnis gesmeek. Daar is besluit om hom te los en met die organisasie voort te gaan, kom wat wil.
Die enigste “gemerkte" klub wat nog gerysmier moes word om die benodigde aantal stemme te kon verkry, was die bekende Simmer en Jack.
Wetende wat op koms was, het dié vooraanstaande mynklub sy jaarvergadering twee weke lank uitgestel, sodat 'n teenorganisasie op gang gesit kon word.
Maar dit sou ook aan Willem Stork die geleentheid bied om te probeer om tog wel daardie een stem in die bestuur te kry wat nodig was vir 'n nuwe bewind in Transvaal.
Inmiddels het die opstandelinge 'n organisasie gestig wat met die insameling van fondse moes help. Die organisasie is as Beesblaasbond gedoop. Koepons waarmee bydraes gewerf kon word is aan goedgesindes in alle dele van die land gestuur.
Maar daar was nog daardie een stem nodig by Simmer en Jack. Ben du Toit, wat lid was van Phil Nel se triomfantlike Springbokspan van 1937 in Australië en Nieu-Seeland, sou tot Stork se redding kom.
'n Studie van Simmer se grondwet het aan die lig gebring dat die myn se ontspanningsklub die reg gehad het om 'n lid in die rugby-bestuur te benoem. Die ontspanningsklub was op daardie tydstip sonder verteenwoordiging en dis juis hier dat die groot kans gewag het.
Ben du Toit het Stork een aand uit Pretoria geskakel en hom 'n plan gegee.
Du Toit se broer was 'n myn-amptenaar en gewese voorsitter van die ontspanningsklub.
Hy was die ideale man om die bestuur mee om die bos te lei. Hy was met 'n Engelssprekende vrou getroud en het meestal self Engels gepraat.
Stork moes hom gaan vra of hy kan help.
Dit was die opstandsplan se finale skakel. As hierdie noodplan nie geslaag het nie, sou die werk van bykans twee jaar tot mislukking gedoem wees.
Stork het weer in sy nou tam geryde motor geklim en koers gevat na Du Toit se woning aan die Oos-Rand.
Hy het hom vertel van die versoek wat hy (Stork) van sy Springbokbroer uit Pretoria ontvang het.
Sou hy hom nie maar weer asseblief as voorsitter van die ontspanningsklub beskikbaar stel nie?
Die man het, heeltemal begryplik, oor sy werk by die myn getwyfel as sy bewegings aan die lig sou kom. Stork het hom kans gegee om tot die volgende aand daaroor na te dink. Hy wat Stork is sou drie keer aan Du Toit se voordeur klop en buite wag.
Du Toit sou die teken ken en dadelik self voordeur toe stap. As hy sy kop knik, sou Stork weet dat die plan geslaag het.
Dit was inderdaad die volgende aand 'n bevestigende antwoord wat Stork ontvang het, natuurlik tot sy grootste blydskap.
Dit was net daardie een stem van Simmer en Jack wat nog gewerf moes word.
Omdat daar teen hierdie tyd 'n openlike konfrontasie tussen Afrikaner en “Rooinek" was, het Simmer se jaarvergadering in elke opsig groot aandag geniet. Ted Nelson van die Rand Daily Mail het die opstandelinge as The South African League of Hitler's Pals gedoop. Hy het teen nog 'n “oorname" by Simmer gewaarsku.
Gevoelens het hoog geloop. Daarom was dit ook nie verbasend nie dat die jaarvergadering van Simmer deur bykans 3 000 belangstellendes bygewoon is . . . die grootste enkele vergadering van ‘n rugbyklub vir baie jare.
Omdat Stork 'n onderwyser by Helpmekaar was, en omdat hy toe reeds as die voorbok van die opstandsbeweging bekend was, het ‘n klompie st. 10-seuns van die skool ook die vergadering aan Rand gaan bywoon. Onder hulle was 'n eerstespan-speler, die jonge Jannie le Roux.
Nooit sou hy, of enige van die ander 3 000 teenwoordiges kon droom dat dieselfde Jannie le Roux 'n stuk of 25 jaar later gelyke organisasie teen dieselfde Transvaalse bewind op tou sou sit .. en dat hy die volgende voorsitter van die bond sou word
Dit was 'n stormagtige vergadering. Die enkelinge wat dit durf waag het om Afrikaans te praat, is met mening stil gemaak. Af en toe is ook vuis geslaan.
Die bestuur is herkies soos wat die ou bewind wou gehad het. Maar daar was ook 'n belangrike nuweling, ene Du Toit, die Engelssprekende voorsitter van die Ontspanningsklub. En hy is ook as Simmer en Jack se drie afgevaardigdes na die jaarvergadering gekies. Net soos die Stork-mense dit wou gehad het.
Die Stork-revolusie het so te sê klaar geslaag. Want die getelde stemme wat nodig was vir 'n oorname, was nou almaldaar, Du Toit inkluis.
Drie weke voor die jaarvergadering moes die benoemings ingestuur word. Onder meer het die Boere Beesblaasbond vir mnr. Oubaas Brink van Helpmekaar as voorsitter teen mnr. Sanderson benoem. Ander bekendes wat vir die bestuur benoem was, is mnr. P.A.M. Brink, mnr. Martin Brink en 'n jong Afrikaanse prokureur wat later 'n rol in Transvaalse rugby sou speel, mnr. Dan de Villiers.
Maar die Sanderson-bewind het intussen sy belangrike teenskuif beplan. Daarop was die Stork-organisasie nie voorbereid nie.
Die klub New State Areas, wat twee jaar vantevore geskors is gevolg van sy spelers se vuil spel (hulle was bekend as die Lily Whites) sou nader geroep word.
Dis toe drie verteenwoordigers van die geskorste klub die opwagting maak by die jaarvergadering in die destydse ou Hotel Carlton, dat Willem Stork en sy helpers besef het hulle het die oornamestryd verloor.
Dit was 'n oomblik van groot verleentheid en vernedering. En ook ‘n oomblik van ontsettende woede oor die slim plan waarmee bewind die opstandelinge getroef het.
Die volgende dag is die saak met bevriende regsmanne onder andere mnre. Dan de Villiers, Joe Ludorf, Gert Coetzee (hulle sou later regters word) en Piet Cillie, later Transvaalse Regter-President, bespreek.
Daar is besluit dat Diggers, die vooraanstaande Afrikaanse Klub aan die Rand, 'n petisie tot die Hooggeregshof sou rig waarin gevra word dat die verkiesing van die bestuur op die jaarvergader geldig verklaar moet word.
Na maande se voorbereiding en na verskeie tegniese haakplekke en oponthoude, het 'n advokaat van lerse afkoms, ene Mulligan, die petisie voor regter Ramsbottom in Pretoria laat dien.
Die regter het die petisie ongeldig verklaar en die aansoek met koste verwerp.
Binne twee dae het die Boere Beesblaasbond sy eerste rekening ontvang. Hy moes 650 pond betaal, maar het slegs 150 pond in die bank gehad.
Mnr. Stork en Oubaas Brink het besluit om by 'n vooraanstaande Afrikaner-spesialis, dr.Frikkie Kritzinger, te gaan hulp soek. Hy sou gevra word om die geld voor te skiet en dan later terugbetaal word.
Dr. Kritzinger het die hele 650 pond betaal. Die res van die skuld moes Willem Stork en sy helpers deur middel van die Boere Beesblaasbond insamel. Dit het tien jaar geduur.
As erkenning vir sy rol in die opstandsbeweging, is Willem Stork later tot lewenslange ere-lid van die Diggersklub gekies; 'n sonderlinge eer, omdat hy nooit vir die klub rugby gespeel of in enige van sy besture gedien het nie.