Ds A.E. van den Berg
Verraad is ʼn misdaad wat in die verlede selfs met die dood gestraf is. Nadat die groot muur van China voltooi en as ondeurdringbaar verklaar is, is dit drie maal binnegedring deur die poortwagte óm te koop. Hulle is almal tereggestel.
Verraaiers is ʼn skandvlek op ʼn volk se geskiedenis. Dwase politici is minder gevaarlik as verraaiers omdat hulle ongestoord tussen hul eie mense beweeg, soos hulle lyk en dieselfde taal praat. Dis egter die enigste ooreenkomste. Heimlik ondergrawe hulle hul eie mense en plaas hulself buite die dampkring van hul volk. Van hulle het eerbare voorsate gehad. Dit het nie verhoed dat swart kuikens uit wit eiers broei nie!
Verraad begin altyd by heimlike onderhandelings met ʼn vyand:
“Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg” (Mt.26:14,15).
Geen burg of maagd bly ongeskonde as daar met onderhandelings begin word nie. Dis hoe die Boerevolk se vryheid jare gelede weggeteken is. Verraderlike politici en ontspoorde kerklui het die wanklanke van verraad vanaf podiums en kansels simfonies laat klink en soos die fluitspeler van Hamlin ʼn volk na sy ondergang gelei.
Politici en kerklui was so met hul eie dekbeeldige skuld besmet, dat hulle nie gehuiwer het om onkundiges daarmee te belas nie. Die gevolg is dat die Boerevolk nie deur ʼn vyandige mag tot ʼn prysgawe van mag gedwing is nie, maar eerder met voorbedagte rade deur die enorme masjien van politieke en kerklike verraad verpletter is!
Die geskiedenis is besig om hierdie verraaiers self te oordeel. Die kronkelpad wat hulle geloop het, laat hulle al hoe dieper in die dryfsand van hul eie onverskilligheid wegsink. Verraaiers is besig om hulself met versigtige voetwerk van die oorblyfsels van ʼn Christen-beskawing aan die suidpunt van Afrika te verskoon. Hulle mag nie daarmee wegkom nie!