WITMAN, WAAR IS JOU VRYHEID? (10) - SLOT

Dr Willie Lubbe

VRYHEID - en selfwerksaamheid

"Mag hierdie bydrae daartoe help lei dat die blanke volk van Suid-Afrika wakker word, die skrif aan die muur eien vir wat werklik daar geskryf staan, sodat daar nie later gesê word: daar was geen waarskuwings nie! En mag God verhoed dat ons volk as gevolg uit gebrek aan kennis en gehoorsaamheid in die volkeresee verdwyn."

Indiwidu en volk

’n Indiwidu is in die wydste sin van die woord slegs vry as hy deur eie arbeid self vir sy lewensbestaan sorg. So ’n selfwerksame persoon het immers nie ’n “baas” of werkgewer wat hom met bevele of voorskrifte (wat gehoorsaam moet word) inperk nie; hy kan sy arbeid uit eie inisiatief en volgens eie besluite reël.

BAIE WERKERS . .. NOOIT VRY NIE

’n Praktiese voorbeeld: ’n Boer wat sy hele plaas alleen behartig, merk op dat boere wat van swart werkers gebruik maak, die hardste werkers is wat hy ken. Hulle moet vroegoggend vyfuur al opstaan om te sorg dat die arbeiders op hulle poste kom, betyds geëet kry, elkeen vir sy taak georganiseer word. Heeldag moet die boer rondbeweeg tussen hulle om te sorg dat elkeen “produktief ’ besig bly (hulle moet mos werk om die lone wat hulle kry te regverdig), betyds te keer waar verbrou word, vrede te herstel waar gestry word, weer te verduidelik waar opdragte misverstaan is . . . tot by “tsjailatyd.”

Dikwels moet daarna hulp gebied word met kinders wat siek is, ensovoorts. Sulke boere is net nooit vry nie. Ons vriend sê dat diesulkes dit blykbaar bitter moeilik vind om ’n los tydjie vir ’n kuiertjie af te knyp. Vakansie is feitlik ondenkbaar- te veel kan verkeerd loop, afgeskeep word of gesteel word. Boonop is daar tye wat daar net nie noodsaaklike werk op die plaas te doen is nie. Maar terwyl die arbeiders permanent daar is en in diens is en dus betaal word, kan hulle tog nie toegelaat word om leeg te lê nie. Hulle moet dus besig gehou word ... maar weer deur “die baas”.

SELFWERKSAAMHEID EN . . . VRYHEID

Daarteenoor, vertel ons vriend, slaap hy rustig tot seweuur. Dan help hy sy vrou met die kinders en dringende huiswerkies - sonder ’n knaende gevoel dat daar buite werkers wag wat aan die gang gesit moet word. As hy gaan werk, doen hy wat nodig is en hoef niks oor te doen nie, misverstande regstel nie, werk uitdink om lone te regverdig nie, en so meer. Wat meer is, as die druk tyd verby is, is daar tyd vir lees en op die hoogte kom van nuus of boerderysake; daar is tyd vir kuier, vakansie kan sonder kwelling geneem word. En uiteindelik is die wins wat hy op sy boerdery kry, meer as die van die boer met sy swart werkers.

Selfwerksaamheid beteken vir so ’n boer . . . vryheid.

In ’n volk se geval is dit nie anders nie.

AFRIKANERVOLK WESENLIK ONVRY

Ons afhanklikheid met arbeid van mense buite ons volksverband het die vryheid van ons Afrikanervolk van ons weggeneem. Omdat ons belange van ander groepe s’n verskil, moet ons in die huidige ineengestrengelde arbeidsopset onsself gedurig aan reëls en regulasies onderwerp om arbeidsverhoudinge te reël. Ons moet rekening hou met eise en verwagtinge. Ons moet waak teen beskuldigings van uitbuiting en onderdrukking. Ons kan nie selfstandig besluit nie, want die werknemers se anderse beskouinge van sake moet ’n plek kry.

Ons is eenvoudig wesenlik onvry.

WERK SELF EN ... WORD VRY

Selfwerksaamheid binne volksverband sou ons weer vry maak. Om die waarheid te sê - die beginsel sou elke volk in Suider-Afrika vry maak as hy dit self toepas. Die strewe na onafhanklikheid wat vryheid moet meebring, het oral in Afrika vir talle volke misluk omdat die verband tussen arbeidselfstandigheid en vryheid net nie ingesien is nie.

Ons as Afrikaners het reeds lank en ver gesoek na vryheid sonder selfwerksaamheid - tevergeefs gesoek. Want hoe meer ons dit probeer vermy, hoe dieper sak ons in onvryheid in. Die nuwe grondwet van 1984 is daarvan die beste konkrete bewys.

Hoekom wil ons nie uit die geskiedenis leer nie? Die Duitse volk het twee maal in hierdie eeu uit ’n verknegte posisie opgestaan met eie harde werk en hom daardeur weer tot vrye, agtenswaardige volk verhef. Die Israeli’s, die Japanese, die Taiwanese het deur selfwerksaamheid vir hulleself vryheid verwerf en kan daardeur selfstandig optree in die huidige wêreldtoestand.

Afgesien van ander waarskuwings, byvoorbeeld van genl. Hertzog reeds kort na die Tweede Vryheidsoorlog, het dr. G.D. Scholtz vanaf die vyftigerjare herhaaldelik gewaarsku teen die verslawende gevolge van ons afhanklikheid van swart arbeid. Sy boek “Swart Suid-Afrika!" moes ons wakker geskok het maar - ons het rustig voortgeslaap en ons rug op hom gedraai.

Of is daar tog nou ’n roering by sommige - en by al meer Afrikaners?

Selfwerksaamheid in Christelike lig

Ook uit Christelike oogpunt is selfwerksaamheid ’n vrymakende begrip, want dis gehoorsaamheid aan God se skeppingsopdrag om sy aarde te bewoon (te vul), te bewerk en daaroor te heers. Die hoogste vorm van vryheid is tog om aan die doel te beantwoord waarvoor God jou geskape het. Elke mens ervaar die waarheid hiervan elke keer as hy ondervind dat niks so bevredigend is as wanneer hy na moeite sy doel bereik het nie.

Om te werk, is dus ’n belangrike deel van die doel van ’n mens se bestaan op aarde:

•          deur sy arbeid heers hy oor God se skepping

•          deur harde werk ontgin en ontwikkel hy die aarde.

So open die werkende mens lewensruimte vir die verskillende volke wat deur God op die wêreld geplaas is. In ons land beteken dit dat ons as Afrikaners verantwoordelik is om self ons landsgebied te onderhou-want dis die adres wat God aan ons gegee het, dis waar ons werk en rus en leef.

En as ons nou hierdie verantwoordelikheid ontduik deur ander in te span om ons opdrag uit te voer .. . kan ons dan verwag dat vir ons Afrikanervolk ’n eie land behoue moet bly?

So onafskeidbaar hang ons volksvryheid saam met ware bereidheid tot arbeid in ’n eie land.

Die vryheid wat selfwerksaamheid in volksverband meebring, is duidelik nie vir die Christen ’n vryheid tot selfsug en materialistiese selfverryking (stoflike welvaart) nie, maar vryheid om deur arbeid ’n ordentlike volkslewe en verantwoordelike oppas van God se aarde in jou volk se besondere hoekie so te vervul dat Christus as Koning daarvan, daardeur vereer word (1 Kor. 10:31).

Daarom waarsku Paulus dat ’n mens nie onregmatig vir jou dinge mag toe-eien nie (“steel nie”), “maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan he om mee te deel aan die een wat gebrek het.”

MATERIALISTIES

’n Nie-Christelike arbeidsbeskouing teister egter vandag se Westerse wêreld. Dit is slegs gerig op materialistiese oorwegings. Daarvolgens mag in die RSA, selfs in Suidelike-Afrika, volksverband nie tel nie - nee, alle arbeiders van watter volk ookal moet gesamentlik ingespan word om, so meen hulle, die maksimum arbeidsbenutting in een gemeenskaplike bestel te bereik.

Hoekom?

Nie omdat God daardeur beter gedien kan word nie, nie omdat elke werker daardeur sou kan ondervind hoe hy sy Goddelike opdrag teenoor God se skepping beter uitvoer nie - maar alleen om maksimum wins te verseker, om ’n siklus van stoflike welvaart wat op die produksie en verbruik van allerlei goedere alleen gemik is, te verkry; om dit as “ontwikkeling”, “vooruitgang”, ensovoorts, te proklameer. Net wie geld verdien, beteken iets - nie byvoorbeeld ’n vrou wat ’n mooi groot gesin self grootmaak sonder betaling nie! Slawe van ’n verbruikerpsigose . . .

Dit lei ’n mens na ’n skewe doel met jou arbeid. Jy werk slegs om te kan eet en leef. Bybels gesien, is arbeid bedoel om te heers oor God se aarde en dit tot sy eer te laat ontplooi, en is die verkryging van lewensonderhoud net ’n middel tot hierdie doel.

Tot so ’n arbeidsaanvaarding moet ons Afrikanervolk opnuut gewek word - ’n roeping tot kultuurontplooiing waarin God geëer word en wat tot heil van

die eie en die ander strek. Daaruit sal weer arbeidstrots herleef en die strewe na gehalte, en sal elke werker weer ’n eerbareplek in die samelewing vind waarin sy rol noodsaaklik is.

Saambindende krag van volkselfwerksaamheid

Met ons gebruik van vreemde arbeid het ons mekaar verloor. Hoe meer ons van die arbeid van ons swart en gekleurde bediendes afhanklik geword het, hoe minder het ons mekaar nodig gehad. As ons hulp nodig het vir ’n taak, is die eerste gedagte nie om by mede-Afrikaners aan te klop nie, maar om swart werkers te kry. Ons het ons verbeel dat ons daardeur meer vrye tyd vir mekaar sou hê, maar dit het leë tyd geword - deurgebring met jag na plesier en selfverryking, of ydele gesprekke. Min daarvan lei tot saamwerk en saamskep: die sak sout saam opeet wat tot verdieping van kameraadskap sou lei.

Dit maak van ons ’n gemeenskap van los indiwidue, elk met sy selfgerigte lewe. Eers as ons mekaar weer nodig kry, sal ons mekaar vind deur die saambindende krag wat uitgaan van saamwerk en mekaar help om ’n taak te kan afhandel. Hulpvaardigheid en betrokkenheid by mekaar sal weer algemene kenmerke en deugde word van ’n Afrikanergemeenskap in plaas van die selfsug en onbetrokkenheid waaroor ons vandag so dikwels kla.

Selfwerksaamheid bou en bind ’n volk saam tot selfstandigheid in onderlinge verbondenheid.

Handearbeid - prikkel tot skeppende denke

In die mate wat ons verleer om handearbeid te doen, verloor ons ons tradisionele vindingrykheid. Nie sonder rede nie het ons die trotse aanspraak “’n Boer maak ’n plan” voorheen kon aanhaal. Waar ’n boer egter sy arbeid deur swart werkers laat verrig, kry ’n mens minstens twee gevolge:

Eerstens het hy nie noue kontak met die werk wat gedoen word nie en ontbreek die stimulus om ’n beter plan te bedink om die taak gedoen te kry.

Tweedens het hy tog in elk geval die werkers en hoef hom nie moeg te maak om enige plan te maak nie. In der waarheid kan hy hom glad nie indink hoe hy sonder hulle kan werk nie.

BOER MAAK ’n PLAN

Dan moet jou kop weer werk soos ’n boer se kop behoort te werk. Om ’n praktiese illustrasie te gee: hy moes eendag die probleem oplos om ’n hele paar ton koring op sy 10 ton-vragmotor van die grond af op te laai. ’n Ander boer sou eenvoudig sy span swart werkers opdrag gee om hulle grawe te vat en te begin laai.

Die boer se posisie was: hier wag ’n taak wat baie harde arbeid vereis voor my. Ek is op myself aangewys omdat ek nie eers oorweeg om swart arbeiders te soek nie. Dus, as ek man-alleen die koring met ’n graaf op die vragmotor moet laai, gaan dit my sekerlik ’n paar dae neem (wat ek nie kan bekostig nie) en ek gaan my pootuit werk. Wat nou?

Nou tree “boer maak ’n plan” in werking. Ek het mos ’n elektriese motortjie wat ek kan gebruik, ook ’n pompie en plastiekpype. Binne enkele ure het hy ’n apparaat aanmekaar, wat hom minder kos as die lone van ’n paar arbeiders. Hy staan rustig en suig sy koring van die grond af op in sy vragmotor. Binne ’n paar uur, voor die dag om is, is hy met die hele taak klaar, kan hy dit herhaal soveel keer as wat nodig mag wees en het hom nie katswink gewerk nie.

Het hy ’n paar arbeiders gehad, sou hy die plan nie uitgedink het nie en steeds van die arbeiders afhanklik gebly het.

Begin dus self werk en jy sal vry word en meer effektief werk.

Hoe belangrik is selfwerksaamheid?

Kort en klaar: allesbepalend.

Van een ding is ons hartgrondig oortuig: as daar ’n enkele sleutel gesoek word waarmee die Afrikanervolk sy toekoms na ’n eie vaderland kan oopsluit, dan is dit die sleutel van eie arbeid. Hoe belangrik ander faktore ook al mag wees, hierdie een is onontbeerlik. Om ’n eie land as vaderland te herwin wat ’n tuiste vir die Afrikanervolk sal bied, wat sy vryheid sal waarborg, sal die Afrikaner moet begin, nou reeds begin, om alle arbeid binne eie geledere te doen.

Dis ’n moeilike weg, maar daar is nie ’n makliker een nie.

Daar is geen ander metode

•          wat meer positief en konstruktief is nie

•          wat meer eerbaar is nie

•          wat sekerder is nie

•          wat standhoudender is nie

•          waarby elke lid van die volk meer persoonlik betrokke kan wees nie.

Wat meer is, uiteindelik is daar geen ander metode nie. Sommige noem geweld as ’n ander metode om ons vryheid te herwin. Die vraag is net - as ons ons land en vryheid met militêre geweld teruggevat het, wat dan?

Dan sal ons die militêre resultaat slegs inhoud kan gee as ons daarna alle werk in ons land self doen.

As dit nie ons strewe gaan wees nie, sal die militêre oorwinning hol wees omdat ons ou probleem nog steeds by ons sal wees en die hele proses van arbeidsafhanklkheid van ander sal hom maar net weer herhaal, verlies van vryheid en land en alles wat daarmee saamgaan . . .

Uiteindelik is ons dus weer terug by selfwerksaamheid - om ons vryheid te herwin gaan eie harde werk kos, en om ons vryheid te behou, sal selfwerksaamheid ’n onverbiddelike beginsel moet bly.

’n Romeinse les

Daar was ’n hele aantal onderling samehangende oorsake wat gelei het tot die uiteindelike ondergang van die antieke Romeinse beskawing. Ons gaan slegs enkeles uitlig wat betrekking het op die begrip “selfwerksaamheid”.

KLEINBOER VERDWYN

In die Romeinse ryk was die Romeinse kleinboer die aanvanklike ruggraat van die samelewing. Maar as gevolg van die ontstaan van ’n proses van verstedeliking, industrialisering en voortdurende aanvraag na kundige mannekrag in die landsbestuur, het baie van die boere hulle plase verlaat om elders ’n meer lonende en dikwels ook ’n meer gemaklike heenkome te gaan soek.

SLAWE-ARBEID

Die gelyktydige ontstaan van ’n sug na rykdom en mag het toe veroorsaak dat die rykdom al hoe meer in die hande van sekere groepe persone gekonsentreer geraak het. Die rykes het baie gou grond begin opkoop en so het die eerste grondbaronne hulle verskyning gemaak. Hulle kon natuurlik nie al die grond self bewerk nie en het grootskaals van slawe begin gebruik maak om dit vir hulle te doen. Die toedrag van sake het baie gou gelei tot ’n afname in oorspronklike denke en vindingrykheid met gevolglike stagnasie en agteruitgang in die landboubedryf

Vanweë die uitgestrektheid van die Romeinse ryksgrense moes ’n buitengewone groot leër aangehou word. Omdat daar uiteindelik net nie meer genoeg Romeinse manskappe was nie, het van die keisers begin om barbare (d.w.s. nie-Romeine) in hulle leërs op te neem. Die vreemde manskappe het later al hoe meer van die hoër range begin beklee asook, as uitvloeisel daarvan, van die hoër staatsdiensposte.

Geskiedskrywers is dit eens dat dit ’n belangrike bydraende faktor tot die ondergang van die Romeinse ryk was, omdat ’n eensgesindheid en gemeenskaplike lojaliteit tussen die mense begin ontbreek het.

NET SEKERE WERK

’n Ander oorsaak van die ineenstorting van die Romeinse ryk het daarin gelê dat die Romeine hulleself al hoe meer begin besig hou het met die “hoër” tipes werk, terwyl slawe die “laer” of harde tipes asook roetinewerk moes verrig. Hiermee saam het ’n soeke na gemaksug en gejaag na plesier gekom. En die gevolg hiervan alles was dat basiese intellektuele insette wat so nodig was vir die dinamiese ontwikkeling van die hele gemeenskap, net nie meer genoegsaam na vore gekom het nie. Met ander woorde, ’n geestelike traagheid het oor die Romeine gekom, met gevolglike stagnasie en agteruitgang.

GEVAARLIK BEKEND

Kleinboer verdwyn .. . vreemde (slawe-) arbeid . . . vreemde soldate . . . net sekere tipes werk - dis dinge wat die eens magtige Romeinse beskawing help kelder het. En die dinge klink gevaarlik bekend vir ons hedendaagse Afrikaners. Laat die Romeinse les ons ter harte gaan: selfwerksaamheid waarborg vryheid; verwaarloos selfwerksaamheid en - jou vryheid is daarmee heen!

Mag hierdie bydrae daartoe lei dat die blanke volk van Suid-Afrika wakker word, die skrif aan die muur eien vir wat werklik daar geskryf staan, sodat daar nie later gesê word: daar was geen waarskuwings nie!

En mag God verhoed dat ons volk as gevolg van 'n gebrek aan kennis en gehoorsaamheid in die volkeresee verdwyn.

SLOT