Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die vloei van die geskiedenis deur alle tye heen, ook óns volk s'n, is gewortel in die fontein van menslike gedagtes. 'n Mens se gedrag word grootliks bepaal deur wat ons dink. Daarom leer die Woord ons in Spreuke 4:23 om ons hart, meer as alles wat ons het, te bewaar want die oorspronge van die lewe kom daarvandaan.
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (37)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die hele geveg is byna ‘n anti-klimaks. Die oorblywende soldate van Heinz von Kleibel het min dekking, maar veg verbete terug teen ‘n vyand wat hulle nie werklik kan sien nie. Steeds skiet hulle magasyn na magasyn die heuwels in, met geen plan om oor te gee nie. Immers is hulle op geen genade geregtig nie, net so min as wat hulle in die verlede gegee het.
Die een na die ander val gewond neer, met pynkrete hier en daar. Op ander plekke sal een bloot omdop as hy ‘n dodelike skoot weg het.
“Gaan hulle nie ooit oorgee nie?”
“Nee. Dis nie in hulle aard om genade te gee nie en daarom verwag hulle niks.”
“So, ons gaan maar net aan om hulle so af te maai?”
“Ek dink nie ons kan anders nie.”
“En as hulle weghardloop?”
“Dan sal hulle bloot hergroepeer en ‘n ander hulpelose klompie mense aanval.”
Janah en Lucille, Cor en van die ander wat gedryf word deur haat en vergelding het geen plan om enigeen van die aanvallers te laat wegkom nie. Hulle skiet skoot vir skoot die doodsakker in en soms selfs in gewonde of dooie manne se liggame in. Van die manne en vroue wat voorheen aan gevegte deelgeneem het, staak vuur, maar los die ander dat hulle voortgaan. Die enigste tyd wanneer diegene wat kwaad is, of wat wraak wil neem ophou, is wanneer hulle ammunisie klaar is.
*
Heinz hardloop na die plek waar die voertuie gelaat is. Sy eie voertuig, ‘n Land Cruiser VX 200 V8 is duidelik ondiensbaar, met twee wiele wat voosgeskiet is en ‘n rits gate deur die enjinruimte. Die een na die ander deursoek hy en uiteindelik kry hy die sleutel van ‘n Hi-Lux vierwieldryf onder die voetmatjie. Die dieselenjn vat dadelik en hy, saam met drie van sy offsiere, jaag in die rigting van die Noordelike heuwel.
Dis egter duidelik aan die opslag van die koeëls en selfs een of twee wat kermend vanaf die bakwerk wegskram, dat hy nie daarheen kan ry nie. Die enigste oop pad is óm die dorp en aan die verkant van die vlei verby. Hy misgis hom egter met die natheid van die antieke modder en die voertuig sak stadig maar seker weg, totdat dit op beide ewenaars gaan lê, met hoë suile modderwater wat langs die wiele opskiet.
Maya sien die voertuig wegjaag en kyk rond na waar hulle eie karre staan.
“Wie se Isuzu is dit daardie?” sy wys na ‘n stokou Frontier V6, waarvan die eienaar die dak afgesny het net by die bokant van die deure en die deure self verwyder is.
“Ek dink dis Nobbie s’n!”
“Nobbie?”
Skeer wys na ‘n jongman met ‘n lang, maar ylerige baard en ‘n rooi gelaatskleur. Maya hardloop gebukkend na hom toe.
“Kan ek jou kar vir ‘n oomblik gebruik?”
“My Isuzu?”
“Het jy ‘n ander een?”
“Nee, Tannie, net daardie groen een. Moet hom asseblief nie stamp nie!”
Hy oorhandig die sleutel aan haar en Maya hardloop nou regop en sonder huiwering na waar die kar sowat drie honderd meter van haar af is. Adrenalien bruis deur haar, soos elke keer wanneer sy iets onbesonne en lewensgevaarlik aanvang.
Die Isuzu vat met die eerste draai en sy swaai honderd en tagtig grade om, met oorgroot bande wat die stof agteruit skiet. Sy jaag om die dorp, in die rigting waarheen die Hi-Lux verdwyn het. Sodra sy verby die suidekant is, merk sy die stilstaande bakkie voor haar op. Die enjin skreeu nog soos Heinz die bande smeek om vas te trap, maar dis ‘n futiele poging.
“Uit, uit. Stoot!” beveel hy die drie offisiere by hom. Hy sien die Isuzu aankom, maar kan nie agterkom hoeveel insittendes daar is nie. Na ‘n paar sekondes waarin hulle freneties stoot aan die bakkie, is daar ‘n bietjie vastigheid onder die voorwiele en hulle pluk die voertuig so vinnig vorentoe, dat twee van die drie wat stoot, hulle balans verloor en in die modder val. Angstig – vrees is uiters aansteeklik – kom hulle regop, hardloop nader aan die agterkant van die bakkie en spring op.
Die derde een val en bly lê, maar na ‘n minuut staan hy versigtig op en hardloop dan angstig agter sy drie makkers aan. Hy besef dat hulle geen lojaliteit teenoor hom het nie en hy verwissel van koers, weg van die koppie voor hom, na sy linkerkant, waar hy sy wapens neergooi en die vlakktes inloop.
Arno sien wat gebeur en daar is geen keer aan hom nie. Sy eie Land Cruiser staan ‘n hele paar honderd meter van die koppie af en al beskikbare een is ‘n vreemde ding wat hy nog nie vantevore gesien het nie, maar waarmee een van die ander groep se manne en een passasier mee opgedaag het.
“Wie se ding is dit daardie,” vra hy vinnig en skerp. Die “ding” waarna hy verwys is ‘n Japanese Hajadu FK 800 – ‘n soort ding wat as ‘n “pypkar” kan deurgaan. Dit het ‘n 800cc Kawasaki enjin in en is 4X4, met kleinerige, maar knobbelrige bande.
“Dis myne Oom. As jy agter die tannie wil aangaan, gaan ek saam!” Die spreker is ‘n kort, frisgeboude man met ‘n Bosveld-tipe khaki kortbroek en hemp en ‘n gekamoefleerde bosbaadjie. Hy hardloop die koppie af, kry die kar aan die gang en jaag na waar Arno nog afstrompel van die koppie af. Daar is geen manier waarop hulle kan kommunikeer nie, daarvoor sorg die wind, die gehuil van die bande en die enjin kort agter hulle.
In plaas daarvan om óm die dorp te jaag soos Heinz en Maya, ry die jongman deur die doodsakker, versigtig om niemand, lewend, dood of gewond, raak te ry nie. In sy poging om die manne te vermy, tref hy ‘n groot klip skrams en die linker voorwiel vou onder die voertuigie in.
Arno is onmiddelik by die kar uit – daar is nie deure aan nie – en hardloop so vinnig as wat hy kan na die bokant van die vlei, waar hy glo Heinz, sy manne en Maya sal verby moet kom. Hy kom agter dat, ten spyte van die opwinding, sy asem na ‘n paar honderd meter so jaag, hy moet gaan staan om asem te skep.
Die man by hom sak op sy linkerknie en skiet na die voortjagende Toyota Hi-Lux. Die vyfde en laaste rondte uit die CZ .308 se magasyn moes iets belangrik raakgeskiet het, want die bakkie gaan staan na ‘n dertig of veertig meter, waarin dit baie spoed verloor, voordat dit viervoet vasskop.
Heinz von Kleibel en sy twee offisiere vlug uit die bakkie uit, teen die lae heuwel aan hulle linkerkant, wetende dat die Isuzu, met wie ookal aan die binnekant, nie daar sal kan oor nie, daarvoor is die grond heeltemal te gebroke.
Een van die offisiere, ‘n voormalige spesmagtelid, wat deur die meule is bo in die berg na die Noorde, waar hy vantevore met Maya se dodelike optrede skrams gewond is. Hy kan sy oë nie glo as hy sien die mens wat hulle agternajaag is ‘n vrou nie.
Sy is nog te ver weg om ‘n sekerskoot te vuur, maar as hy na sy regterkant kyk, sien hy vir Arno en die jongman by hom. Hulle is skaars drie honderd meter van hom af. Met die voorkant van die geweer se kolf op ‘n rots gerus, skiet hy ‘n vinnige skoot na die twee manne.
Dit is dodelik en die jongman val sonder ‘n woord of hyg. Arno val plat en soek na ‘n teiken, maar hy kan niks sien nie. Hy rol om totdat hy agter die dooie jongman kan skuil, nie dat die liggaam die hoësnelheid rondte kan keer nie, maar om bloot minder sigbaar te wees. Uiteindelik, met ‘n groot mate van afkeer, laat rus hy die voorgreep van die geweer op die man se bors en soek na ‘n teiken. Steeds nog niks.
Maya is aan die onderkant van die koppie en besef dat die lang Steyr-SIG nie doelteffend gaan wees vir vinnige korrelvat binne wat breukdele van sekondes kan wees, gooi die draband skuins oor haar skouers en haal die .45 kaliber Glock uit sy skede.
Sy loop nou versigtig, met asem wat sy vinnig onder beheer kry, van rots na bos en een skuiling na die ander. Sy is daarvan bewus dat die drie makkers enige plek kan skuilhou en haar in ‘n hinderlaag kan inlok. Na elke rots of bos waar sy om haas, met die wapen gereed, verwag sy ‘n skoot teen haar lyf.
Een van die offisiere waag dit om op te staan en draai stadig na sy regterkant toe, wapen gereed. Vir ‘n paar sekondes is hy binne Arno se sig en direk daarna in die middel van die teleskoop se kruishare. Die 172 grein Barnes-X koeël vang hom direk op die ruggraat en spat uitmekaar, ten spyte van die monilitiese aard, teen die sandsteenrots. Rondom die effense koeëlgat wat dit laat, is dit bloedrooi.
“Two down, two to go.” Of tel die ou wat weggehardloop het as een wat plat is?
Maya hurk agter ‘n lae rots en as sy laag genoeg is, sien sy ‘n bruin weermagstewel skuins onder ‘n rots uitsteek. Sodra die Glock se voor en agter visier daarmee opgelyn is, trek sy die sneller. ‘n Uitroep van pyn word gevolg deur ‘n kop en bolyf, as die man onwillekeurig afbuk. Twee 180 grein Winchester Silvertip koeëls klap eers teen die skouer en daarna die kop van die man.
“Nog een plat... een om te gaan.”
Heinz weet nou waar Maya is, beweeg vinnig na sy linkerkant toe en as hy agter die rots waar hy skuil uitbeweeg, het hy die R5, op vol-outomaties gestel, vol op Maya gerig. Daar is geen manier waarop hy kan mis, of dat sy na haar regterkant, wat vir ‘n regshandige skut langer vat, kan draai en haar wapen betyds op hom kan rig nie. Dis ook buite Arno, wat wag op ‘n nuwe teiken, se sig. ‘
‘n Gevoel van magtelose gelatenheid kom oor Maya as sy in die tromp van die wapen se blitsbreker kyk.
Heinz grinnik as hy sy vinger om die sneller krul. Hy is magtig en onoorwinlik. Hierna sal hy vir ‘n paar maande verdwyn, net om sterker anderkant uit te kom.