Lees reeks by Metale in die platinumgroep
Die vernaamste gebruike van silwer is in juweliersware, egte en geëlektroplateerde silwerware, munte, fotografiese materiaal en op verskeie gebiede in die nywerheid, soos elektriese toestelle, die elektronika, medisyne, lugversorging en verkoeling, die lugvaart, ens., waar aansienlike en toenemende hoeveelhede gebruik word. Die produksie van silwer is in die afgelope dekades oortref deur die groeiende vraag en dit het daartoe gelei dat steeds klener hoeveelhede vir munte gebruik word en meer navorsing gedoen is vir plaasvervangers soos silwerlose elektrofotografiese prosesse en die gebruik van tantaal in plaas van silwer in die snykunde.
Die silwer wat in Suid-Afrika gewin word, is meestal dié wat vervat is in die ongemunte goud wat deur die goudmyne in Transvaal en die Vrystaat geproduseer word. Die verhouding van silwer tot goud wissel aansienlik in verskillende dele van die Witwatersrandse goudveld, in hierdie goudveld se verlengings en in dieselfde myn, maar is gemiddeld ongeveer 1:10. Afgesien van elektrum kom silwer op plekke ook in sy gedeë vorm voor.
Erts van die Serie Swartrif is ryker aan silwer – 13 tot 15 persent – as die onderlêende riwwe van die Sisteem Witwatersrand. Elders in die Serie Swartrif op Batavia, distrik Rustenburg, is die AG/AU-verhouding na bewering 1:3.1. Gouderts uit die Sabie-Pelgrimsrusgebied, het 'n wisselende silwerinhoud maar sommige riwwe is besonder ryk aan silwer; geoksideerde erts van Bourks Luck bevat byna gelyke hoeveelhede AG en Au. Die verhouding skyn konstant te bly vir enige bepaalde ertsliggaam. In die Barbertonse Bergland wissel die verhouding van 1:20 tot 1:3, met 'n gemiddelde van 1:10.
Goud wat besonder ryk aan silwer is, het gekom uit Rosetta-, Lily-, Independent-, en Verditemyn. Erts uit Rosettamyn was op plekke ryker aan silwer as aan goud. Die New Consort-, Sheba-, Worcester-, Agnes-, Fairview-, Three Sisters-, en Rosettamyn, het egter ongeveer twee derdes van die totale silwerproduksie uit hierdie gebied gelewer, wat ongeveer op 9 000kg te staan gekom het.
Op Bekkerskloof, ongeveer 35 km oos-suidoos van Cradock, word goud-, silwer- en kopermineralisasie in twee kwartslense in 'n dik dolerietgang aangetref. Die silwerinhoud in een ertsspleet wissel van 870 g/t tot 1 050 g/t en in die ander van 110 g/t tot 160 g/t.
Nog 'n voorkoms is beskryf van silwer wat 131 g/t geëssaieer het en wat geassosieer is met goud en koper in 'n gang op Gevonden, distrik Waterval Boven.
Silwer kom ook in wisselende verhoudings voor in die lood- en koperertse wat in verskillende dele van die land aangetref word. In die loodafsettings waar galeniet die vernaamste ertsmineraal is, word silwer byna altyd in die vorm van baie klein argentietinsluitels aangetref.