Dr Danie Theron
“A man’s method of argument is a truer index in his beliefs than his explicit profession of beliefs … Therefore, it is of first importance whether a leader has the courage to define…”
Richards Weaver, The Ethics of Rhethoric
Dit is gepas dat ons in 2022, 100 jaar na Jaap Marais se geboorte en 22 jaar na sy afsterwe, oor sy rol in ons volk se politiek besin. Die afstand wat tyd bring, bring groter objektiwiteit in ons beoordeling.
Met voormelde in gedagte plaas ek Jaap Marais steeds in dieselfde kategorie van volksleiers as Paul Kruger en Hendrik Verwoerd. Waarom dan so?
U sien, daar was veral een kwaliteit wat Jaap Marais gehad het wat hom, soos Kruger en Verwoerd, van die res onderskei het. Hy was te eniger tyd netso onverskrokke. Hy het eenvoudig vir niks teruggedeins nie. Ek dink nie ons besef aldag hoe belangrik daardie kenmerk is nie.
Ek het Jaap Marais baie goed leer ken en was bevoorreg om baie gesprekke met hom te kon voer. Sy wyse van beredenering het van ‘n karakter getuig wat onvergelyklik was – trouens, ek het in my lewe niemand anders teëgekom wat met hom vergelyk kon word nie. Daar was iets van ‘n ingeboude, instinktiewe, eerder as ‘n berekende onverskrokkenheid, te bespeur. Jaap Marais het eenvoudig vir niks teruggedeins nie. En dit is omdat hy die moed gehad het om te definieer, om onderskeid te tref tussen wat reg en verkeerd was vir ons volk.
Daar is ‘n wesenlike verskil tussen opportunisme en onverskrokkenheid. Opportunisme is kortstondig en boonop dikwels nie gebaseer op ‘n vaste, onkraakbare karakter nie. Veel eerder spruit dit uit selfsug, hoogmoed, arrogansie of selfwaan, aangevuur deur die gedreun van die handeklap van die massas. Ons weet goed wie diesulkes in ons geskiedenis was. Onverskrokkenheid daarenteen, is gesetel in ‘n nasionalistiese beginselbasis – die karaktertrek wat ‘n Paul Kruger genoop het om Groot-Brittanje aan te durf en ‘n Hendrik Verwoerd wat die hele wereld aangedurf het. Jaap Marais het, vir sover dit vir hom beskore was, nie ‘n duim vir enigeen teruggestaan nie.
Sy toespraak oor die twaalf beginsels van Afrikanerskap (“Wat verwag die jeug van ons?”), vergelyk enige dag met Prof Tobie Muller se “Geloofsbelydenis van ‘n Nasionalis”. In daardie toespraak alleen bespeur mens die diepte van sy denke, die strekking van sy visie, die omvang van sy kennis, en sy suiwer begrip en intense meelewing vir ons volk se saak. Jaap Marais het gedefinieer, hy het grenslyne getrek, elkeen het presies geweet wat hy bedoel en sy vyande veral, waar hulle met hom staan. Dit het hom uniek gemaak. Dit het van hom ‘n leier gemaak.
Hy het soos generaal de Gaulle (na wie hy dikwels verwys het), wat in “vegtende Frankryk” geglo het, in sy wekroep “stryd is lewe” die onverskrokkenheid openbaar wat so raar sedert 1996 was.
Waarom het hy dan nooit eerste minister geword nie? Omdat die Nasionale Party van Vorster geteer het op die morele kapitaal van Verwoerd en niemand wou glo (danksy die prostitute in die media) dat daardie party ‘n kriminele bende was wat as Judasbokke die volk ter slagting gelei het nie. En hierdie feit kan nooit genoeg herhaal word nie. Dit wat Vorster, Botha en De Klerk aan ons volk gedoen het was verraad. In ‘n oorlog word sulke persone tereggestel. Om te midde van daardie oormag op te staan en weerstand te bied, soos wat Jaap Marais gedoen het, is enige dag netso groot heldedaad soos enige ander in ons geskiedenis.
As ons vandag soek na iemand wat die Afrikaner uit sy slawerny gaan lei, kyk verby die opportuniste, diegene wat gemeensaak met die vyand maak, wat sagpraat as harde woorde nodig is, wat weghardloop van ons rasverwantskap, wat nie meer praat van “ons land” nie. Hulle is nie te vertrou met die toekoms van ons volk nie.
Soek na onverskrokkenheid wat gesetel is in ‘n vaste karakter. iemand wat so onverskrokke was soos Jaap Marais. So ‘n leier sal die Afrikaner weer op die regte koers bring.
Ortega Y Gasset skryf in The Revolt of the Masses:
“All countries have passed through periods when those who should not rule has made the attempt to rule over them… They rejected the passing irregularity and thus reconstituted their morale as a people. But the Spaniard have done just the opposite … he has preferred to falsify all the rest of his being in order to bring it into line with that initial unreality.”
Vandag bemerk ons by talle volksgenote ‘n kleinverraad waar daar gemeensaak met die vyand gemaak word, eerder as om onverskrokke in die bresse te tree vir ons volk en ons vaderland. Daarmee word ons geskiedenis “vervals” en ons erfenis vermink. Daarom moet ons met nuwe ywer kyk en vashou aan die voorbeeld van Jaap Marais. Dis die morele grond wat ons moet betree.
As ons dit met mekaar roerend eens is dat ons nie hierdie regime en hierdie bestel aanvaar nie, geen solidariteit daarmee kan betoon nie, geen gemene deler vind met sy gepeupel se waardes nie en geen entoesiasme het vir ‘n toekoms in hierdie bose bestel nie, dog ons ontbreek aan ywer en optrede om dit te weerstaan, weet dan; ons gaan mank aan onverskrokkenheid. Ons is dan, soos die destydse Spanjaarde, besig om ons hele wese te vervals.
Die nasionale Afrikaner kon nog altyd, deur die gawe van onderskeiding wat hy besit het, onderskei tussen die vroompraters en die onverskrokkenes. In hierdie droewige tyd van ons volksbestaan is die helderheid van insig en die onverskrokkenheid van moed dit wat ons van ons leiers sal verwag. Vra u dan self die vraag af waar Jaap Marais van u sal verwag om vandag te staan. Nasionale Afrikaners ken tog die antwoord! Begeester dan u volksgenote met daardie selfde onverskrokkenheid!