Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom leer ons so baie uit ons ellendes en so min uit ons vreugdes? Is dit omdat vreugde iets buitemensliks is, dat ons nie toegerus is daarvoor nie? In die Here is ons egter volkome toegerus om die vreugde wat Hy alleen ons kan gee te ervaar.
GODDELIKE WAARSKUWINGS (1)
Hierdie reeks handel oor visioene van verskeie persone, hoofsaaklik oor Suid-Afrika.
As Christengelowiges leef ons in benoudende tye, veral in ons land, anders as die heidene en afgedwaaldes wat meen dat alle struikelblokke verdwyn het nadat afsonderlike rasse-ontwikkeling in die land afgeskaf is. Ons weet egter ook dat God 'n besondere plan met ons het, en ons glo dat Hy tot in die eindtyd vir Hom 'n oorblyfsel hier suid van die riviere van Kus behoue sal laat bly; 'n oorblyfsel wat wel hulle heiligheid wil handhaaf – en natuurlik 'n struikelblok en ontsteltenis vir die res van die 'wêreld is.' Die pad van die beplande Eenwêreldregering moet volgens hulle ten alle koste gestap word en enigiets wat dit verhinder moet uitgeroei word. Daarom moes 'apartheid' tot sonde verklaar word en moet die Christendom, die behoudende faktor hier aan die suidpunt van Afrika, met alle mag uitgewis word.
Die Bybel is vol uitsprake oor die liefde en trou van God vir sy kinders. Nogtans ontken hulle sy liefde en het ontrou aan Hom geword. Die Christendom verkondig vandag kliphard saam met die goddeloses dat "omstandighede verander het, dat God niks meer te doen wil hê met 'n apartheidstelsel in Suid-Afrika nie". Eendag sal ons met groot skaamte staan oor hoe goddeloos hierdie redenasie was!
Ons God is 'n jaloerse God, ook oor sy volk. Waar sy kinders hulle nou orals aan die vyand oorgee en blykbaar niks meer met Hom te doen wil hê nie, word Hy jaloers en sal hulle met groot geweld as sy eiendom terugneem. Dít kan nie anders as om groot verskrikking en uitwissing van menige mee te bring nie. Ons moet besef dat dit 'n onuitspreeklike omvang sal moet aanneem om te herstel wat die sonde reeds vernietig het. Genesing en reiniging van ons land Suid-Afrika kan nie plaasvind sonder 'n groot "emmer bloed wat sal omval", soos Siener van Rensburg dit beskryf het nie. Dit sal so groot en geweldig wees dat die hele wêreld daarvan kennis moet neem. Daar sal deur elke tong bely moet word dat God 'n wonderwerk in Suid-Afrika verrig het, iets wat slegs Hy kon doen sodat sy Naam weer in ere herstel sal word.
God waarsku dikwels sy kinders oor die dinge wat kom; Hy alleen ken die tyd vir alles, en wil elkeen 'n geleentheid gee om ten beste voor te berei vir wat wag, in ons gemoedere asook in ons praktiese lewens. Lees hierdie reeks dan met 'n gemoed van ootmoed en belydenis en weet dat niks toevallig gebeur nie!
Stephanie Snyman - Toe sê 'n Stem vir my...
"Ek het die oggend van 16 Desember 1997 om 5:30 wakker geskrik, opgestaan en deur my kamervenster gesien dat dit bewolk en reënerig was. Daarna het ek weer gaan inkruip. Skielik het ek die profiel van 'n vrou se gesig aan my linkerkant gesien – sy het vir my geglimlag, 'n mooi glimlag. Toe verdwyn haar gesig en verskyn daar ontstuimige, donker waters soos die see, wat 'n lang punt maak en aan my linkerkant verbykom.
Toe sê 'n Stem vir my: 'Staan op en skryf!' Ek het opgestaan en by die lessenaar gaan sit waarop my dagboek gelê het. Die Stem het voorgesê wat ek moet skryf. Daarna het ek weer gaan lê.
'n Tweede keer het die Stem gesê: 'Staan op en skryf!'
Ek het dit gedoen en toe weer gaan lê.
'n Derde keer het dit gebeur. Verwonderd het ek daarna gaan lê maar ek kon nie slaap nie. Toe hoor ek my seun Andrè in die gang af kombuistoe gaan. Ek het die dagboek geneem en hom gaan vertel wat gebeur het. Nadat hy dit gelees het, het hy gesê dit is glad nie my skryfstyl nie. Hy vra my toe waarmee ek dit geskryf het. Ek sê toe dit was met 'n pen. Hy wou dit sien en ons is saam kamertoe. En toe kom die groot skok: Daar was geen pen op die lessenaar nie, en ek kan tot vandag toe nog nie verstaan wat daarvan geword het nie.
Ek is 68 jaar oud en dit was die eerste keer in my lewe dat ek so 'n ondervinding gehad het.
Die teks wat ek geskryf het:
'O wederstrewige volk van God, luister nou na my onvervalste Woord! Julle het vir julle menige drêkgode bymekaar gemaak! Ek sal al hierdie sondes van julle eis. In die gloed van my toorn sal Ek dit eis van julle wat al julle geloftes aan My vergeet het. Ek sal die wesens van die aarde oor julle aanstel sodat die donker magte julle sal teister dag en nag tot julle na My sal uitroep om genade, en terugkeer na My. Honderd nege en vyftig jaar gelede op hierdie dag het ek julle, My diensvolke se smeekgebede aangehoor, en met julle 'n Gelofte aangegaan, vir julle die wonderbaarlike oorwinning gegee teen die swart hordes. Daardie dag was daar vir My 'n nuwe volk gebore, en 'n mooi land is aan julle gegee. Dié dag moes julle as 'n gedenkdag by julle nageslag inskerp, en dié dag aan My toewy as 'n Sabbat vir ewig. Wee dié wat nalaat om die Gelofte te hou.'
16-12-1997 – 05:30 "
Chris en Hester Grobbelaar – 12 November 1998
"Boerevolk van Suid-Afrika, ons roep u op om saam met ons te verootmoedig voor die Almagtige Vader en om saam met ons 'n geestelike laer oor ons land heen te trek, beginnende op 9 Desember tot en met die oggend van 16 Desember. Op hierdie tye moet ons dwarsoor die land in groepe saamtrek en dienste hou waartydens ons ons voor God verootmoedig en ons opnuut verbind tot die Gelofte wat ons voorvaders aan Hom afgelê het. Net soos hulle gaan ons dit ook sewe maal herhaal dat ons wéér vir Hom 'n volk wil wees. Ons versoek u om hierdie boodskap uit te dra na die uithoeke van ons land, op elke moontlike manier. Elke Boer wat nog vashou aan hierdie Gelofte moet hiervan weet en vrywillig hierin verenig."
Ek en u wat hier lees is die opkomende geslagte van wie die Gelofte spreek. Daarom verbind ons ons jaarliks opnuut tot die nakoming van die Gelofte, met gebed en smeking dat God ons sal bystaan en help om dit te volbring. Dit doen ons met dankbare erkenning van die uitkoms van die Slag van Bloedrivier wat vir die voortbestaan van die Afrikanervolk deurslaggewend was. Ons herdenk dit as 'n groot daad van God in ons geskiedenis, 'n daad wat ons nie mag vergeet nie en aan óns opkomende geslagte moet oordra. Daarby gedenk ons dit as 'n groot daad in die geskiedenis van die Kerk van die HERE in ons land en oor die hele wêreld.
Hier volg die Gelofte van 16 Desember:
9-16 DESEMBER 1838
Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om 'n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as 'n dankdag soos 'n Sabbat sal deurbring, en dat ons 'n huis tot sy Eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte.
Want die eer van sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.
Kobus Strauss van Rustenburg – vir 'n aantal jare het hy profetiese drome gehad en dit noukeurig opgeteken omdat hy besef het dit hou verband met die toekoms van sy volk hier aan die suidpunt van Afrika.
"Ek wil my feilbaarheid as mens bekelemtoon maar ook dat ek niks hier sê wat nie aan my geopenbaar is nie. Ek is deeglik bewus van straf as ek dit sou waag om valshede voor te hou. In hierdie tye waarin ons leef is dit belangrik om ons mense moed in te praat en hulle voor te brerei vir die moeilike tyd wat kom. Die blankes is gruwelik belieg deur gewetenlose politici; ons blankes bevind ons nou in die moeilikste tyd ooit. Die Skepper het egter die oordele oor ons opgehef en ons sal nou moet begin regmaak.
5 April 1994
'n Swarte is besig om 'n kortsluiting aan te blaas deur meer en meer metaalvoorwerpe op 'n hoop te sit en aan die hoop te stamp en te stoot. Die eindresultaat is dat die hemelruim die gloed van die omvang van die aanhoudende elektriese brandende ontladings weerkaats. Dit lyk asof die res van die swart bevolking dit geniet.
Ek dink dat onrealistiese verwagtinge geskep is deur die nuwe swart regering en dat die uitbarsting gaan kom om uiting te gee aan die swartes se frustrasies as gevolg daarvan. Ek glo egter dat die swart opstand waartydens baie blankes wreed gedood gaan word, die keerpunt gaan wees, en waar blankes uiteindelik sal besef die enigste antwoord is hulp van Bo.
Dinge sal dan vinnig opmekaar volg:
1. Swart opstand
2. Blankes verootmoedig.
3. Ingryping van Bo.
4. Oorlog.
5. Blanke regering.
6. Weer konfrontasie teen NWO
7. Nog ingryping van Bo.
27 April 1994
Ek kon die nag nie slaap nie want ek het geweet ons word vandag uitgelewer aan 'n godlose Kommunistiese regering. Ek het nogtans 'n bevestiging gesien van Mandela se gesig op ons geldeenheid – ons ekonomie in swart hande.
Ek staan ook in 'n woestyn tussen berge en heuwels. Aan die voet van 'n enkele groot berg wat tussen ander berge uittroon is 'n groot gat wat skuins afloop na 'n ontsaglike onderaardse meer van helder skoon water waarvan ek die diepte en grootte nie kan bepaal nie. Die enkele groot berg is die Koninkryk van God en die kleiner berge die nasies. Die onbeperkte water is God se krag en Almag. Die woestyn is die posisie waarin ons volk ons nou bevind.
11 Mei 1994
So ver as die oog kan sien is die aarde omgeploeg en kaal. Daar is egter een plek waar daar so effense groenigheid deurslaan – dit lyk asof die blanke nooit weer sy vryheid sal herwin nie maar daar is 'n klein groepie bittereinders wat die vlam van hoop brandend hou.
13 Mei 1994
Ons eens trotse weermag gaan tot niet. Orals is stof op die toerusting. alles word bevuil en verwaarloos. "
Nog gesigte van Kobus in volgende aflewering...