NEE VIR ‘GAY PRIDE’ – JA VIR VOLKSTROTS!

Die doel van hierdie artikel is nie om oplossings te bied nie maar om te verduidelik waarom die Blanke en in die besonder die Afrikaner in hierdie land, so laag gedaal het dat hy vandag verteenwoordig is by die GAY PRIDE-byeenkoms in Kaapstad. Dat sy huidige toestand, wat ‘n lang lys veragtelike dinge insluit waaronder aborsie, Sabatsontheiliging en losse sedes, direk toegeskryf kan word aan die verlies van selfrespek en volkstrots, is iets wat ons eers moet verstaan voordat daar herstel kan plaasvind.

Daar is ‘n verskil tussen selfrespek en volkstrots alhoewel dit sterk geïntegreerd saamwerk om ‘n volk te maak of breek. Selfrespek wys meer na die respek wat ‘n persoon vir homself koester terwyl volkstrots duidelik staan vir individue wat almal saam trots daarop is om aan dieselfde volk te behoort. Maar indien selfrespek by die individu ontbreek, kan daar nie sprake van volkstrots by hom wees nie.

Ten spyte van die verset teen apartheid was daar vroeër altyd respek vir die integriteit van die Afrikaner. Dit het egter drasties verander. Trouens, talle Wit Afrikaanstaliges wil selfs nie "Afrikaners" genoem word nie – jy tas hulle eer aan as jy hulle so noem.

Daar moet eerstens aanvaar word dat die Afrikanervolk, soos alle volke, bestaan uit mense met uiteenlopende sienswyses en oortuigings. Daar is nasionaliste – dit is diegene wat trots is op hulle herkoms, taal en geskiedenis. Dan is daar internasionaliste – dit is diegene wat lou staan teenoor dié waardes. En dan is daar liberaliste – hulle is vyandig teenoor hierdie waardes. Daar is ook gelowiges, ongelowiges en ateïste en nog ‘n lang lys van verskille maar bg is genoeg om aan te toon hoe moeilik dit sal wees, indien nie onmoontlik nie, om oplossings aan die hand te doen waardeur die Afrikaner se selfsrespek herstel kan word en wat die uiteenlopende, botsende en in sommige gevalle onversoenbare standpunte van die groepe in Afrikanergeledere tevrede sal stel.

Waarskynlike redes vir die verlies :

AANTASTING VAN GELOOFWAARDIGHEID VAN DIE KERK

  • Vir dekades lank het die kerk die standpunt gehandhaaf dat afsonderlike ontwikkeling Skriftuurlik regverdigbaar is, en tog, toe die politieke gety na links swaai onder druk van die liberalisme en anti-apartheidsveldtog het die NG Kerk, die grootste Afrikaanse kerk, verklaar dat apartheid sonde is.
  • Vir 50 jaar lank het al die Afrikaanse kerke die Bybel soos dit in 1933 in Afrikaans vertaal is, aanvaar en voorgehou as die onfeilbare en volkome Woord van God en bely dat daar nie aan die Woord van God bygevoeg en weggelaat mag word nie. In 1983 aanvaar die Kerke egter 'n "nuwe vertaling" wat ingrypend verskil van die 1933 vertaling en waarin daar talle weglatings en byvoegings voorkom terwyl daar nog steeds bely word dat weglatings en byvoegings deur God verbied is.

AANTASTING VAN GELOOFWAARDIGHEID VAN 'N BLANKE OWERHEID

Leuens en misleiding was helaas kenmerkend van die politiek sedert die dood van dr Verwoerd, toe die meerderheid kiesers keer op keer suksesvol oortuig is dat afsonderlike ontwikkeling steeds die beleid van die NP was, terwyl daar daadwerklik beweeg is na volledige integrasie en totale oorgawe soos ons dit vandag ondervind.

VERDEELDHEID ONDER AFRIKANERS

Die verdeeldheid en die gepaardgaande stryd tussen Afrikaners en die noodwendige aanvalle op mekaar, het 'n onvermydelike negatiewe uitwerking gehad op die selfrespek van alle Afrikaners.

TOENEMENDE BETROKKENHEID VAN AFRIKANERS BY MISDAAD

In teenstelling met die beeld van die Afrikaner in die verlede, het die toename in betrokkenheid van Afrikaners by misdaad 'n ernstige uitwerking op die selfrespek van die Afrikaner. In hierdie opsig het die oneerlikheid en korrupsie in die hoogste Afrikanerkringe sekerlik 'n uiters nadelige invloed op alle lae van die bevolking gehad.

VERBROKKELLING VAN TRADISIONELE MORELE WAARDES ONDER AFRIKANERS

Die geweldige toename in egskeiding en die vernietigende uitwerking op gesinne, gepaardgaande met 'n grootskaalse verwerping van tradisionele morele waardes onder Afrikaners, kon nie anders as om die selfrespek van die Afrikaners te benadeel nie. In hierdie opsig kan die ongeëwenaarde media-aanslag deur musiek, rolprente, radio, televisie, tydskrifte en koerante, en veral die Amerikaanse invloed, nie buite rekening gelaat word nie.

ONKUNDE MET BETREKKING TOT ONS GESKIEDENIS EN DOELBEWUSTE VERDRAAIING DAARVAN

Die verdraaiing van geskiedenisonderrig op skool en die nalatigheid van ouers om hulle kinders enigsins in te lig aangaande ons geskiedenis, het 'n geslag voorgebring wat grotendeels sonder respek is herkoms. Gepaardgaande hiermee het die ongeëwenaarde wêreldwye anti-apartheidsveldtog gesorg vir 'n stroom van aftakeling van die Afrikanergeskiedenis waarteen die jong Afrikaner, weens 'n gebrek aan kennis, nie opgewasse is nie.

WÊRELDWYE VELDTOG TEEN RASBEWUSTHEID VAN DIE AFRIKANER

Hierdie veldtog wat vir dekades lank teen Afrikaners gevoer is, het by groot getalle Afrikaners, veral van die jonger geslag, 'n skuldgevoel gekweek ten opsigte van ons volk se tradisionele oortuiging om Blank te bly. In hierdie veldtog het die Afrikaanse kerke, predikante en teoloë 'n groot rol gespeel en het die NP-regering ná die moord op dr Verwoerd opgetree as die effektiefste bondgenoot van die VVO se Anti-apartheidskomitee. So suksesvol was hierdie gesamentlike aanslag dat daar by sommige Afrikaners, selfs in sogenaamde regse geledere, 'n huiwering is om enigsins van rassisme beskuldig te word. Vandaar dan ook die teensinnigheid om ras (Witmanskap) as fundamentele eienskap van 'n Afrikaner te erken.

VERRAAD VANUIT NP EN REGSE GELEDERE

Die verskrikllike verraad van die NP en sy leiers teen die Afrikanervolk, deurdat hulle die meerderheid deur misleiding meegevoer het op 'n pad na oorgawe aan 'n Swart kommunistiese bewind, het by baie Afrikaners so 'n veragting tot gevolg gehad dat dit noodwendig hul selfrespek afgetakel het. As daarby gevoeg word die verraad wat binne regse kringe plaasgevind het waardeur weerstand teen die NP-optrede keer op keer geneutraliseer is, word die skade aan Afrikaners se selfrespek des te groter en begrypliker. 

DIE MEDIA

Die rol wat die media gespeel het om die Afrikaner se selfrespek af te takel, kan nie oordryf word nie. Op elke denkbare manier is die Afrikaner in die pers, oor die radio, op die verhoog, oor die televisie en in die letterkunde verkleineer, bespot en aangeval terwyl sy prestasies meesal 'n tweede plek moes inneem. Die geweldige mag van die media is in hierdie veldtog ten volle aangewend.

KENNIS TEN KOSTE VAN OPVOEDING

Sonder om die belangrikheid en noodsaaklikheid van kennis en geleerdheid enigsins te onderskat, kan die vraag tog gestel word of opvoeding – ontwikkeling van die karakter – in huis en skool nie in die afgelope dekades 'n te geringe plek ingeneem het nie.

OORGAWE SONDER WEERSTAND

Die grootste oorsaak van die Afrikaner se verlies aan selfrespek moet waarskynlik gesoek word in die bloedlose en vernederende prysgawe van sy vryheid op 27 April 1994 aan die Swart kommunistiese regime. Hierdie gebeurtenis het ons vriende in die wêreld met verbasing en skok vervul en elke Afrikanernasionalis met skaamte en ongeloof.

Wanneer daar dan gepoog word om die Afrikaner se selfrespek en historiese bewussyn te herstel, word dit gedoen vanuit die uitgangspunt dat die ‘Christelike en nasionale’ , die grondliggende beginsels is en was van die ware Afrikanernasionalis, wat Blank is en steeds wil bly, soos byvoorbeeld verpersoonlik in groot figure soos pres Paul Kruger, genls De Wet en Hertzog, dr Malan, adv Strydom en dr Verwoerd.

Ons moet aanvaar dat die Blankes, die Afrikaners, en veral die ware Afrikanernasionaliste (die geestelike en biologiese afstammelinge van die Voortrekkers en die Boere)  steeds 'n klein minderheid in Suid-Afrika is en sal bly. Ons nasietrots kan nie herstel word deur massa-optredes of deur groot getalle nie, maar ‘n goeie wegspringplek is deur 'n ware geloof, nederige vertroue en gehoorsaamheid aan die Almagtige God, 'n onverskrokke toewyding aan ons saak en 'n strewe na uitnemendheid op alle terreine. En hierdie taak wag op elke Blanke Afrikaner sodat sy selfrespek sal herstel en hy weer deel uitmaak van die volk wat trots op sy bestaan is.  Dan alleen sal dit goed met ons gaan.