Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die eenvoud van die Bybelse evangelie is op elke mens van toepassing: Wie glo sal gered word en hemel toe gaan. Wie nie glo nie, sal veroordeel word en hel toe gaan! Dis werklik presies so eenvoudig.
BROKKIES UIT DIE BOEK PANIEKLAND (7)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Niks beweeg nie, behalwe die wind wat opgesteek het. Eers net ‘n skraal, mislike luggie wat trek, maar later het die wolke na die suide opgesteek en ‘n ligte, maar koue misreën sak uit. Uiteindelik trek dit ‘n gordyn oor alles en dit het natuurlik voor en nadele. Die voordeel is dat Demas nie maklik gesien kan word nie, maar die nadeel is dat hy ook nie die ander kan sien nie. Die vogtigheid maak ook die blare en takkies nat, sodat dit meer buigbaar en minder hoorbaar is, as iemand daarop sal loop.
Hier waar hy driekwartpad onder ‘n struik ingekruip het, met die seiltjie onder en half oor hom, is hy redelik beskut, nie net teen die reën nie, maar ook teen aanvallers.
Hy voel al van gister af, toe hy die laaste keer in die geveg was,‘n brandgevoel aan sy regterbeen en as hy sy broek probeer wegtrek daarvan, met die gedagte dat dit dalk ‘n doring is, voel hy dis krakerig en nat. ‘n Lang, rooi streep is teen sy bruin broek. Na aanvanklike huiwering maak hy sy gordel los en trek die broek uit. Hy gee ‘n vinnige sug van pyn as die broek half vas sit teen sy been, en hy vou dit versigtig weg van sy vel af. Daar is twee gaatjies in sy broekspyp, sowat sestig millimeter uit mekaar. ‘n Amper ewe lang bloederige sny is teen sy been, net veldiep, maar pynlik, waar as hy nou die plukkie aan sy broek onthou; ‘n koeël deur moes gaan. Sê nou net… maar die “sê nou nets” van die lewe is nie iets om jou oor te verknies nie. Hy smeer ‘n bietjie van die anti-septiese salf aan wat die tannie vir hom gegee het, draai ‘n flentertjie verband daarom en trek sy broek weer aan. Die blote feit van weer geklee is, maak ‘n groot verskil aan sy gemoedstoestand.
Op pad hierheen, na boontoe, het hy van koers afgewyk as hy die omgewing herken waar hy laas amper doodgeskiet is. Aanvanklik het hy verbygegaan, want die berg lyk anders in die mistigheid, maar uiteindelik een van die liggame gekry, die een waarin hy sy mes gelaat het. Na ‘n bietjie huiwering het hy moed bymekaar geskraap en, ten spyte van die reuk wat al reeds begin hang om die man, sy mes uitgetrek. Onmiddellik het dit hom beter laat voel, nie net omdat hy nog ‘n wapen het nie, maar dis asof hy ‘n ou vriend terug het. Na twee minute se gesoek, kry hy ook die Webley.
Die wolk sak oor die bokant van die berg en maak ‘n digte mis. Demas leer gou dat ‘n mens maklik hierin gedisoriënteer kan word, waar jy goed sien wat jy dink beweeg, maar uiteindelik net die mis is wat digter word en die volgende oomblik ligter.
Na ‘n uur van konsentrasie brand sy oë en hy besluit om dit net vir ‘n minuut of wat toe te maak.
*
“Waarom staan Pa net so?”
“Hy het dit ook gedoen, jare gelede, toe hy van onluste af gekom het.”
Die ou man het ‘n dik baadjie aangetrek teen die koue wat van die suide af gekom het. Eers was dit net ‘n ligte windjie, maar later het die wolke oor die berg gespoel en daarmee saam koue gebring, die eerste werklike koue front van die winter. Hier in en naby die berg is die weer anders as na die noorde of suide. Hier is ‘n samevloeing van die lug vanaf die Drakensberge wat min of meer noord-suid loop en die Soutpansberge wat duidelik oos-wes strek. Dit veroorsaak dat, as daar nie eksterne faktore bykom nie, soos El-Nino, dat die berg kan toetrek vir ‘n sogenaamde “geelperske-reën”, wat soms weke kan aanhou.
In die somermaande is dit dan soel en bedompig, maar in die winter is dit koud, selfs in ag genome dat dit Bosveld is. Daar word baie keer gesê dat die mense wat in Messina bly, die meeste baadjies en truie het, want dis somer as jy daar ry en winter as jy hier aankom, al is dit net 90 kilometer van mekaar af.
Hy het ook ‘n ou bruindrag broek en ‘n paar stewels aan. In die middel van sy regter bo-been, halfpad tussen sy heup en knie, hang ‘n swart nylon skede, met ‘n Glock 21 pistool in .45 ACP kaliber. Aan sy linkerkant is skedes met drie gelaaide magasyne. Dis nie om soos ‘n cowboy te lyk nie, maar dis baie makliker om die wapen vinnig te trek as dit daar sit.
Hy staan regop, soos ‘n ou soldaat, en kyk vir ure lank buitentoe. Wat nou gebeur is waaroor hy al so lankal waarsku. Baie mense het hom bloot afgelag, dit afgeskryf as paranoia en selfs wensdenkery. Die feit is dat dit is waarvoor hy bang was en soveel jare geveg het dat dit nie moes gebeur nie.
Hy het dit meer as vyf en dertig jaar gelede gesien in onlusgebiede, waar oënskynlik vredeliewende mense binne minute opgesweep kan word tot ‘n woedende, siedende storm wat alles vernietig en doodmaak. Toe was die SAP en die SAW in beheer, met goed-opgeleide polisielede, toegewyd en kundig.
Die soldate het bestaan uit bekwame permanente-diens senior leiers en gedissiplineerde, wakker jong dienspligtroepe, junior onder-offisiere en offisiere. Hulle was behendig in wapenhantering en het die rugsteun van Buffel en Casspir gepantserde voertuie gehad.
Nou was die weermag en polisie bloot werkgewers wat mense in diens geneem het wat nie in ander staatsdiensdepartemente aangewend kon word nie – natuurlik met uitsondering – en glad nie in die privaatsektor nie.
Ongelukkig is hierdie “uitsonderings” oorwegend naby aftree ouderdom en word oordonder deur kader-aanstellings in hoë poste. Hierdie manne en vroue, wat nie deur die normale range gegaan het nie, is feitlik deur die bank politieke aanstellings en, behalwe dat hulle eintlik niks konstruktiefs kan bydra nie, is die enorme pakkette waamee die poste gepaard gaan, sodanig dat beide die uniformmagte die grootste persentasie van hulle begroting daaraan moet spandeer.
Dit is die rede, byvoorbeeld, dat 4000 polisievoertuie nie herstel kan word nie, met reparasies wat wissel van ‘n papwiel tot ‘n stukkende ratkas of oorverhitte enjin. Voor die Groot Ineenstorting was daar 400 generaals in die weermag, wat beteken het dat daar ‘n generaal was vir elke 185 ander range, vanaf skutter tot kolonel, indien ‘n mens in ag sou neem dat ‘n brigadier nou ook ‘n generaal is.
Die SAPD het onder die leiding van die kommisaris (die vorige kommissarisse is almal afgedank hetsy weens uiters swak prestasie, korrupsie of summiere misdaad) en minister, alle geloofwaardigheid verloor. Inderwaarheid was die laaste Minister van Polisie voorheen afgedank as kommissaris, as gevolg van die feit dat hy by korrupsie betrokke was. In enige ander land sou dit hoogs onwaarskynlik wees en in Westerse lande onmoontlik. Hy sou eerder in die tronk geland het as in die kabinet.
Dit alles beteken dat, soos in die geval met die Mosambiekse Weermag se konfrontasie met die rebelle in Capo Delgado, toe daar op hulle teruggeskiet word, hulle alles net so gelos het, gevlug en uiteindelik gedros het.
Dit laat die gewone burger sonder enigiemand wat hulle kan inroep as daar misdaad, onrus of geweld is. Wat die ou man, sy mense en die publiek dwarsoor die land ervaar, is die uiteinde van ‘n mislukte staat, wanfunksionele regering, dekades se blatante korrupsie en onbekwame leiers.
Daar was ‘n hele aantal gebeure die afgelope tyd wat die lorrie byna oor die afgrond gestoot het. Hy dink aan die skeuring binne die regerende party, waar een faksie die president gesteun het en in ‘n mate wet en orde, en die ander faksie die korruptes wat hulle eie opgesweep het om uit die tronk te bly.
Daarby het die hele uitbetaling van SASSA-toelae ‘n berg strooi geword en ten einde laaste het een halmpie die kameel se rug gebreek, die hele stelsel het oornag tot stilstand geruk, 18 miljoen mense met hulle afhanklikes het sonder inkomste gesit en uiteraard sonder kos. Hierdie mense het die logiese gedoen en begin plunder. Plundering het tot roof en geweld gelei en uiteindelik tot nasionale anargie.
Eskom het deur rukke en stote gegaan; vanaf die Guptas en hulle aanhangers wat die entiteit leeg gesteel het, die Medupi en Kusile kragstasies wat meer as 500 miljard rand gekos het en verkeerd ontwerp is, die skade by Koeberg weens swak onderhoud – ten spyte van protesteringe tot die teendeel – internasionaal-beheerde mynmaatskappye wat weens nie-betaling onttrek het, die verouderde kragstasies by Middelburg en Grootvlei wat reeds voorheen buite werking gestel is en later weer aangeskakel is, swak middelbestuur, die afwesigheid van kundige ingenieurs, en les bes, die 30% slaagsyfer wat sy tol geëis het.
Suid–Afrika kon weens enige van hierdie gebeure wanfunksioneel geraak het en iewers in die toekoms sal geskiedkundiges argumenteer oor watter een van die faktore uiteindelik die hele land in ‘n gemors gedompel het.
*
‘n Straaltjie yskoue water drup van ‘n takkie af en rol oor Demas se voorkop, en oor sy oog. Hy skrik wakker en vir ‘n verdwaasde oomblik weet hy nie waar hy is, wat hy daar doen en waarom nie. Hoe kon hy so onverskillig wees om aan die slaap te raak? Onwillekeurig kruip sy hand na die R1 se greep toe, maar hy sien ten minste vier, nee vyf, onduidelike figure wat stadig deur die mis aankom.
Hy los die geweer en haal die ou rewolwer versigtig en met stadige, geluidlose bewegings, uit die skede langs sy sy. Anders as die meeste moderne rewolwers, wat twee, soms drie duidelike, klik-geluide maak as jy hom oorhaal, het hierdie ou .455 net een. Nogtans is dit duidelik genoeg dat een van die manne na hom toe draai en ‘n uitroep van verbasing gee.
Die groot visiere van die rewolwer, ‘n dik gespitste voorste een en ‘n diep “V” aan die agterkant, rus vir ‘n oomblik op die man, nie meer as dertien of veertien meter weg nie. Selfs in hierdie baie swak lig is dit haas onmoontlik om mis te skiet.
Die diep knal van die swaar, stadige rondte bulder deur die mistigheid en sonder om te sien hoeveel skade die skoot aangerig het, wissel hy van teiken. Ten spyte van die kort afstand is hy oorhaastig en natuurlik is die swaar, ver trek van die sneller op dubbel-aksie nie goed vir akkuraatheid net en hy moet ‘n tweede skoot afvuur, voordat hy seker is die man gaan val. Hy is onseker van die vierde, vyfde en sesde skote.
Hy laat val die rewolwer, gryp die R1, knip die veiligheidsknip af en druk in sy haas dit te ver. Die swaarkaliber aanvalsgeweer se loop klim teen die terugskop op en, alhoewel die eerste en miskien die tweede skote op teiken kon wees, is die ander vyf hoog deur die bome se takke.
Die lug is skielik gevul deur die trompflitse, knalle en eggo’s van ‘n hele aantal gewere wat op vol-outomaties afgevuur word. Die geluk by die ongeluk met die R1 is dat die manne hoog skiet, na waar hulle die laaste flitse van die R1 se skote gesien het, bo-oor Demas. Van die struik waaronder hy lê, se takkies val op en om hom, maar nie een skoot tref hom nie.
Eensklaps is alles stil, behalwe die drup van die reën, die kreun van iemand na sy linkerkant en die onstuimige gebons van sy eie hart.