Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In 1 Johannes 5:14 sê hy dat God ons verhoor as ons iets vra volgens God se wil. Calvyn se kommentaar op hierdie vers bring meer duidelikheid wanneer hy sê dat as dit aan elkeen van ons toegestaan wou word om te vra net wat ons begeer, sou daar baie swak na ons omgesien word. Dit sou ook die geval wees as God aan ons wense sou toegee. Want ons weet nie wat vir ons goed is nie. Inteendeel, ons brand van slegte en verderflike begeertes. Dus is die geheim van verhoorde gebede daarin dat ons niks sal vra wat strydig is met God se wil nie. Daarom moet ons sy wil ken en gehoorsaam.
OPSTANDE IN DUITS-WES-AFRIKA (2)
Deur dr Gustav Norval
WC Palgrave 
In 1876 het die Britse regering hul agent Palgrave na Walvisbaai gestuur om te keer dat die Dorslandtrekkers die land sou beset en om voorbrand te maak dat die streek tussen die Oranje- en Kuneneriviere met tyd deur die Britte geannekseer kon word. Daardeur het hulle gepoog om te keer dat die Boererepublieke ‘n seehawe aan die Namibiese kus kon stig. Palgrave moes eerstens Nama- en Damaraland inpalm en die inboorlinge teen die koloniste en nuwe intrekkers opstook, sodat hulle geen grondgebied in Namibië kon bekom nie. Die geweersmokkelaar Lewis was sy regterhand om te help om die taak uit te voer. Op 6 Maart 1878 het Britse troepe in Walvisbaai geland en die land in ‘n radius van 24 km as Britse gebied geannekseer. Agv die oorloë met die Zoeloes en Boere, het die Britte die wil om Suid-Wes-Afrika te annekseer in 1880 opgesê. Die Duitsers olv Frans Adolf Eduard Luderitz het die kusstreek noord van Walvisbaai tydens Augustus 1884 tot Duitse gebied verklaar. Hy het tydens Oktober 1886 in die Oranjerivier verdrink na sy boot omgeslaan het.
Goering Luderitz

Die eerste blankes in die hedendaagse Namibië was die jagter Jacobus Coetzee van Piketberg, gevolg deur Goew. Tulbach se afvaardiging olv Hendrik Hop en verskeie wetenskaplikes, wat geologiese- en natuurwetenskaplike navorsing gedoen het. Gedurende 1836 het ene Alexander die land verken en sy bevindings neergepen. ’n Voortrekker-kommissie het vroeg in die 1830’s olv Johannes Andries Pretorius na Damaraland gereis, om ‘n geskikte land vir die voornemende landsverhuisers te soek. Die eerste intrekker was Gideon Visagie, sy vrou en seun wat teen 1786 in die Keetmanshoop-gebied gevestig was. Rynse sendelinge het gedurende 1805 hul by Warmbad en later by Bethanië by Jonker Afrikaner se Namas gevestig. Die eerste baksteenhuis was deur die Albrecht-broers in die huidige Windhoek gebou.
Hendrik Witbooi, hoof van die Witkamme in die suidelike gebied van Duits-Wes-Afrika (DWA), het geweier om onder die Duitse regering te staan. Hy was ‘n gesoute rower en hy het die Velskoendraers, die Afrikaanders en Herero’s gedurig las gegee en hul vee geroof. Hulle naam kom van die wit doek wat om die hoed gedraai was, sodat een puntregop opgestaan het. Die Namas was gedurende die 1880’s betrokke in ‘n oorlog teen die Herero’s en hulle het al hoe meer gewere by smouse met die geroofde vee bekom. Die Duitse administrateur Dr. Heinrich Goering het geëis dat hy en sy stam hul wapens moes oorhandig, maar Witbooi het geweier. Goering het in sy administrasie tydens 1885 en 1894 verdrae met die meeste Nama-kapteins gesluit, maar Witbooi het geweier om ‘n traktaat te teken waarin hy sy grondgebied onder Duitse beheer sou plaas.