Jeanette Koekemoer
Reeks by NP-Verraad - Ons volk vandag
ALMAL DUBBELE AGENDAS...
"Zille was destyds bereid om onder eed te verklaar dat "geeneen" (sou sy die brief gesteel het?) die brief aan haar gegee het nie maar haar woord beteken nie veel nadat ons haar later beter leer ken het nie."
Daar was geen vrede in die Transvaalse nasionale geledere nadat Treurnicht tot Transvaalse leier van die NP verkies is nie. Die skokke van die Inligtingskandaal het Transvaal geruk en die feit dat die vorige Transvaalse NP-leier volkome gediskrediteer is en moes bedank is nie goed hanteer onder leiding van die adjunk-minister wat skielik tot een van die magtigste posisies in die Suid-Afrikaanse politiek verhef is nie.
Treurnicht het voortgegaan om ideologiese paadjies te soek, spesifiek regs van die Regering maar nie oortuigend nie. Al het hy hom nie juis teen Partyleiding verset nie was die gevolge in alle geval botsings omdat dit soos regse houe vir hulle gevoel het – die skoen het goed gepas. Verder het Treurnicht hom op ondersteuners beroep om die PW-ondersteuning uit die Partyleiding in die Volksraad te werk sodat hyself opgang sou kon maak.
In die jare sestigs het Albert Hertzog in sy opregte poging om die verraad in die NP te ontbloot 'n ondersteuningsgroep saamgetrek wat in die Herstigte Nasionale Party geëindig het. Treurnicht het met slim beplanning met hierdie groep saamgewerk totdat hy op die nippertjie kop uitgetrek het. Nou het hy homself in 'n soortgelyke situasie bevind – en daar is gewonder wat Treurnicht nou sou doen as die oomblik van waarheid aanbreek.
Eers het alles vir hom goed verloop; hy het daarin geslaag om voormalige Hertzog-ondersteuners 'n rat voor die oë te draai. Daar was ook LV's soos Jan van Zyl, (Sunnyside), en Daan van der Merwe (Rissik). Veral een Kabinetslid, die Wes-Transvaler, Ferdi Hartzenberg, het hom openlik by Treurnicht geskaar. Ook SP Barnard van die Randse politiek, en Koos van der Merwe van Jeppe, asook Willie van der Merwe van Meyerton, het hulle gewig by Treurnicht ingegooi. Daarby kan genoem word Casper Uys van Barberton en Tom Langley van Waterkloof, nog manne wat teen minister Fanie Botha gekant was en meestal manne wat ondanks jare lank op Volksraadsbanke, geen bevordering gekry het nie.
Die eerste noembare insident van onmin nadat Treurnicht Transvaalse leier geword het, het plaasgevind nog voor hy minister geword het – spottenderwys genoem die "Bols-grap". Die aanleiding daartoe was 'n grappie wat Treurnicht op 19 Februarie 1979 op Bloubergstrand vertel het tydens sy verjaardag waar die Nasionale Parlementslede van Transvaal en hulle vroue teenwoordig was. Fanie Botha, sy verslane opponent, het pas 'n heildronk op hom ingestel waarna Treurnicht vertel het dat wyle Kosie Gericke, Moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, op 'n dag aan hom vertel het dat hy 'n sinode in Nederland bygewoon het waar baie gepraat is oor die moontlike hulp van die Nederlandse sinode aan terroriste. Hierna nooi die Nederlandse moderator toe vir Gericke om 'n "glasie Bols" saam te geniet, maar Gericke antwoord dat hy reeds na genoeg "Bols" geluister het. Daar was sekerlik nog 'n paar sinspelings oor die bewoording in die grappie, en adv Louis Nel neem toe aanstoot aan die manier waarop Treurnicht na min Botha verwys wie na syns insiens te na gekom was. Hy rig toe die volgende dag dié brief aan Treurnicht:
"Beste Andries,
Na my besondere oordeel het jy 'n grap vertel en verwysings gemaak wat sowel vulgêr as onvanpas was vir 'n persoon met jou besondere agtergrond en posisie. Ek het die indruk gekry dat jy een van die manne wou wees, maar ongelukkig vergeet het dat daar dames in die geselskap was. Jy het 'n onsmaaklike verwysing gemaak na wat alleenlik geïnterpreteer kan word as die geslagsorgane van mans.
Benewens my eie verleentheid by die aanhoor van jou storie, het 'n Engelssprekende lid van die publiek later gereageer met die woord: 'Afrikaner gutter wit.'
Dit het my weer eens getref dat jy vir die soveelste keer jou humor bind aan 'n verwysing na òf die Bybel òf die bediening. Tewens, ek het jou nog nooit 'n humoristiese storie hoor vertel waarin dit nie voorgekom het nie. Ek en sekerlik ook elke ander Christenmens wat dit moes aanhoor, het daaroor verleë en ongemaklik gevoel.
Jou toespraak was, in die woorde van die seremoniemeester, 'n antwoord op die gelukwensing en toespraak van min Fanie Botha. Gedagtig aan die feit dat min Botha onlangs die onderspit teen jou gedelf het, kan sy toespraak as niks minder nie as ridderlik en in die beste smaak en tradisie van Afrikaner-ordentlikheid beskrywe word. Jy mag dit miskien nie so bedoel het nie en 'n versekering van jou sal my hieroor tevrede stel, maar ek het die indruk gekry dat jy deur middel van die beeldspraak van jou storie min Botha se toespraak wou afmaak as van geen waarde nie.
Jy moes sekerlik agtergekom het dat 'n verbasende klein ovasie jou te beurt geval het ná jou toespraak.
Ek beskou dit as 'n aangeleentheid waar 'n leier 'n verleentheid was vir sy kollegas en volgelinge, en aangesien dit in die openbaar was, en gedagtig aan die reaksie vanuit daardie oor, ook 'n verleentheid vir die Afrikaner. Ek voel dat dit 'n aangeleentheid is wat deur die Transvaalse swepe met my bespreek moet word en ek stuur derhalwe aan elkeen van hulle 'n afskrif van hierdie skrywe.
Ek wil met hierdie skrywe geensins te kenne gee dat ek of enigeen wat teenwoordig was sonder sonde is nie, inteendeel. Maar die vereistes van gewone respektabelheid plaas onteenseglik 'n perk en dissipline wat nie verontagsaam mag word nie op elkeen na wie opgesien word as leier.
Ek glo dat, as hierdie skrywe 'n herhaling van hierdie ongelukkige gebeure in ons geledere kan voorkom, my standpunt die hoogste belange van die Nasionale Party en van ons almal sal dien.
Met beste groete,
Jou vriend,
Louis Nel, LV."
Treurnicht het dieselfde dag 'n brief aan Nel teruggeskryf, wat nie destyds nie maar later deur die joernaliste, Alf Ries en Ebbe Dommisse, openbaar gemaak is:
"Geagte Louis,
Ek het jou brief ontvang. Jy is die heel eerste persoon wat in die onderhawige grappie 'n onbehoorlike verwysing na manlike geslagsorgane sien – en ek het die ou grappie baie male al vertel. Ek het nog nooit so daaraan gedink nie en ek poseer nie as onskuldiger as ander mense nie. Dit is net nie vir my 'n assosiasie nie. My vrou ken daardie grappie en sy het my nog nooit gewaarsku dat dit onbehoorlik is nie, om die eenvoudige rede dat ons glad nie daardie verband lê nie.
Wat my reaksie op min Fanie Botha se toespraak betref, het ek volle waardering daarvoor betuig en het ek ook nog enige negatiewe sinspeling uitdruklik teëgespreek – (waarom was dit nodig as alles onskuldig bedoel is...) Juis omdat ek bewus was en is van 'n sekere gevoeligheid wat mag bestaan was dit bewustelik nie my bedoeling om enige vals noot te uiter nie.
Ek dink nie dis nodig om op die res van jou brief te reageer nie. Kollegas het uit hul eie my kom gelukwens met my woordjie en die eerste persoon teenoor wie ek jou reaksie genoem het, was verstom.
Ek is nietemin bereid om apologie aan te bied en ek begin ook inderdaad deur dit aan min Fanie Botha aan te bied.
Groete,
Andries Treurnicht."
Maar dit was 'n leuen, Treurnicht het nie apologie aangeteken nie. Adv Nel het vermoed dat Treurnicht-volgelinge druk op hul leier uitgeoefen het om dit nie te doen nie. Adv Nel se brief, daarenteen, het beroering veroorsaak nadat dit in die koerante uitgeslaan het. Dit het selfs in die Rand Daily Mail verskyn wat sedert 1948 'n geswore teenstander van die Nasionale Party was – en dít vertel boekevol...
Ook was daar dadelik tugstappe teen Nel, en gerugte dat hy of een van sy kollegas die brief aan die media gegee het – veral Barend du Plessis se naam is genoem . Hy het dit ontken en ook aan die politieke beriggewer van die Rand Daily Mail, Helen Zille, 'n lys met die name van die 22 LV's gegee wat vir min Pik Botha in die premiersverkiesing gestem het. Zille was destyds bereid om onder eed te verklaar dat "geeneen" (sou sy die brief gesteel het?) die brief aan haar gegee het nie maar haar woord beteken nie veel nadat ons haar later beter leer ken het nie.
Pik, wie later ook bewys het dat sy woord geen waarde in waarheid dra nie, het daarna te kenne gegee dat Treurnicht-volgelinge die brief in die Engelse pers gespeel het, wat opsigself nie sou verbaas nie maar, nogal nê - "... net soos vroeëre lekkasies uit die NP via die Hertzog-groep by die Engelse pers uitgekom het." Want as ons moet lieg, dan lieg ons goed en behoorlik, nê Pikswart!
Alhoewel Treurnicht dit betwis het is daar in hierdie tyd gerugte versprei dat daar 'n "verkrampte" aanslag gemaak sou word op die setels van verligte LV's wat ministers Pik en Fanie Botha ondersteun het. Barend du Plessis se naam is heel eerste genoem as "die verkramptes se aartsvyand". Ook die name van Paul Bodenstein, Sam de Beer, Pietie du Plessis en Leon Wessels is hierby ingesluit. Dit het gelei tot 'n buitengewone koukusvergadering van die Transvaalse Nasionale Parlementslede waar Barend du Plessis die enigste was wat adv Nel verdedig het. Die saak is na die dagbestuur van die Transvaalse NP verwys maar juis omdat daar tot op hierdie tydstip geen dissiplinêre optrede teen Connie Mulder plaasgevind het nie, kon daar nie summier teen Nel opgetree word nie. Daarom het die dagbestuur 'n drieledige ultimatum as lokval aan Nel gestel:
1. Hy sal omverskoning vra vir die skrywe, verspreiding en inhoud van die brief;
2. Geen verdere kommentaar op die aangeleentheid lewer nie;
3. En voor twaalf-middag op 9 Maart as LV bedank.
Nel het eers alles geweier en 'n versoeningsaanbod gedoen. Hy was later bereid om verskoning te vra vir die verspreiding van die brief maar nie om as LV te bedank indien hy nie lid van die NP bly nie.
Die dagbestuur het adv Nel op 9 Maart formeel uit die NP geskors. Op 'n perskonferensie daarna het Nel gesê dit sou vir die NP beter gewees het as hyself en Treurnicht tot 'n versoening gekom het, maar die ander wou dit nie hê nie.
Hy het volstaan by wat hy geskryf het.