Dr Willie Lubbe
VRYHEID – en soewereiniteit deur partisie
" Dit spreek dus vanself dat geen volk soewerein kan wees as dieselfde staat deur vele volke gedeel word nie. Afgesien van die feit dat soewereiniteit nie deelbaar is nie, sal die volk met die meeste verteenwoordigers die ander oorheers. Die minderheidsvolk kan dus nooit aanspraak maak op onafhanklikheid, vryheid of soewereiniteit nie, want hy is nie vry om besluite oor homself in ’n eie gebied te neem nie."
In 1577 skryf die Franse skrywer Bodinus dat soewereiniteit die bevoegdheid is om die hoogste gesag in ’n staat uit te oefen. Die soewerein het geen hoër gesag bo hom gehad behalwe die onsterflike God en die natuurreg nie. Die voorbehoud van die natuurreg het tydelik vervaag vanwee die ondefinieerbaarheid daarvan, maar het weer sterk op die voorgrond gekom in die vorm van “The Rule of Law” waardeur gepoog is om sekere onvervreembare vryhede van die individu te omskryf en te verskans.
SOEWEREIN
Die soewereiniteitsleer skryf voor dat die soewerein noodsaaklikerwys drie eienskappe moet besit: ondeelbaarheid, oorspronklikheid en onbeperktheid. “Die soewerein is ondeelbaar omdat daar in ’n land slegs een hoogste gesag kan wees. As daar meer as een gesag is wat bo al die ander gesag staan, is nie een van die twee die hoogste nie. Die soewerein se gesag moet oorspronklik wees, want die hoogste gesag kan nie van ander gesag afgelei wees nie, anders is dit nie die hoogste gesag nie. Die soewerein se gesag is onbeperk, omdat, indien daar ’n hoer gesag was om sy gesag te beperk, hy nie meer soewerein sou wees nie.” (Verloren Themaat)
VOLK IS SOEWEREIN
Volgens Sir Thomas Smith is die Parlement die hoogste gesag en berus dit op die regsgrondslag dat elke burger in die Parlement verteenwoordig is. Die volk is dus soewerein en oefen sy soewereiniteit deur sy verteenwoordigers uit.
Dit spreek dus vanself dat geen volk soewerein kan wees as dieselfde staat deur vele volke gedeel word nie. Afgesien van die feit dat soewereiniteit nie deelbaar is nie, sal die volk met die meeste verteenwoordigers die ander oorheers. Die minderheidsvolk kan dus nooit aanspraak maak op onafhanklikheid, vryheid of soewereiniteit nie, want hy is nie vry om besluite oor homself in ’n eie gebied te neem nie.
SELFVERSORGING VIR ONAFHANKLIKHEID
’n Volk kan net so min as ’n kind aanspraak maak op vryheid as hy nie in staat is om onafhanklik en selfversorgend te wees nie. Selfstandigheid en die vermoë tot selfversorging is ’n voorvereiste tot onafhanklikheid. Dit mag wees dat jy in die uitoefening van onafhanklikheid gebruik maak van ander volke vir handelsdoeleindes en om jou selfversorgendheid te vergemaklik, maar jy kan nooit aanspraak maak op onafhanklikheid as jy nie tot selfversorging uit eie krag in staat is nie. Nog minder kan die volk wat hom in diens van jou stel om jou selfversorgend te maak, onderhewig aan jou voorskrifte, hom beroep op onafhanklikheid. Dit mag wel wees dat twee volke, elkeen onafhanklik, mekaar mag aanvul op gelyke vlak ten einde selfversorgendheid te vergemaklik. Sodra een volk in gesag hoër is as die ander, is die ondergeskikte volk nie soewerein nie. Binne dieselfde gebied kan nie twee soewereine gesagsliggame bestaan nie. 'n Voorvereiste vir soewereiniteit en kontraktering op gelyke vlak tussen volke is dus aparte state.
Van soewereiniteit van verskeie volke binne dieselfde grondgebied of staat kan daar vanweë die ondeelbaarheid van soewereiniteit nie sprake wees nie - of al die inwoners regeer by wyse van meerderheidsbesluit saam, of die volk met ’n getalleoorwig regeer oor die ander, of die meerderheidsbesluit word bepaal deur ’n meerderheid in getal van die verskillende verteenwoordigers - dus, ’n gemengde regering saamgestel uit eendersdenkendes van die verskillende volke.
HORISONTALE EN VERTIKALE SKEIDING
Regeer een volk se verteenwoordigers oor al die volke se burgers, het dit die effek van horisontale magsverdeling. Die mindere volk se besluite stuit teen ’n plafon en kan slegs deurgevoer word met die goedkeuring van òf die meerdere volk òf ’n gemengde meerderheidsregering. As volk verloor die mindere volk sy vryheid. Hierdie horisontale skeiding kom verder na vore in byvoorbeeld bevoordelende werksreservering vir een volk se burgers bo die burgers van die ander volk binne dieselfde grondgebied. Waar almal burgers van dieselfde staat is, kan dan tereg aangevoer word dat dit diskriminerend is tussen burgers van dieselfde staat. Dieselfde voorbeeld is van toepassing op politieke gebied as politieke besluite op etniese grondslag in drie kamers van dieselfde parlement geneem word. Volgens die huidige grondwet kan die volk met die meeste verteenwoordigers (wat volgens volksgetalle bepaal is) die ander volke se besluite fnuik. Die mindere volke word horisontaal beperk tot besluitneming oor enkele sake. Die meerderheidsvolk aan die anderkant is eweneens nie vry in sy besluitneming nie want uit sy eie keuse het hy hom verbind tot mederegering met ander volke binne dieselfde gebied en hom verder daartoe verbind om nie sy eie grondwet te wysig sonder hul toestemming nie.
Teenoor hierdie horisontale plafonvasstelling, horisontale apartheid, of soms genoem baasskap, word dikwels gepraat van vertikale skeiding. Vertikale skeiding in ’n volksopset lei ook tot absurditeite as dit slegs tussen burgers van dieselfde staat en nie tussen volke met eie state toegepas word nie. Dit spreek uit die volgende voorbeeld: Wit, Bruin, Swart en Geel het elkeen sy eie huis in dieselfde straatblok. Die gesinshoof regeer op sy erf, maar wie regeer oor die dorpsgebied? Elke huiseienaar/bewoner het tog stemreg vir die stadsraad. ’n Ander voorbeeld: Wit, Bruin, Swart en Geel is almal lede van dieselfde klub maar daar word binne dieselfde gebou aparte kleedkamers ingerig. Vertikaal skyn daar skeiding te wees, maar wie beheer en regeer die klub?
Die beginsel van vertikale skeiding raak sinvoller as dit op bepaalde grondgebiede van toepassing gemaak word - hoe groter die gebied hoe sinvoller. Aparte dorpe of groepsgebiede neig na die meer sinvolle. ’n Mens sou kan sê ’n groepsgebied vir Blankes en byvoorbeeld Bruines is in die kleine sinoniem aan ’n landsgebied vir elkeen waarbinne hy self leef en self regeer. In beginsel is dit korrek, maar as dit in die praktyk blyk dat hy slegs in die betrokke gebied slaap en in die ander gebied leef en aanspraak op seggenskap maak om oor beide gebiede te regeer, begin dit weer lyk na ’n huis met vier slaapkamers - een elk vir Blank, Bruin, Swart en Geel met ’n gemeenskaplike studeerkamer, eetkamer, sitkamer, spens, kombuis, bad- kamer en latrine. Die vraag is dan, wie is die draer van die sleutel en wie kan vir wie waar uitsluit?
Vertikale skeiding raak alleen sinvol as elke bevolkingsgroep se gebied so groot is dat hy sinvol daarbinne kan bestaan en alleen die beheer oor die voordeursleutel het. Binne sy gebied moet hy in terme van sy volkshuishouding nie net sy eie slaapkamer hê nie, maar ook sy eie studeerkamer, eetkamer, sitkamer, spens, kombuis, badkamer en latrine en, bes, ook sy eie tuin! Daar moet hy vry wees om oor sy gesin te regeer, hulle te leer, op te voed, te versorg en te laat werk.
Te lank het ons gehuiwer om vertikale skeiding sinvol deur te trek tot sy volle konsekwensie. Ons het met enge visie geglo dat dit goed en ver genoeg is om aparte slaapkamers te skep met al die ander vertrekke gemeenskaplik. Ons Blankes het gedink ons beheer die huis want ons dra die voordeursleutel. Agterdeure, sydeure, en vensters wat eweneens toegang verleen, is buite rekening gelaat. Groepsgebiede, wat niks meer is nie as slaapkamers, terwyl die res van die land gemeenskaplike vertrekke is, is geen oplossing nie. Die visie en die beginsel moet, hoe pynlik aanvanklik ook al, deurgetrek word en iets groots, trots en sinvol moet tot stand gebring word: ’n eie volkshuis met alle geriewe wat die eienaar kan bekostig, benut, versorg en skoonhou. ’n Huis waarvan hy alle sleutels dra en self besluit of hy deure oop- of toesluit en vensters oop- of toemaak. Dit kan alleen teweeggebring word deur partisie.
VOLKSEIENDOM PRYSGEE?
Die argument teen sinvolle partisie is dat ek dan deeI van my volkseiendom prysgee. Ons weet egter hierdie Bruine, Swarte of Gele sweef nie in die lug nie. Hy bewoon tans minstens een slaapkamer in die huis waarvan ons hierbo gepraat het. As hy daardie slaapkamer ontruim, word 30 vierkante meter beskikbaar vir my gesin en as hy dan elders 30 vierkante meter verkry, het ek nog niks verloor nie - ons het net sinvol geruil.
HOË KOSTE
’n Ander argument is die hoë koste. Almal is dit eens dat, byvoorbeeld, die Kleurling iewers in ’n huis moet bly. Hierdie huis kos argumentshalwe R10 000,00. Of die Blanke of die Kleurling betaal die prys vir die bou van hierdie huis. En in die toekoms sal daar nog honderdduisende van hierdie huise gebou word. Hieroor stem Prog, Nat, KP en HNP almal saam. Die eerste verskil is, waar moet hierdie huise gebou word? Laat ons vir eens en vir altyd partisie toepas - daar is die Kleurlinggebied en daar word die toekomstige huis gebou.
WIE MOET BETAAL
Die tweede vraag is, wie moet betaal?. Die antwoord is: dieselfde persoon wat sou betaal as die huis vandag iewers gebou sou word - as die Blanke vir daardie huis wou betaal as hy in Pretoria gebou word, waarom dan nie as hy in die Kleurlingland gebou word nie? As die Kleurling vir sy eie huis moet betaal, wat is die verskil of hy die R10 000,00 vir dieselfde huis in Pretoria betaal of in sy eie land? Iemand moet iewers vir hierdie huis betaal as ’n huis nodig is; en iewers moet daar 10 000 of 20 000 vierkante meter vir hierdie huis gevind word. Dieselfde beginsel geld of dit ’n erf, ’n dorp of ’n plaas is.
PARTISIE SAL NIE MEER KOS NIE
Sinvolle, beplande partisie sou oor die jare heen die Blanke nie meer kos of met minder grond laat as wat dit hom sou kos, of aan grond laat, as wanneer die ander volke tussen ons bly nie. Die teenoorgestelde is eerder waar, want as alle volke met hul aanwas ’n staanplek in die jaar 2050 moet hê, sal die grond in beslag geneem deur die Blanke voete waarskynlik nie meer as 10 tot 20 persent wees van die oppervlakte wat vereis sal word vir staanplek vir al die bewoners van die RSA nie. Elke volk moet sy afgebakende staanplek deur vroegtydige partisie verkry. As enige volk dan so aanwas dat hy nie meer staanplek binne sy gebied het nie, laat hy sy eie mense raaktrap en nie sy staanplek op ’n gemeenskaplike terrein jaarliks verruim en daardeur die burgers van die ander volk knel, hul staanplek verklein en hulle uiteindelik versmoor en vertrap nie.
Vervolg...