Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde reken die kwaad nie toe nie...
BROKKIES UIT DIE BOEK: PANIEKLAND (3)
083 444 7672)
Demas het op sy rug aan die slaap geraak, soos dit op sy gemaklikste is met die vel om sy kop. Hy begin saggies te snork, soos sy kleintongetjie afsak in sy keelholte en sy tong agter teen sy verhemelte. Nie hard nie, net liggies, maar hoorbaar in die diep donker stilte van die berg, soos dit gebeur na ‘n reën.
Die hele berg is in spookagtige mistigheid gehul, met net so af en toe as die wind dit reg druk, en ‘n wolkie wat wegskuif om ‘n ewe newelagtige volmaan te toon.
Vanaand kom die dooie mense by hom spook. Eers Melanie, die vrou by ontvangs, daarna sien hy die gesigte van die manne wat hy geskiet het en uiteindelik die vrou op die plaas. In sy nagmerrie sien hy hoe sy haar laaste asem uitblaas, haar oë toemaak en sterf. Voor hy kan wegkyk, vlieg haar oë weer oop en as sy praat is daar bloedspatseltjies op sy wang. Hy probeer haar vra wat haar naam is, maar sy antwoord nie, kyk hom net beskuldigend aan.
Dorkas se kaal, skurwe, harde voetsole trap versigtig deur die donker. Elke klip, gladde oppervlak na die reëntjie, die nat grond, alles voel sy. Die dorings dring nie deur die vel nie.
Vir ‘n paar sekondes trek die wolke ver genoeg weg, sodat sy lyk soos ‘n blink, glibberige gees wat deur die woud en berg beweeg. Na ‘n uur word die helling steiler, maar dit pla haar nie. Sy haal nie hard asem van die inspanning nie, haar hartklop steeds egalig en polsslag nie veel hoër as dié van ‘n rustende mens nie. Haar donker oë is in die nag pikswart, maar sien alles wat beweeg en nie beweeg nie. Sy voel sommer aan dat sy nou naby is.
Skielik hoor sy die ligte snork van ‘n mens wat diep en lekker slaap.
Hy weet nie wat hom wakker gemaak het nie. Miskien iets diep in sy onderbewussyn, miskien ‘n oer-oue lewensinstink, miskien die blote feit dat daar nog ‘n mens in sy teenwoordigheid is. Dis een van daardie onverklaarbare goed soos ‘n man wat altyd in die donker loop om te gaan water drink en skielik een nag voel hy moet die lig aanskakel en vind dat ‘n slang in die gang lê.
Skielik is sy blou oë helder en wyd oop. Wat was dit? Hy voel instinktief vir sy wapens en sy hand sluit om die hef van die mes wat hy ‘n paar uur vantevore versigtig skoongemaak het. Hy voel hoe die hare teen sy nek en op sy voorarms regop gaan staan en ‘n rilling teen sy ruggraat afloop. Meteens is daar ‘n skadu tussen hom en die effense maanskyn skuins bontoe.
Dorkas is nie meer Dorkas nie. Sy is nou Nkosana Thandi, die moeder van Chaka. Sy voel die krag van haar gestorwe oumagrootjie se oumagrootjie deur haar are bruis. Dit maak haar vlugvoetig en sterk. Die enigste bietjie vet wat sy aan haar gespierde lyf het is die Vaseline wat sy aangesmeer het.
Sy hoor skielik nie meer die gesnork en harde asemhaling nie, maar dit maak geen verskil nie. Sy weet presies waar die man lê. Sy hou haar linkerhand voor haar, en die regter met die mes teruggetrek, vir ‘n steekhou en dan sny sy wat-ookal se keel. ‘n Hoë gil ontsnap uit haar styfgetrekte lippe.
Twee maande gelede sou Demas nie so vinnig kon opspring nie. Nie net die vet wat hy afgeskud het, die spiere wat sterker en meer soepel geword het en die gewig wat uiteraard minder is nie, maar ook die pure instink van iemand wat die afgelope tyd in die veld leef, laat hom soos ‘n veer regop spring. In sy regterhand hou hy die mes vas en ‘n geluid van pure skok en angs brul diep uit sy buikholte uit.
Wat Dorkas voor haar sien is ‘n harige monster, ‘n tipiese half-mens, half-dier soos ‘n ding wat deur ‘n sangoma voorsien is. Sy sien die mes, en in die half-donker lyk die lang lem soos ‘n steek-assegaai - dieselfde as wat Chaka vir sy impi’s voorsien het.
Die brul uit die ding is onaards en verskriklik om te hoor. Suiwer, onverdunde angs pak haar beet, angs wat onmiddellik in paniek oorgaan. Sy het gekom om ‘n gewone man se keel af te sny, maar in sy plek is hierdie onaantasbare wese – die een of ander van die klomp berggeeste.
Demas gryp instinktief na die hand en arm wat voor hom is, die een wat Dorkas voor haar uithou. Hy gryp haar aan haar pols, maar die glibberigheid is te veel en hy kan haar glad nie vashou nie. In plaas van te steek na die ding voor hom, sny hy van hoog aan sy linkerkant na skuins onder aan die regterkant.
Die punt van die mes sny ‘n lang, maar vlak sny oor Dorkas se bors, maag en selfs tot op haar heup. Sy gil weer, nie van bloedlus nie, maar van pyn en angs, ruk los, laat val die mes en verdwyn in die donker. Sy is nie nou so vlugvoetig nie en val ‘n hele paar maal in haar angstigheid om die berg af te kom, weg van hierdie harige mens-monster.
Demas het te lank gewag en hy het daardeur die groep heeltemal verloor. Die varkvel is baie swaar en, ten spyte van al die voordele wat die ding sal bied, los Demas dit na ‘n ruk in die veld.
Vir meer as ‘n halwe dag loop hy op en af langs die teerpad, op soek na spore. Hy besluit om ‘n sig-sag patroon te volg, met die hoop om enige teken van die mense te kry. Teen laatmiddag is hy by ‘n ou-land, waar daar eens op ‘n tyd avokadobome geplant was, maar dit het een of ander siekte gekry en die boer het dit verwyder, met die beplanning om later makadamianeute te plant en nooit sover gekom het nie.
Hy staan versigtig om die rand van die plek en kyk of hy enige lewe kan sien. Niks. Hy wil ook nie baie tyd mors nie, want as die spore eers oud geword het, sal sy kanse al minder word om hulle op te spoor.
Versigtig begin hy die land deur te loop. Hy wil ook so vinnig moontlik aan die ander kant kom, sodat hy nie gesien kan word nie. Hy is sowat tien meter van die kant af as ‘n harde stem, gewigdraend en duidelik roep:
“Staan waar jy is! Sit jou wapens op die grond neer en kniel voor hulle, hande agter die kop!”
Demas gehoorsaam dadelik.
“Dis goed. Nou die mes ook.”
Hy gehoorsaam weereens.
Tussen die bome deur kom twee volwasse manne en twee kinders, ‘n tienerseun en meisie, aangeloop. Hulle dra hulle wapens met gemak en beslistheid, iets wat net kom uit gewoonte, soos ‘n Grenstroep wat altyd weet waar sy wapen is, en wat hy oral saamsleep soos ‘n slegte gewoonte.
“Jy kan nou maar opstaan. Wie is jy, waar kom jy vandaan en waarheen is jy op pad?”
“My naam is Demas Barth. Ek kom van die dorp af; ek het gevlug, maar nou is ek op die spoor van ‘n klomp inheemse manne en ten minste een vrou. Hulle het ‘n ouerige man en sy vrou daar anderkant vermoor.”
Demas wys met sy hand in die algemene rigting waar dit plaasgevind het.
“Wat is die man en vrou se naam?”
“Ek weet nie. Ek het nie betyds gevra nie.”
“Hoe bedoel jy?”
“Die man was reeds dood en die vrou besig om te sterf. Ek het nie gevra wat haar naam is nie, tot my spyt.”
“Beskryf hulle!”
“Die man was al oud. Seker so in sy laat sewentigs, maar die vrou jonger. So vyf en vyftig of daar rond. Sy was mooi, met blou oë en donker hare, wat begin het om grys te word.”
Die een wat die vrae vra, kyk om na die man aan sy regterkant.
“Klink soos oom Josef en Katrien.”
“Wanneer was dit?” vra hy vir Demas.
“Dag voor eergister.”
“En jy is op hulle spoor? Net jy alleen?”
“Ek het die dame belowe.”
Die groepie staan en brom onderlangs. Een van hulle hou sy pistool dreigend op Demas as hy nader loop en die wapens optel.
“Kom saam – sjoe, maar jy stink!”
Demas volg hulle deur die boord en verby ‘n behoorlike stoor aan sy linkerkant en ‘n waenhuis aan sy regterkant. Die grasperk rondom die huis is netjies en nie lank gelede nie gesny. Op die stoep kom ‘n vrou uitgeloop, terwyl sy haar hande aan haar voorskoot afdroog. Skuins oor haar bors hang ‘n Uzi 9mmP handkarabyn.
“Naand, Ma. Is daar nog plek aan tafel vir een honger man?”
“Jaap, jy weet mos daar is.”
“Ja, Demas, daar is altyd om ons tafel nog plek, veral vandat Oupa vermoor is.”
“Oupa?”
“Ons sal jou later vertel."