TRANSGENDER-ATLETE WORD VROUE-SPORT VERBIED

Lord Sebastian Coe; jou naam moet ons onthou!

Dié man, president van Wêreldatletiek, het besluit dat geen transgender-mense vanaf 1 April meer aan vrouesportkompetisies kan deelneem nie. Geen atleet wat deur manlike puberteit gegaan het, sal toegelaat word om aan vroue se baan- en velditems deel te neem nie, ongeag hul huidige hormonale vlakke. Alle transgender-atlete wat deur manlike puberteit is, is uitgesluit van vroulike wêreldranglyskompetisies ná 31 Maart vanjaar. Coe het aangevoer dat "testosteroon die sleutelbepaler in prestasie is" terwyl hy belowe het om "die integriteit en toekoms van vrouesport te beskerm."

Trans-deelname aan vrouesport bly 'n omstrede onderwerp, veral vanweë die prestasies deur sommige trans-atlete soos die Amerikaanse swemmer Lia Thomas en die Nieu-Seelandse gewigopteller Laurel Hubbard, wat albei in hul onderskeie sportsoorte uitgeblink het.

Coe sê dat die Raad samesprekings gevoer het met belanghebbendes, insluitend 40 nasionale federasies, die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en transgroepe oor hoe om transgender-atlete in te sluit. Die meerderheid het saamgestem dat trans-atlete nie aan vroue-items moet deelneem nie.

"Daar is onvoldoende bewyse dat transvroue nie voordeel bo biologiese vroue het nie en ons wil meer bewyse hê dat hulle nie fisiek bevoordeel is nie voordat hulle insluiting in die vroulike kategorie oorweeg sal word," het Coe gesê.

"Ons bly van mening dat ons regverdigheid vir vroulike atlete bo alle ander oorwegings moet handhaaf," het hy bygevoeg.

Verskeie atletiekverenigings het verskillende standpunte oor die kwessie ingeneem. In 2021 het die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) gesê daar moet geen vooroordeel teen transgender-vroue vir deelname aan kompetisies wees nie. Alhoewel hierdie uitlating deur transgender- en gelykheidsvoorstanders geprys is, kry die IOK ook voortdurende kritiek en herhaalde oproepe om meer spesifieke vereistes vir sommige sportsoorte uit te reik.

In 2022 het die internasionale swembeheerliggaam World Aquatics (voorheen FINA) transgender-deelname aan vroue-byeenkomste verbied. Dit het daartoe gelei dat 'n nuwe "oop" kategorie geskep is. Die Internasionale Rugbyliga het later soortgelyke reëls aanvaar.

Ja, ons kan seker opgewonde wees waar daar ‘n klein bietjie regverdigheid plaasvind, maar dit sal ook nie lank duur nie voor die druk te groot word en daar weer toegegee sal word dat transgender-persone aan vrouesport mag deelneem.