Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Stiptelikheid is die hoflikheid van prinse en ‘n kosbare deug wat tot ‘n leier se sukses bydra.
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (18)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Generaal-majoor Sir George Pomeroy Colley was die opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, asook die goewerneur van Natal en Hoë Kommissaris oor die Britse Kolonies in Suidelike Afrika, 'n briljante man met 'n uitstekende militêre rekord en voormalige professor aan die Sandhurst Militêre Akademie in Engeland. Hy het 'n opmars van Natal na Pretoria begin om die garnisoene te ontset. Hy het met 1200 troepe kamp opgeslaan op die plaas Mount Prospect, suid van Laïngsnek.
Laïngsnek was 'n strategiese plek waar die roete tussen Pietermaritzburg (in Natal) en Pretoria (in Transvaal) oor die Drakensberge gegaan het. 'n Boeremag van 1500 man onder Kommandant-generaal Piet Joubert het hulle op die lang rug van Laïngsnek, net Oos van Majubaberg, ingegrawe om Colley se opmars te stuit.
Op 28 Januarie 1881 met die Slag van Laïngsnek het Generaal Colley se magte probeer om Laïngsnek te verower, maar moes die aftog blaas nadat Kolonel Deane en baie van sy troepe gesneuwel het. Op 8 Februarie 1881 met die Slag van Ingogo, ook bekend as die Slag van Skuinshoogte, het Colley se troepe weer onsuksesvol met die Boere onder Generaal Nicolas Smit slaags geraak.
Colley het besluit die beste manier om die Boere te verslaan sal wees om die berg Majuba te beset, en dan van daar af aan te val. Die Boere was besig om verskansings te bou in die rigting van die berg, en hy wou die berg beset voor die Boere dit kon doen. ʼn Plaaslike swart man asook ‘n man van Nederlandse afkoms, Hans Koster, het vir Colley vertel dat die Boere Majuba slegs deur die dag, en nie snags, bewaak het nie.
Hierna het Colley nog 2000 troepe van Newcastle laat kom en die plan bedink om die berg Majuba te beset, vanwaar hy kon neerkyk op die Boere se stellings by Laïngsnek. Die Britte het die berg gedurende die nag van 26 Februarie uitgeklim. Daar was 405 Britse soldate op die berg, insluitend 171 van die 58ste Regiment en 141 van die 92ste Regiment (die 92nd Highlanders).
Dit was vir Colley kritiek dat sy plan ʼn geheim moes bly, sodat hy die Boere kon verras. Hy het slegs twee offisiere van sy plan ingelig, onder andere kommandeur Romilly. Op Saterdagaand, 26 Februarie, het Colley sy plan begin uitvoer. Ná aandete is ʼn mag van omtrent 600 man, insluitende drie joernaliste, Hans Koster en sy vriend Allan McMurtoch, asook swart gidse en draers, beveel om halfeen die nag in doodse stilte op parade aan te tree.
Teen dagbreek om 04:30 is soldate rondom die kruin van die berg uitgeplaas. Die Gordon Highlanders het die Noordelike en Noord-Westelike kruin beset, asook Gordon se koppie (Gordon's Knoll), een van drie koppies bo-op Majuba.
Intussen het Colley opdrag gegee dat die berg vir ten minste drie dae verdedig moes word en hy en baie van die troepe wat dwarsdeur die nag die berg uitgeklim het, het verlore slaap ingehaal.
Colley wou ná twee nederlae so gou as moontlik die oorlog beëindig. Daarom het hy besluit om weer tot die aanval oor te gaan.
Die besetting van die berg deur die nag van 26 Februarie was ʼn uiters moeilike taak. Daar was gidse om die roete aan te wys, maar dit was donker, en die terrein was vir hulle onbekend. Die eerste soldate het kort ná halfvier op Sondagoggend, 27 Februarie, die bergtop bereik. Soos wat hulle daar aangekom het, is die soldate al om die kruinrand geplaas, ongeveer 10 tot 15 meter uitmekaar uit.
Tot dusver was die Britte suksesvol, maar hulle het nou twee foute gemaak. In die eerste plek is baie soldate só geplaas dat hulle nie by die berg kon afkyk nie. Sommige was so ver van die kruinrand af dat hulle nooit enige Boere teen die berg kon sien opklim nie. Die Boere sou dus die berg kon klim sonder dat die verdedigers hulle gesien het. In die tweede plek het Colley nie sy soldate beveel om skanse te bou om hulleself te verdedig nie, omdat hy gedink het dat hulle te moeg was en eerder moes rus.
Colley het ʼn goeie roete gekies om die berg te bestyg, want die Boere se nagwagte het hulle nie deur die nag opgemerk nie. Dit was eers ná sonop dat die Boere die Britte op die berg gesien het, onder meer omdat die Britte op ʼn groep Boere wat teen die hange van die berg opgery het, begin skiet het. Sommige van die Highlanders het ook op die kruinrand gestaan, hulle vuiste in die lug gewaai en op die Boere geskree.
Die Boere se aanvoerder, kommandant-generaal Piet Joubert, was vir ʼn oomblik paniekerig, maar het herstel en toe besluit dat die burgers die Britte op die berg moet gaan aanval. Veggeneraal Nicholaas Smit het die eerste groep vrywilligers na die laer hange van Majuba gelei. Die Boere het eers gedink die Britte gaan hulle van bo af met hulle kanonne bestook, want hulle het natuurlik nie geweet die Britte het nie kanonne daar bo nie. Toe dit duidelik word dat hulle nie so aangeval gaan word nie, het meer en meer burgers hulle gaan aansluit by die groep wat Majuba aangeval het.
Die Boere het in drie groepe opgedeel. 150 burgers in twee aanvalsgroepe onder bevel van kommandant Joachim Ferreira en assistent-veldkornet Stephanus Roos het die noordelike helling van die berg begin uitklim. ʼn Tweede groep van so 200 man het die suidoostelike hang begin uitklim.
Dit het veroorsaak dat die Britte nie oor die kruinrand wou kyk om op die burgers wat besig was om op te klim, te skiet nie. Die konstante dekvuur van onder af was deurslaggewend in die Boere se oorwinning. Dit het gemaak dat die Britte nie besef het het dat die Boere al hoe nader aan die kruin gevorder het nie.
Die Britte het wel hier en daar van die Boere raakgesien en op hulle geskiet, maar die burgers het baie goed geskuil, só goed dat dit nog ʼn rede was waarom die Britte nie besef het hoe hoog hulle al geklim het nie. In elk geval het die Britte, en veral Colley, geglo hulle posisie op die berg was te goed, en hulle was dus houtgerus.
Dan was daar ook die kwessie van opleiding en skietkuns. Baie min skuts weet hoe om afstand te skat, veral as dit skuins na bo of na onder is. Die Britte het deurgaans te hoog gemik en oor die burgers geskiet, waar laasgenoende, jagters en veldkunstenaars, geweet het hoe om hulle visiere te stel en te gebruik.
Toe die burgers reg onder die kruinrand was, moes die onderste burgers ophou skiet omdat die gevaar was dat hulle hul eie makkers sou tref. Die Britte het aangeneem dit beteken die aanval is gestaak. Dit was egter glad nie so nie. Colley het selfs op híérdie stadium nie geglo dat die Boere beplan het om die kruin aan te val nie.
*
Hulle moes hulle perde aan die voet van die koppie laat, nie net omdat dit baie steil word nie, maar ook as gevolg van die weligheid en ruie boskasie plantegroei, bome, struike en buffelsgras. Die gids, ‘n jong seun wat in die omgewing grootgeword het en dikwels teen die berg en omgewing gejag het, Bertie Steyn, lei hulle deur ‘n doolhof van voetpaadjies, oor klippe en rotse, teen skuinstes en deur klein klofies, tot hulle uiteindelik die laaste paar honderd voet moet uitklim, totdat hulle op die smal kruin van die koppie kom.
Dis laer as die tweede hoogste kruin van Majuba self, maar hoog genoeg dat hulle die rantjie van die kruin kan sien en natuurlik enigiemand wat naby genoeg sou kom. Die laer kruin van Majuba, waar die meeste van die Britte nou is, kan gedomineer word vanaf die hoogste kruin, maar Colley besluit om nie manskappe daarheen te laat opklim nie, met die veronderstelling dat dit nie nodig sou wees nie, aangesien hulle die roete daarheen beset.
Op die kant van die koppie waar Jan, Nicholaas, die gids, Bertie, en ‘n paar ander manne hulle bevind, is daar laer plantegroei, bestaande uit ‘n klompie graspolle, struike en een jong boompie wat hardnekkig glo daar is genoeg staanplek vir hom.
Jan verwonder hom aan Nicholaas, ’n groot man, nie veel minder as sewe voet lank nie en sterk gebou, wat lyk asof hy nooit moeg word nie. Hy het die geweer uit ‘n leersak gehaal, die agterste visier opgeslaan, wat hy versigtig stel. Dis ‘n indrukwekkende geweer, ‘n Remington Hepburn No.3 in .40/90 Sharps Straight, met ‘n lang, dik, agtkantige loop.
“Hoe ver sou julle sê is dit?”
“Na die kruin van die laer deel van Majuba self?”
“Ja.”
“Ek weet nie, Neef. Daar is baie dooiegrond tussenin, maar as ek moet duimsuig, so agt honderd tree.”
“En hoe ver sou jy sê, Niggie?”
“Ek weet glad nie, Nicholaas. Ek wil nie eens probeer skat nie.”
“Asseblief, dis belangrik. As ons uit die dertien van ons ‘n gemiddelde kry, kan ek miskien bepaal.”
“Nou goed. Ek sou dink so nege honderd of duisend treë. Dis baie ver en ek dink nie ‘n geweer kan so ver skiet nie.”
“Hierdie een kan. Hy is gebou om op ‘n myl te kan skiet.”
Nadat almal geskat het, sê jong Bertie gedweë:
“Oom kan werk op nege honderd tree, glo my. Ek ken die plek.”
Nicholaas stel die agtervisier op nege honderd tree, plaas een van die lang .40 kaliber rondtes in die kamer van die geweer en vat dooierus op die leëgeweersak, wat hy op ‘n ronde klip geplaas het.
“Waarvoor wag ons?”
“Ek is nie seker nie, maar ons sal weet as die oomblik aanbreek.”
“Oom Japie, weet jy hoe lyk die Engelse generaal?”
“Man, ek het hom altoos by Laïngsnek gesien. Die ander klomp het mos rooibaadjies aan en party sulke oulike rokkies. Maar hy dra ‘n swart hemp en het ‘n wit belt om sy middel. O, ja, en ‘n wit helmet op sy kop. Hoekom vra jy?”
Nicholaas gee sy verkyker vir Oom Japie.
“Kyk daar, net so skuins voor die tente, op die rant…nee, bietjie verder links van Oom af. Ja, omtrent daar.”
Oom Japie kyk nog so ‘n bietjie en verstel dan aan die fokus. Opgewonde roep hy sonder om die verkyker te laat sak:
“Ja, daar is hy! Kyk hoe blink die son op daardie stukke goud op sy helmet. En daardie rooi baard van hom! Hy is korter as die manne by hom. Ek is seker dis hy!