SA SE POTJIEKOSBELEID

Rassebotsings en openlike rassehaat is sedert die magsprysgawe in 1994 aan die orde van die dag.  Ons pluk tans die wrange vrugte van 'n ideologie wat net so onwerklik soos kersvader is.  Selfs swartes moes op die harde manier leer dat gedwonge rassevermenging skadeliker as gedwonge rasseskeiding is. Om uiteenlopende kulture in 'n kitsvermenging in te dwing, is 'n resep vir chroniese rassehaat en nimmereindigende moeilikheid.

In plaas daarvan om die Bybelse waarheid van rasseverskeidenheid te erken en te eerbiedig, beywer dwase hul onverpoosd vir 'n kunsmatige sameflansing van rasse.  Rassevermenging is 'n bose aanslag op die handhawing van 'n eie volk.  Ons behoort die Skepper eerder vir ‘n wêreld van verskeidenheid te loof, anders sou ons ook van eendersheid en verveling omgekom het!

Ons land se volkereverskeidenheid is in die smal dog helende eenrigtingstraat van ideologiese nasiebou ingedwing. Gevolglik misluk alle pogings om ons binne die kulturele dwangbuis van 'n reënboognasie in te dwing.  Kom ons wees eerlik: Was rasse-en volkereverhoudinge al ooit so besoedel soos nou?

Onder die ANC regering word die Boerevolk min ruimte gebied om sy eie kultuur uit te leef.  Swartes staan altyd gereed om dit wat blankes hul eie wil maak, as ‘n onreg te brandmerk en aan die groot klok te hang.  Met swart onregskeppings is daar egter nooit fout nie.

Die natuur sowel as die geskiedenis leer dat dwang altyd in verset oorgaan.  Gevolglik ly mense se dwase pogings om rasse-ongelykheid gelyk te skaaf, altyd skipbreuk.  ‘n Beleid wat rassegelykheid en vermenging afdwing, veroorsaak altyd konflik en wanorde.  Waar rasse gedwing word om saam te leef, verander rasseverskille altyd in rassegeskille.  Sulke geskille skep onoorbrugbare afstande.

Daar is net een haalbare oplossing:  Hou die verskillende rassegroepe sover as moontlik uitmekaar. Ons land se morele herstel lê allermins op die weg van ‘n samesnoering van rasse en kulture, maar juis in die erkenning en eerbiediging van rasse – en volkereverskeidenheid.

Die wêreldwye oplewing van rassebewuswording waaroor die liberale nuusmedia tans in alle tale swyg, is nie op die beginsel van rassemeerderwaardigheid gegrond nie, maar op die reg van 'n volk om homself te wees.  Wie dié beleid as rassehaat afmaak, is kortsigtig.  Rassegelykheid en rassevermenging is 'n onwerkbare karikatuur wat ons duur te staan kom.  Die ANC se potjiekosbeleid is en bly 'n onsmaaklike konkoksie.