Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase – Prediker 7:9
OPSTANDE IN DUITS-WES-AFRIKA (4)
EJG Norval
In die begin van Januarie 1904, het ene Bulact op Hereo-beesdiewe gevuur en op 9 Januarie het die handelaar Jacobs by Okahanja aangekom met die nuus dat ‘n groot groep Herero’s oppad was om die gehuggie aan te val. Lt. Zurn van die Duitse garnisoen in die fort, het die plaasboere gemaan om na die fort te kom vir beskerming. Op 10 Januarie het die handelaar Niel ingekom met die nuus dat sowat 300 gewapende Herero’s naby die dorp was. ‘n Duitse patrollie het na die groep gery en het by hulle gehoor dat hulle net gekom het om met die Duitse offisiere te onderhandel oor grondregte. Zurn het sy manne op gereedheidsgrondslag geplaas en Windhoek se garnisoen laat weet dat die Herero’s uit is op oorlog. Op 11 Januarie het ‘n trein met nog 35 soldate vanaf Windhoek na Okahanja gestoom. Die trein was tot stilstand gedwing nadat die vyand die brug en spoor by Osana verwoes het. Die masjinis is gedood en die Herero’s het die passasiers met assegaaie bestorm. Die soldate het op die vyand geskiet en toe alles verlore lyk, het die swart kolejong die trein in trurat gegooi en volstoom teruggejaag.
Okahanja-fort
Op 11 Januarie het Samuel Maherero sy stam aangesê om alle Duitsers dood te maak. Maharero snr. het aanvanklik sy onderdane beveel om geen Boer, Brit, Baster, Nama, Damara, vrouens of kinders dood te maak nie, maar die bevel was nie gehoorsaam nie. Tydens die oggend van 12 Januarie het die eerste Herero’s die dorp ingestorm, wat gelei het tot ‘n geskiet, wat verhewig het namate meer Hereo’s ingestorm het. Tydens die geveg is 7 Boere, 91 Duitse koloniste (waaronder twee vroue) en 25 soldate gedood. Die omliggende plase en huise is verwoes en afgebrand en al die vee is weggevoer. Later is nog 25 Duitse Koloniste en 3 vroue ook vermoor. Die mense se ore, neuse en lippe is ook afgesny.
Die transportryer David Uys was in Damaraland vermoor, nadat hy gemartel en vermink was. Daarna is burgers waaronder ene Botha, Els en McDonald om die lewe gebring. Jan Kriel was gevang, geslaan en vasgebind, maar gelukkig vir hom, het ‘n kwaai donderstorm losgebars. Hy het tydens die storm geleentheid gehad om ongesiens te ontsnap met sy hande steeds agter sy rug vasgebind. Hy het by swart werkers uitgekom wat hom gehelp het om by Windhoek uit te kom. Die plaasboere het tydens Januarie 1904 by Aris laer getrek en later was meer laers te Windhoek en Keetmanshoop vir veiligheid getrek.
Duitse troepe
Sersant Rademacher en sy garnisoen is op 14 Januarie te Waterberg-stasie aangeval en gedood. Twee dae later is Gobabis deur die Herero’s omsingel en ‘n Duitse patrollie by Otjiwarongo aangeval. Die Herero’s het Duitse troepe en nedersettings by Okahanja, Oparakane, Omaruru, Outjo, Grootfontein, Osona, Windhoek, Fort Namatuni (28 Januarie 1904), Seëis (Februarie 1904), Gross Barmen, Owikokorero (13 Maart), Erindi (!6 Maart) en talle ander plekke aangeval.
Op daardie stadium was daar 800 Duitse troepe met 30 kanonne en masjiengewere in verskeie garnisoene in Namibië. Hauptman France en Leutwein het Okahanja met versterkings vanaf Duitsland teruggeneem en die opstandelinge al vegtende verdryf. General Von Trotha het op 11 Junie 1904 met 15000 troepe-versterkings uit Duitsland by Walvisbaai aangekom en Samuel Maherero se Herero’s by Waterberg vasgekeer. Gevegte het daar op 11 en 12 Augustus 1904 uitgebreek en die Herero’s moes vlug voor Von Trotha se 1500 soldate, 1000 Witkam-Namas en 50 kanonne. Die Duitsers het die Hereo’s uit die berge verdryf en baie het na Ovamboland en Betjoeanaland gevlug. Baie is in die woestyn ingejaag.
Von Trotha het alle watergate vergiftig. Hy het op 2 Oktober aangekondig dat elke Herero-man, vrou en kind voor die voet op sig gedood moes word en so is tussen sowat 65,000 en 80,000 lede van die Hererostam tot 15,000 lede uitgedun. Gevange mans is geskiet of gehang en die vrouens en kinders is in die woestyn ingejaag. So ver hulle gevlug het, het lyke in die warm son gelê. Sowat 100 het by die Britte in Botswana uitgekom, waar hulle onder beskerming geneem is. Ander het so ver as die Transvaalse Waterberge gevlug en daar gebly. Sowat 13,000 Herero-gevangenes was teen Februarie 1905 in konsentasiekampe te Waterberg en Windhoek aangehou waar hulle harde-arbeid moes verrig. Duisende is gehang en uiteindelik was sowat 20,000 mans, vroue en kinders in kampe aangehou. ‘n Aantal was op Haai-eiland naby Luderitz aangehou en daar was ook beweer dat Duitse dokters hier mediese eksperimente op gevangenes uitgevoer het. Die Duitsers se verliese tydens die Herero-opstand was 64 offisiere en 684 soldate gedood, 76 vermis en 689 dood aan siektes.[ Hoeveel siviele blankes omgekom het, is onbekend. Maharero het in Betsjoeanaland op 14 Maart 1923 ‘n natuurlike dood gesterf.
'n Duitser met sy gevangenes
Herero's word gehang