Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het by geleentheid gesê dat dit geen kuns is om dood te gaan nie; selfs die slegste mense kry dit reg. Maar weet jy wat is ‘n kuns? Om sinvol te leef! Baie van die wêreld se vooraanstaandes kry dit nie eens reg nie!
BROKKIES UIT DIE BOEK –OUMANSLAND (3)
)
“Nee, boet, ek werk vir my geld. Kry vir julle ‘n offisier.”
“Jy is die afgelope jare ons leier. Jy was die reaksiemag se sammajoor. Al wat ons jou nou vra, is wees dan ons bevelvoerder.”
“Bevelvoerder vir wat? Ons is nie in ‘n oorlog nie. Wel, ons is eintlik. Ons is in die pot besig om te kook in hierdie koue oorlog, maar ons kan nie openlik ‘n weermag wees nie. Ons is net ou manne wat ‘n bietjie gesonder word en leer om weer te kan skiet. Nee, die regte leier en bevelvoerder sal nog kom, ‘watch’ net. Intussen kan ons niks doen nie, anders is die veiligheidspolisie op ons en vat hulle ons wapens.”
‘Dawie, dan is daar nog ‘n ander ding.”
“Sê maar.”
“Daar is van die vrouens en kinders wat sê hulle wil ook leer skiet en fiks word.”
“So, wat is die probleem? Ek kan nie sien dat dit seer kan maak nie. Hulle kan maar kom.”
*
Net voor twee uur die nag hoor Dawie iets by die venster. Elke man in Suid-Afrika is bewus van die groot hoeveelhede moord, verkragting, en marteling wat gepaard gaan met huisbraak. In jou bewuste en onderbewuste lê die besef dat jy volgende kan of gaan wees. Daarom is Dawie helder wakker die oomblik as die geluid deur sy slaap dring.
“Vrou, daar is iets by die venster,” fluister hy.
Hulle het lankal reeds ‘n plan geoefen vir as so iets sou gebeur en Petra gly van die bed af, sit langs die bedkassie in die hoek, met haar eie wapen in haar hande. Dawie vat sy .357 Taurus, ‘n skerp flits en loop tot langs die venster, teen die muur. Dan hoor hy ‘n bekende stem van buitekant af. Alhoewel die persoon fluister, herken Dawie hom dadelik.
“Maans! Wat maak jy hier in die middel van die nag?”
*
Drie weke vantevore
Maans, Tonia en hulle tweeling tieners, Mandie en Manie, is op pad terug van Pretoria, waar hulle Tonia se ma in die ouetehuis gaan versorg het. Hulle is tussen Bandelierkop en die dorp, en dit het effens mistig begin raak sodra die berg binne sig kom.
Dis al laatmiddag en die kar se ligte is reeds aan. Daar is ‘n melankoliese atmosfeer in die Nissan. Tonia se ma het uiteindelik ingestem om na die aftree-oord toe te gaan, siende dat daar net te veel inbrake die afgelope tyd in die buurt was, waar sy al vyf en veertig jaar bly, van vlak na haar en die ouman se troue.
Dis asof ‘n era verbygegaan het, sonder dat jy dit kan keer. Dit laat Maans en Tonia weereens tot die besef kom hoe kosbaar die lewe is en hoe dankbaar hulle kan wees vir Maans se vaste werk, Tonia se besigheidjie en die tweeling se akademiese en sportprestasies.
Voor in die pad, ongeveer ‘n halfkilometer, is ‘n blou en wit gepansterde sekuriteitswa. Dit ry teen ‘n bestendige honderd kilometer per uur, wanneer twee vinnige karre, ‘n Mercedes C 6.3 en ‘n BMW 750 by hulle verbyjaag, teen ‘n hoogtetjie, verby ‘n dubbele sperstreep.
Maans is dadelik verergd, maar Tonia wat hom maar te goed ken, gee sy hand, wat bo-op die rathefboom rus, ‘n effense drukkie dat hy moet bedaar.
Die twee voertuie verdwyn bo-oor die bult en wannneer hulle weer binne sig kom, is hulle weerskante van die pantserkar. Daar is ‘n effense draai in die pad en wanneer die vervoerwa dit binnegaan, stamp die swaar BMW dit net agter die voorwiel.
Onmiddellik begin die pansterkar te sweepslag en weer stamp die BMW. Die bestuurder verloor beheer en die kar rol twee maal om, voordat dit tot stilstand kom.
Maans en sy gesin is nou feitlik by die rooftoneel en hy swaai op die regterkant van die pad om verby te kom. Van die Mercedes af, klink skote soos ‘n rower, wat by die agterventer uithang, ‘n AK 47 op vol-outomaties leegmaak in die rigting van die verkeer.
Een van die koeëls tref die A-pilaar voor Maans en vlieg dan skrams verby sy kop, waar dit vir Manie, wat agter sy pa sit, vol in die gesig tref. Nog sewe skote tref die voorruit, soos die skut die geweer laat beweeg van sy links na regs. Twee rondtes tref vir Tonia, een in die nek en een in die hart en nog een vir Mandie in die kop.
Skielik is die kar vol bloed, Maans rem instinktief en dan trap hy die versneller om weg te kom. Hy besef nog nie presies wat sy gesin oorgekom het nie, daarvoor is die skok en die spoed van die aanval te groot. Die groot Patrol steek egter viervoet vas en al die ligte op die paneelbord kom aan. Een van die verdwaalde rondtes het die enjinbeheerstelsel getref.
Maans bring die voertuig tot stilstand dertig meter anderkant die misdaadtoneel. Hy sou later nooit kan onthou wanneer hy gereageer het nie. Hy pluk die deur oop, skuil vir ‘n oomblik agter die kant van sy voertuig en dan hardloop hy oor die pad in die rigting van die aanvallers. Daar is vier van hulle en wanneer hy naderkom, swaai hulle een na die ander om en rig hulle wapens op hom. Twee het aanvalsgewere en nog twee handwapens.
Sy eerste .44 Magnum rondte uit die kortloop Ruger tref die naaste rower op sy groot, ronde voorkop. Sonder om die uitwerking van sy skoot te bekyk, haal Maans die rewolwer se haan met sy duim oor, sodra die swaar loop afkom. Hy tref die tweede en derde rower binne ‘n sekonde en ‘n half op dieselfde plek. En dan is die vierde ook in sy visier. Die skoot tref met dodelike akkuraatheid en ook hierdie man tref die grond.
Maans draai om, asof in ‘n dwaal en loop terug na sy Nissan. Daar is geen beweging van binne die kar nie en hy ruk die agterdeur oop. Maans was vir lank ‘n soldaat en sy tyd op die Grens het hom geleer hoe lyk ‘n dooie mens.
‘n Diep, onaardse grom skeur uit sy binneste as hy besef sy kinders is dood. Dan sien hy die stukkende liggaam sy vrou. Vir ‘n paar sekondes staan hy asof hy in ‘n soutpilaar verander het. Sy hele lewe is in ‘n oogwink vernietig.
Hy maak Tonia se veiligheidsgordel los en trek haar uit die voertuig. So sit hy met haar bolyf oor syne. Hy weer alle denke uit sy kop, asof hy die werklikheid probeer ontken. Hy is vaagweg bewus van die blou ligte en die sirenes agter hom en hoor asof in ‘n drom die geskreeu soos bevele uitgeroep word. Hy voel iemand aan sy skouer trek, maar hy ruk dit vorentoe, terwyl hy uiteindelik ‘n sin uitkry tussen sy vasgeklemde tande.
“Los my uit. Gaan weg!”
Skielik word hy agteroor gepluk en hy val half op sy rug. Instinktief vlieg hy regop en kyk in die koue oë van ‘n polisiekaptein vas. Die ligtekop man staan twee treë weg, met sy dienspistool op Maans gerig.
“Laat val die wapen, meneer!”
‘n Groot woede kom oor Maans. Dis iets wat hy lank in toom hou, selfs na alles wat die afgelope jare met hom en sy mense gebeur het. Hy het dit onder beheer gehou vir Tonia en sy kinders, selfs toe sy bure gemartel is, toe sy honde vergiftig, sy neef doodgwurg, sy nuwe gereedkap gesteel, sy kar gestamp is – noem maar op. Dis skielik asof daar ‘n berg van terughou van hom afval.
“Gaan skyt jy, Boet.”
“Ek sê nie weer nie!”
Die polisieman se regterduim beweeg vorentoe en op, soos hy die Beretta se veiligheidsknip afstoot. Nog voordat hy klaar is met die aksie, tref Maans se vyfde skoot hom ook.
Asof ‘n gordyn wegtrek, word Maans bewus van wat hy gedoen het. Hy gaan onmiddellik oor tot aksie. Die ander polisiemanne rig hulle wapens op hom en hy hoor die terugbeweeg van die sluitstukke. Hy raap die naaste rower se AK van die pad af op en skiet losweg in die rigting van die beamptes.
Hulle koes en slaan dekking en voordat hulle tot verhaal kan kom is Maans aan die beweeg. Hy gooi die leë aanvalsgeweer weg, gee ‘n paar groot treë in die rigting van die draadheining en wip bo-oor. Onmiddellik verdwyn hy in die skemer, tussen die bosse van die Bosveld. ‘n Sarsie skote tref die bome en bosse agter en langs hom.
*
“Wat maak jy hier, Maans? Hulle soek jou.”
Maans staan met sy hande gelig, dat Dawid kan sien hy is nie gewapen nie. Maar ook nie heeltemal nie – voor, by sy belt in gedruk is die groot Ruger Super Blackhawk .44 Magnum.
“Ek weet hulle soek my. Hulle soek al ‘n maand lank. Maar nou soek ek hulp by jou.”
Dawid wys hy moet omloop na die agterdeur. Dawid se werkskamer is langs die kombuis, met ‘n deur wat by die spens uitloop. Hier is sy gereedskap teen die muur, sy herlaaistel op ‘n sterk tafel, ‘n geweerkluis in die hoek vasgebout en op ‘n diep rak bo, naby die plafon, is pakplek. Twee seilstoele staan teen die muur en Dawid vou hulle oop.
“Sit tjom. Is jy seker niemand weet jy is hier nie?”
“Seker. Luister, Dawid, ek sou nie hier wou wees nie, want ek wil nie jou by my gemors inmeng nie, maar ek soek hulp.”
“Voor ons aangaan – het jy geëet?”
“Ek het.”
“Wanneer?”
“Dag voor eergister.”
“Nee, magties man! Kom ek gaan haal vir jou ‘n ietsie. Iets om te drink?”
“Ja, ‘n bier, as jy het.”
Dawid kom na sewe minute terug. Hy het ‘n bord met opgewarmde maccaroni en kaas en ‘n bottel Black Label. Hy wag totdat Maans die laaste krieseltjie opgeëet het en dan stadig aan die bier begin drink. Sy maag is lank leeg en die kombinasie van pasta en bier maak dat hy winde opbring.
“Askies!”
“Is okay. Waarmee kan ek help?”
“Dawid, ek weet nie wat hulle vir jou vertel het nie, maar ek het nie regtig ‘n keuse gehad nie.”
“Die rowers kan ek verstaan, maar die polisieman? Hoekom het jy hom geskiet?”
“Hy het my nie ‘n keuse gelaat nie. Hy wou my skiet.”
“Hoe weet jy?”
“Dit was in sy oë. Ek kon dit sien. Ek wed jou die hele ding was ‘n inside job.”
“Miskien. Maar jy is in die dinges tot bokant jou adams-appel. Waarmee kan ek jou help?”
“Ek soek kos, verkieslik gedroogte kos, ‘n waterbottel, ‘n pakkie pynpille en ammo, vuurhoutjies, en nuwe skoene.”
“Ek het vir jou biltong, beskuit en Mybulins. Kyk daarbo op die rak agter jou kop, is ‘n patrolliesak en ‘n armie-waterbottel, met ‘n fire bucket. Daar is ook ‘n AK bajonet en ook twee of drie hooi-belts. Vat een vir jou. Daar is drie pare armie-kouse. Watter nommer skoen dra jy?”
“Tien.”
“Daar is nuwe nommer nege army-boots. Dis al wat ek het.”
“Dit sal werk. Ons gooi warm water in en dan trap ek dit uit. Is eintlik beter so.”
“Die ammo - .44 Magnum?”
“Dit is.”
“Ek het net .357’s en 303, maar ek sal gou bel.”
“Dis drie uur. Ek moet voor daglig weer weg wees.”
“Moet ek jou help met ammo, of nie? Hoeveel rondtes het jy oor?”
“Een.”
“Net een, hoe so?”
“Daar was ses in die rewolwer toe ek begin skiet. Ek het vyf skote geskiet.”
“So, jy loop al ‘n maand iewers rond, met net een rondte in die ding?”
“Netso. En nou is dit tyd dat ek moet begin terugbaklei. Maar daarvoor het ek ammo nodig.”
Dawid kry sy selfoon en bel ‘n nommer. Net voordat die blikstem van die Engelse meisie kan sê daar is nie antwoord nie, praat ‘n slaperige, maar tog helder stem.
“Hallo, Dawie. Is daar moeilikheid?”
“Sorrie, Jan. Moenie vrae vra nie, ek sal later verduidelik. Maar ek soek ‘n paar rondtes vier en veertigs. Kan jy help?”
“Ek kan, Dawie. Maar hoekom so laat in die nag?”
“Soos ek sê, ek sal later verduidelik. Sal jy dit op jou hekpaal sit, ek sal dit nou-nou kom haal?”
“Ek maak so.”
Maans en Dawid ry na die nuwe uitbreiding toe, na Jan Langenveldt se huis. Bo-op sy hek se pilaar staan twee pakke ammunisie. Dawid kry dit en gee vir Maans.
“Hier is ‘n honderd. Waarheen?”
“Jy kan my aflaai by die Roodewalpad.”