Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons het nie vrede met mekaar nie omdat ons nie vrede met onsself het nie. En ons het nie vrede met onsself nie omdat ons nie vrede met God het nie. Maak vrede met God en jy sal volkome vrede in jou hart ervaar.
BROKKIES UIT DIE BOEK HELDELAND (8)
083 444 7672)
Orkaan Heather het begin as ‘n warm kol in die Indiese Oseaan. Hierdie warmgebakte oppervlak het veroorsaak dat vogtige lug amper vertikaal die lug ingestyg het. Toe dit die koue bolug getref het, het dit aan die buitekante begin afsak in die vorm van reën. Swaar reën. Hierdie stelsel genereer geweldige energie en, solank die warm see-oppervlak en die koue bo-lug teenwoordig is, bou dit op.
Dan begin die hele ding stadig draai as gevolg van die draai van die aarde. Met hierdie stelsel gevestig, begin dit oor die oppervlak beweeg, altyd van Oos na Wes, in die Suidelike Halfrond. Hoe groter die deursnit van die sikloon, hoe groter die winde wat dit genereer. Hoe groter die verskil tussen die see-oppervlak en die koue bo-lug, hoe meer energie wek dit op. Alhoewel die hele stelsel relatief stadig as geheel beweeg van een punt na ‘n ander, is die winde geweldig sterk.
Heather het gevorm Noord-Oos van Madagaskar en het die eiland drie en twintig uur vantevore getref. Die hoofstad, Antananarivo het die buitenste winde gevang. Die orkaan het toe van rigting verander. In plaas van direk oor die eiland beweeg, het dit skerp na links op sy – of haar – as geswenk en is ook afgeskaal na ‘n sterk tropiese storm.
Dit beweeg weer oor die Mosambiekkanaal, en alhoewel die ergste gemeenheid uit haar wese gehaal is oor land, versterk dit weer sodra dit die warm water van die kanaal tref. Die oog van die storm beweeg na die suide van Mosambiek.
Basjan en die Nirvana sou nooit die storm kon uitry nie. Soos dit egter selfs nou is, met net die buitenste winde wat die skippie tref, is die golwe baie hoog. Hulle het elke opening van die boot dig toegemaak. Oral waar iets losgelê het, het hulle dit in kaste gesit of vasgemaak.
Dit het begin met ‘n ligte briesie. Onverwags gaan lê dit vir ‘n paar minute, net om weer sterker op te tel. Geleidelik raak die golwe hoër en die see se kleur verander van ‘n diepblou na donkergrys. Swaar stormwolke het die blou lug vervang. Steeds raak die winde sterker en die golwe hoër, totdat dit uiteindelik voel asof die jag die een oomblik teen ‘n steil opdraand ry en die volgende een jaag dit afdraand. Die boeg verdwyn partymaal in die golwe en breek dan oor die dek. Al drie die mense, nou veilig, of te wel so veilig moontlik in die brug, se mae is nie gewoond aan hierdie op-en-af nie en Basjan is die eerste een wat naar word.
Hy probeer die vloeistof wat uit sy maag opstoot terughou, maar maak dan uiteindelik een van die vensters (patryspoorte) wind-af, oop en span jong osse in. Net ‘n bietjie spat terug en hy kry die naar reuk van maagsappe oor sy linkermou. Vinnig maak hy die venster toe.
Jona word ook naar, maar haal nie die venster nie. Skielik verstaan beide waarom daar ‘n houer met seewater vasgebout is op die vloer naby die deur en Basjan los die autopilot vir ‘n paar minute aan, terwyl hy opvee en die mop, lap en alles sommer by die venster uitgooi.
Bella is vasgegespe aan die een stoel en sy is nie net veilig nie, maar word, vreemd genoeg, nie naar nie. Haar ogies gaan wyd oop wanneer hulle in die een trog na die ander afdaal, en dan maak sy dit toe wanneer hulle op beweeg. Basjan het gou uitgevind dat hy die enjinrewolusies net hoog genoeg moet hou dat hulle rigting kan hou, die boeg van die skippie in die golwe ingedraai. Die gevaar kom wanneer die skroewe bokant die water uitkom aan die bo-punt van die golwe, om te vinnig te draai en die enjins te beskadig.
Jona, wat die GPS dophou, roep later na Basjan.
“Oom Basjan, ons gaan agteruit!”
“Hoe weet jy?” vra Basjan, met ‘n angstigheid in sy stem.
“Die GPS wys dit Oom. Ons is nou nader aan Mosambiek as ‘n uur gelede.”
Basjan besef dat hy die enjinrewolusies moet opjaag en uiteindelik sit hy en werk met die versnellerhefbome. Sodra hulle bo-aan ‘n golf kom, trek hy dit terug, en dan, as hulle afsak, tot by die volgende kruin, versnel hy weer. Dit verg uiterste konsentrasie. Die skippie kraak en dit voel asof die glas enige oomblik uit gaan waai of breek. Die draaiende deel binne die voorste ruit werk onverpoos, maar die reën en die wind is so erg dat hulle niks kan sien nie. As hulle ‘n skip of ‘n klein eilandjie tref, sal dit verby wees voordat hy dit kan sien.
‘n Uitermate groot golf kom aangestorm en Basjan sien dit net as dit naby hulle kom. In plaas van die golf uitry, vang dit hulle half skuins en die boot rol op sy eie as teen die golf uit. Die dek staan skielik amper vertikaal en vir die eerste keer skreeu Bella haar vrees uit.
Verwoed draai Basjan die wiel tot dit sluit na stuurboord en, met die enjins in die rooi gedruk, draai die vaartuig se neus stadig teen die hoogste piek van die golf uit. Tot hulle verligting draai die boot weer reg en hulle kan die volgende golf aanpak. Gelukkig nie nou so groot nie.
Dit voel asof dit weke aanhou, maar na vier en ‘n half ure is dit asof die wind minder skreeu en die golwe, alhoewel nog hoog, nie so opmekaar stamp teen die boeg nie. Na nog ‘n driekwartuur is die bedaring waarneembaar en ‘n uur en ‘n half later is dit amper kalm.
“Waar is ons nou, Jona?”
Hy vat ‘n paar minute om te antwoord:
“Ons is nou so twee honderd en vyftig kilometer van Inhambane, Oom. Ons moet nou net op koers bly. Oom kan so effentjies weer na links, ek bedoel bakboord, ry.”
Uiteindelik is dit weer rustig. Die see is kalm, asof dit nooit onstuimig was nie. Die naarheid bedaar ook nou en na ‘n paar ure is die drie weer honger. Inspeksie toon dat daar bitter min skade aan die vaartuig is. ‘n Paar koppies is gebreek toe ‘n kas in die gallei oopgegaan het en een van die handrelings aan die voorkant, by die boeg, is los.
*
Vanaf die middel tagtigerjare het seerowery weer begin kop uitsteek.
Hierdie praktyk, wat vir meer as ‘n honderd jaar beperk was tot enkele gevalle in die Verre-Ooste, het momentum gekry met die burgeroorlog in Somalië. Natuurlik was daar hongersnood in die land, waar die oorlog nou reeds vanaf 1988 woed. Dit het meegebring dat die kuswag verslap het en dat skepe die geleentheid gebruik het om toksiese afval naby die kus te stort.
Dit het op sy beurt meegebring dat die vislewe uitgesterf het en die vissermanne het begin honger ly. Uit wraak het die vissermanne van hierdie skepe aangeval, wat dit te naby die kuslyn gewaag het. Natuurlik was daar buit op die skepe; dit het mettertyd ‘n groot en georganiseerde skeepsrowery tot gevolg gehad, waar hele skepe soms selfs gekaap is en die skip met vrag en bemanning as losprys aangehou is. Die aanvanklike vissersbootjies en ou, uitgediende gewere het plek gemaak vir die alombeskikbare AK 47’s en mettertyd selfs swaarkaliber masjiengewere, voor op die boeg van die boot gemonteer.
Stadige hout-vissersbote is vervang met opblaas rubberbote, toegerus met kragtige Johnson, Evinrude en Yamaha buiteboord-enjins. Streng optrede deur Westerse lande het meegebring dat hierdie operasies suidwaarts geskuif het, selfs tot by die Mosambiekse kus.
Die Suid-Afrikaanse regering het inderdaad op ‘n stadium die SAS Mendi beskikbaar gestel om hierdie seerowers te jag. Dit het beperkte sukses behaal en die rowers het bloot hulle basisse verskuif. So het ‘n vyftiental hulle tuisgemaak tussen die bosse by die duine van Cabo de Correntes, suid van Inhambane Provinsie.
Omdat hulle van die gevaar bewus is, sou meeste kapteins van skepe en plesierbote hulle ver van die kuslyn af hou, ver genoeg om buite bereik van die rubberbote met beperkte brandstof te hou.
Basjan en Jona kon dit nie weet nie.