Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
By ons Drie-enige God is alles moontlik, daarom is niks hopeloos nie. Om 'n situasie as hopeloos te bestempel en moed op te gee omdat dit lyk of dit nie kan verander nie, is 'n klap in God se gesig want Hy bly in beheer en kan enige iets verander al lyk dit hoe onmoontlik vir ons.
BROKKIES UIT DIE BOEK: PANIEKLAND (1)
083 444 7672)
Dis nie bloot net die veraf knal van die skoot nie, ook nie die afgryslike wonde wat ‘n moderne, mediumkaliber kan veroorsaak nie. Vinnig-bewegende koeëls, enigiets vanaf vyf en vyftig grein, tot twee honderd grein, teen snelhede wat wissel vanaf twee duisend drie honderd tot meer as vier duisend voet per sekonde, wat been, vel, vleis en grysstof nie net met ‘n gat in laat nie, maar dit word verpletter, uitmekaar geruk, met gapende wonde wat nie bloot net ‘n gaatjie voor en ‘n effens groter een aan die agterkant nie, maar diep, vleisvernietigende gate waarin die stukke been, bloed en vel in beweeg.
Dis ook nie net die skade nie, maar ook die klap van metaal op mensvleis. Enige soldaat wat al in ‘n skietgat teikens getrek het, sal jou kan sê daardie eerste maal as die projektiel oor jou kop vlieg besef jy die ongenaakbaarheid van ‘n stuk brons en lood wat vir jou niks omgee nie. Hy het nie simpatie of empatie met jou nie, gee nie om waarvandaan jy kom, wat jou agtergrond of status is nie. Jy kan nie met hom redeneer of mooipraat nie en as hy jou tref is die skade onomkeerbaar.
Daar is dikwels op die Grens gesê daar is ‘n koeël iewers met jou naam op, bedoelende dat dit onvermydelik is dat die een of ander terroris jou met ‘n AK of AKM gaan raakskiet een of ander tyd. Dis bloot die wet van gemiddeldes. Iemand het opgemerk dat hy nie bang is vir daardie enkele rondte met sy naam op nie, maar vir al die ander duisende wat bloot sê: “Heil die leser!”
Maar uiteindelik is dit die paniek wat die ergste is. Die klap van ‘n koeël teen die lyf van iemand naby jou, die knal, die wonde, die dood – dis alles deel van ‘n oomblik waarin niemand weet wat aangaan nie. Dit lyk eenvoudig nie reg nie, nie werklik nie, totdat jou verstand die volgende oomblik die nare waarheid realiseer. Dis dan wanneer manne begin neerval, as die skut gesoek word en niemand is heeltemal seker uit watter rigting dit gekom het nie. Bevele word uitgeskreeu, maar dis dikwels kontrasterend.
“Dekking!”
“Down, Dash, Roll, Crawl, Observe, Sights, Fire!”
Waar, waar waar?
“Voor julle, op elfuur”.
“Nee, regs op twee uur!”
Skote klap en jy kyk waarheen die manne mik. Skielik besef jy dis nie elkeen in dieselfde rigting nie. Jy druk die veiligheidsknip af, want jy moet iets doen! Visiere opgelyn, maar geen teiken nie en nogtans trek jy die sneller. Oor en oor, totdat die sluitstuk teen die terughouknip vassteek en jy besef dat jou magasyn leeg is. Vroetelende, bewerige, oorhaastige hande pluk die leë een uit en jy grou in jou webbing se magasynskedes vir ‘n vol een. Inknip, sluitstuk net effens agtertoe gepluk en weereens klap die geweer teen jou skouer. Anstigheid! Nog steeds geen teiken nie en die paniek raak groter.
Drie meter van jou af vang ‘n te hooggeligte kop ‘n koeël en die warm stukke harsings spat teen jou wang.
“Dit kon ek wees! Dankie tog, dis Frank en nie ek nie!”
Die wete dat dit dalk die volgende oomblik jy kan wees, maak jou paniek groter.
“Ek wil nie hier wees nie, ek wil weg! Wat maak ek hier? Hoe het ek hier gekom?”
Die R4 raak warm en die kenmerkende geur van warm staal, plastiek en dryfmiddel gemeng met die reuk van sweet, rook en bloed. Deur dit alles is die knal van skote rondom jou erger as vantevore. Jou ore begin sing en die knalle raak dowwer, soos jou oordromme selfverdediging toepas. Môre sal jy sukkel om behoorlik te hoor en na ‘n paar dae gaan ‘n gefluit deel daarvan wees.
“Staan op! Val aan, val aan! Op is jy, jou sleg troep, op, saam met jou maatjies!”
Jou bene voel flou, maar uiteindelik werk hulle met jou brein saam en jy val ‘n onsigbare vyand aan. Formasie, formasie!, kniel, skiet, op, beweeg, beweeg!. Bly in ‘n ry!
En dan gee jou bene in. Dis asof hulle net lam word, nie van die moeg nie, maar iets anders. Jy voel die lamheid in jou buik en die gesukkel om asem te haal. Probeer opstaan, maar die kragte is te min. Wat is so nat? Waarom is daar sand teen my wang?
En as jy afkyk, is daar bloed, nie iemand anders s’n nie, maar joune.
“Kan dit waar wees? Is dit hoe dit eindig? Wat van…”
Jy krul op in ‘n fetusposisie, sodat jy albei jou hande oor die gat in jou maag kan vashou. Jy hoes en jou bene skop ‘n paar keer spasmodies. En ewe skielik is dit verby.
*
Die Britte het die eerste keer met skerpskutters te doen gekry gedurende die Amerikaanse Vryheidsoorlog van die 1770’s. Die Engelse musket was destyds nog van ‘n groot kaliber; .75 van ‘n duim en, ten spyte van die lang loop, was dit hoogs onakkuraat, met ‘n akkurate aanwendingsafstand van rondom vyftig treë. Die Amerikaners met hulle lang Kentucky gewere, bergvaardigheid en ingebore gemeenheid, het menige offisier afgemaai voordat hulle die verwarde musketiers een-een geskiet het. Ou, ervare jagters, wat baie maal eekhorings gejag het. Die klein diertjie het baie min vleis aan sy lyfie en daarom het hulle geleer om die bas van die boom waarop die dingetjie sit, onder of langs hom raak te skiet, sonder om dit self te tref. Van die skok was die eekhoring dood. ‘n Britse offisier is baie groter en beweeg heelwat stadiger as ‘n eekhoring. Die Britse Generalestaf het bitsige briewe aan hulle Amerikaanse eweknieë gerig waarin hulle beswaar maak teen hierdie manier van oorlogvoering.
“Absolutely un-sporting, I dare say, old man!”
Die Britte het die oorlog verloor en in plaas daarvan om hierdie les ter harte te neem, het hulle generaals voortgegaan om in tipiese reguit-formasie oorlog te voer.
Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) was die Noordelike State (“Union” of ook genoem “Yankees”) aan die ontvangkant van skerpskutters vanuit die suidelike state (“Confederacy”).
Met die aanvang van die Eerste Vryheidsoorlog in Suid-Afrika het die Engelse weereens vergeet van die lesse van 1776 en het met rooi baadjies en gekruisde wit bandoliere van hulleself onverbeterlike teikens gemaak vir die ou, ervare Boerejagters van die tyd. So word verhaal dat Admiraal Romilly op ‘n afstand van rondom 900 treë getref is deur ‘n Boere-koeël – iets ongehoord in daardie tyd.
Die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 was in ‘n groot mate die draaipunt van oorlogvoering. Die Engelse wat steeds volhard het met linies wat doelgerig en onverbiddelik aangeloop het na die vyand, as die beste manier van oorlog maak. Dit was natuurlik vir hulle ‘n bitter pil om te sluk as die Boere hulle van ‘n lang, ingegrawe posisie af geskiet het, vanwaar hulle agter rotse, bome en alle vorme van skuiling gelê het.
Net so erg was die Boere se manier om guerrillataktiek te vervolmaak met blitsaanvalle op die Engelse leërs, konvooie en vooraadlinies. Selfs die gepantserde treine wat later gebruik is, het slagoffers geword vir spoorlyne en brûe wat opgeblaas is, soms met trein en al. Die magtige Britse Ryk was tot in die twintigste eeu ingeskok deur ‘n handjievol weerstandige Boere en hulle sewe millimeter Mausers. Dis ‘n les wat hulle amper geleer het.
Die Eerste Wêreldoorlog was grotendeels beslis in loopgrawe (wat die Engelse by die Boere afgekyk het), maar nie oral nie. Waar vlaktes en koppies dit toegelaat het, is die Afrikaners gesoek om met langafstandskote die vyand te ontwrig. Gou het die gerugte van die manne se geweervaardigheid hulle vooruitgeloop.
Met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog is die wins van skerpskutters besef en Suid-Afrika het ‘n spesiale bataljon skerpskutters opgelei. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.
*
Demas Barth kom voor as enigiets behalwe ‘n soldaat. Skaars 1,7 meter lank, effens aan die dikkerige kant, met ‘n groot voorkop, wat week na week al groter word, soos sy hare minder raak. Hy het aanvanklik teologie gestudeer, maar na sy tweede jaar op Universiteit het die besef deurgedring dat hy voor ‘n volgepakte kerk sou moes staan en sy moed het hom in totaliteit begewe. Dieselfde met regstudies – hy sou eenvoudig nie in ‘n hof ‘n woord kon uitkry nie. ‘n Oorskakel na BCom het hom na drie jaar veilig agter ‘n lessenaar in ‘n stowwerige kantoor gelaat, vanwaar hy slegs mense sou sien as dit absoluut nodig is. Sy werk was van uitstaande gehalte en hy het vinnig opgang gemaak in die bedryf. Veral as dit by belastingsake kom, het al die firmas in die dorp op sy insette staatgemaak.
Natuurlik was hy te jonk om diensplig te doen, en hy was ‘n paar maal saam met sy pa veld toe, as dié gaan jag, maar die weersin in die skiet van ‘n weerlose dier was vir hom te erg. Nogtans het hy geleer skiet en hy het dadelik ‘n natuurlike aanleg daarvoor getoon.
*
Hy het net genoeg spore gelaat om die seksie van dertig soldate agter hom aan te lok. Hy ken die omgewing baie goed en met ‘n paar draaie en swaaie het hy hulle in die doodloop-kloof ingelok, met die kant van die berg en met bome en struike wat hom wegsteek, verby hulle geloop, tot waar hy nou lê teen ‘n skuinste, in ‘n vlak, natuurlike afloopsloot en vier meter weg van ‘n groot sandsteenrots. Die soldate het teruggdraai, na hulle besef het daar is geen uitkomsplek aan die ver-kant van die kloof nie. Hulle loop versigtig, met die spoorsnyer wat onkant gevang is deur die man wat hulle jaag.
Die lang, slanke lyne van die .270 Winchester Model 70 (pre-‘64) met die half-ovaal Ferlach-loop lê gemaklik teen sy skouer. Hy moes die Leopold 6.5-25X50 teleskoop al die pad agtertoe skuif op die Lynx ringe, sodat hy sy kort nek en arms gemaklik kon kry agter die kolf wat hy self afgesaag het en die terugskop-rubber weer teruggesit. Die kort stukkie wat onder uitgesteek het, het hy met ‘n knipmes afgekerf. Dit lyk nie mooi of professioneel nie, maar dit maak vir hom nie saak nie. Die netjiese blou-afwerking van die geweer en teleskoop het hy verberg met goïngsak en skoenveters. Ook dìt lyk maar sleg. Die vyand gee egter glad nie om nie.
Hy stoot ‘n honderd en dertig grein rondte in die kamer, maak seker dat die slothandvatsel al die pad afgedruk is, haal die veiligheidsknip af en dan soek hy die eerste teiken. Dis ver na die voorste makker toe, amper ses honderd meter, maar die groot vergroting van die teleskoop bring die man se beeld helder en duidelik op na die middel van die kruishare.
Sodra hy doodseker is van die skoot, druk hy sy hand effens toe. Die knal weergalm teen die kante van die klowe en valleie. Die loop lig effens van die terugskop, maar dis nie nodig vir hom om die teiken die hele tyd te volg deur die teleskoop nie. Hy weet presies waar die koeël sal tref.
Die seksieleier kry sy manne vinnig onder beheer, maar nie hy of sy sersant weet waar die skoot vandaan gekom het nie. Hy roep hulle terug in ‘n soort-van formasie, en die huiwering wat daar onder sommige van hulle is, skreeu hy uit hulle uit.
“Where? Where did the shot come from, Sergeant?”
“From behind us, Lieutenant!”
Die tweede skoot klap en ‘n man minder as vier meter van hom af slaan neer. Nog steeds geen duidelike teikenaanduiding nie, maar die dissipline van die seksie is totaal daarmee heen en elkeen skiet na waar hy dink die skoot vandaan gekom het.
Van hulle onthou hulle opleiding en slaan neer, rol en soek dan iets om na te skiet. Die sersant kruip van soldaat na soldaat, klap, slaan, skop en skreeu om dissipline te herstel, maar dit is moeilik. Paniek het die ongesoute troepe getref.