LIGGAAMDEURSTEKING

Die openbaarmaking van die Antichris is voor die deur. Dis aan die wêreldwye oplewing in die heidendom te sien; ook hier in ons land. Na die prysgawe van politieke mag in April 1994 het Suid-Afrika ’n ongekende terugkeer na die heidendom beleef. Dink aan die beeldmateriaal van die toordokter-voordanser tydens die inhuldiging van Nelson Mandela as president.

 Mandela is kort na sy vrylating terug na sy geboortegrond (Oos-Kaap) om sy voorvadergeeste vir sy vrylating te gaan dank.   Daarna het ’n NG Sinode hom soos ’n held ontvang en “Laat Heer u seën op hom daal” toegesing!

Die ongekende terugkeer na die heidendom kan onder andere aan die toename in velinsnydings, liggaamsdeursteking, neus- en wenkbrouringe, tongknopies, oorringe, tatoeëring en ander liggaamlike mismaaksels gesien word.  

Twee van die opvallendste heidentekens is tatoeëring en liggaamsdeursteking. Dit kom basies by alle heidennasies voor en is sigbare tekens dat so ’n persoon nie aan die lewende God behoort nie. Die Bybel is duidelik daaroor.   “Julle mag ook geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here” (Lev.19:28).  God roep gelowiges op om heilig (afgesonderd) vir Hom te leef. Die argument: ” Maar almal doen dit” geld beslis nie vir gelowiges nie.

Die Bybel roep gelowiges op om nie aan die wêreld gelykvormig te word nie: “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet.2:9).   Gelowiges kom juis uit die duisternis na die lig en gaan nie terug op hul spoor nie.  

Gelowiges moet hul liggame met agting bejeën. Dis nie ons eie om daarmee te maak wat ons wil nie. Die Heidelbergse Kategismus sê dat ons nie aan onsself behoort nie, maar met liggaam en siel aan God.   Ons liggaam behoort aan Hom wat ons gemaak het.   Daarom is ons liggaam ’n tempel van die Here solank as wat dit ons siel huisves. Wat na die dood daarmee gebeur, is onbelangrik.

Die Bybel vertel van heidene wat hul liggame mishandel het. Die gebeure by Karmel is ’n treffende voorbeeld: “En hulle het hard geroep en hulself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het” (1 Kon,18:28). Let daarop dat dit volgens hulle gebruik was om hul liggame te skend.  

Die besetene van Gadara het sy liggaam met klippe stukkend geslaan en naak rondgeloop.   Satan haat God en laat mense hul eie liggaam wat ’n tempel van die Here is, mismaak.   In Rigt.8:24 word van Ismaelitiese mans gepraat wat aan die dra van goue oorringe as heidene uitgeken is.

’n Deursteekte oorlel was in Bybelse tyd ’n aanduiding van voortgaande slawerny.   By geleentheid het God met Jakob oor gruwels in sy gesin gepraat waarna Jakob almal wat vreemde gode in hul besit gehad het aangesê het om dit asook die ringe aan hulle ore vir hom te gee: “Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode …. en die ringe aan hulle ore en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is…” (Gen.35:4).

Oral waar heidene tot bekering kom, raak hulle vrywillig van heidense simbole ontslae.  Hulle word onmiddellik van tradisionele booshede bewus en laat vaar dit omdat dit met hul nuutgevonde geloof bots: “Julle mag nie agter ander gode aanloop uit die gode van die volke wat rondom jou is nie” (Deut.6:14).  

Dis vir ’n gelowige man onvanpas om ’n oorring te dra. Wat vir ’n vrou gepas is, is nie noodwendig vir mans gepas nie. Slawe het in die OT oorringe gedra. Dit wat deur die wêreld slaafs nagevolg word, is selde vir gelowiges geskik.

Gelowiges is vry in Jesus. Dit beteken nie dat jy kan doen wat jy wil nie: “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie…” (Gal.5:13). Die Christelike vryheid mag nooit ’n dekmantel vir boosheid wees nie. “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Gal.5:1).

Geen gelowige durf heidense gebruike goedpraat nie. Om liggame te deursteek of met tatoeëring te bekrap, is ’n ontwyding van die liggaam as ’n tempel van God. God straf dit: “Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?   As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle” (1 Kor.2:16,17).

Hosea beskryf die straatvroue van die Bybel as vroue met neusringe en baie halssierade om die oog te vang (Hos.12:2).   Hoe verskil dit nie van die Bybelse opdrag om beskeie en ingetoë te wees nie! “Hoogheid van oë en trotsheid van hart – die glans van die goddelose is sonde” (Spr.21:4).   “So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid; nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke” (1 Tim.2:9.10).

Kyk na die gesigte van mense wat getatoeëer en/of deursteek is. Getuig dit van ’n gesonde siel? “Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle en hulle sonde maak hulle bekend…” (Jes.3:9).   Hulle gesigte sê baie duidelik dat hulle slawe van sonde is.    

Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal.2:20). Kinders van God moet vry van heidense simbole wees. Geen gelowige sal uit vrye wil hul liggame laat tatoeëer of deursteek nie.    

Dis tragies om te sien hoeveel kinders van gelowige ouers hulle met heidense simbole mismaak.  Dit verrot die verstand, verdoof die brein en vul jongmense se gemoed met die dinge van Satan.   Die breinspoelingseffek hiervan maak hulle koud vir die dinge van God: “Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie” (Rom.3:18).

Gelowiges moenie soos die wêreld doen en/of lyk nie: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor.7:1).

Die mens het net een lewe. Leef reg want Jesus is op pad en Hy kom as Regter.  “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor.5:10). Dit gaan nie net oor dinge wat ons deur die liggaam verrig het nie, maar ook met die liggaam gedoen het. Wees derhalwe anders as die heidendom: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus” (1 Thess.5:23).