Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om te sien is nie geloof nie, en om te hoor of te voel is ook nie geloof nie. Om te glo wanneer ons nie kan sien, hoor of voel nie – dit is geloof. As ons God deur ons geloof wil behaag, moet ons glo voordat ons voel, en meer dikwels ten spyte van ons gevoelens glo dat Hy in beheer is.
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (20)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Today is Trinity Sunday. Centuries ago words were written to be a call and a spur to the faithful servants of Truth and Justice: ‘Arm yourselves, and be ye men of valour, and be in readiness for the conflict; for it is better for us to perish in battle than to look upon the outrage of our nation and our altar. As the will of God is in Heaven, even so let it be.'” - Winston Churchill
*
Sonder om verder tyd te mors, het Dons by die groep ingeval. Die CJ 7 waarmee hy ry, is ook ‘n oop voertuig soos die Land Cruiser en die Land-Rover van Skeer en Arno. Hy verkeer nie meer in skok nie, al het sy lewe handomkeer verander die afgelope tyd. Wanneer die groep stilhou om kos te maak, soms ‘n vuur maak om die koue uit hulle lywe te jaag en ‘n paar ure te rus, sal hy sy slaapsak half eenkant neer oopgooi.
Nie een van die ander uit die groep dink dit is vreemd of onvriendelik nie, aangesien elkeen van hulle die trauma van die afgelope tyd op verskillende manier verwerk. Die enigste een wat skynbaar onaangeraak is, is Ezra, of te wel Kleinskeer. Die outjie het dan ook vir Dons as een van die groep aanvaar en sal soms met hom ‘n kort geselsie aanknoop, of sommer net by die oom gaan sit.
Alhoewel die afstand tussen hulle vertrekpunt en Dullstroom net sowat 400 kilometer moes wees, het hulle, met al die plekke wat hulle moes vermy om sodoende die konfrontasie met ontheemde, honger en desperate mense te vermy, ompad gevat en is die uiteindelike afstand byna drie maal so ver. Voeg hierby dat die voertuie meer dikwels as nie, op sekondêre paaie moet ry, en soms vir lang ente deur die veld. Hoog in die Magaliesberg het die Land Cruiser se vooras gebreek.
Die klim teen die skuinste is erg genoeg onder normale omstandighede, maar met die mense wat uitgewyk het uit die klein nedersettingtjie van uTshombe, het die fonteine weer begin loop, al is dit stadig. Dit het teen die bult afgeloop en die gladde klippe nog glibberiger gemaak.
Arno het gedoen presies waarteen hy die ander waarsku, deur skerp te draai na die linkerkant toe en teen die opdraand te veel vet gegee. ‘n Onheilspellende klap aan die voor regterkant van die Land Cruiser is enige bestuurder se nagmerrie. Sodra die enjinrewolusies bedaar, besef hy dat hy glad nie kan stuur nie.
“Waarom stop jy, Arno?”
“Ek het iets gebreek, ek is nie seker wat nie, maar dis iewers op die vooras. Ek het nie meer drywing op die voorwiele nie en ek kry nie die stuur gedraai nie.”
Dons het nou bygekom en staan die affêre en kyk. Hy sug sò diep, dat die ander na hom kyk.
“Wat is dit? Dit kan nie so erg wees nie.”
“Arno, vertel my wat gebeur het?”
“Ek het skerp gestuur om daardie rotspunt te vermy, die wiele het gegly teen die gladde klip en toe klap iets.”
“Het jy lepel ingetrap?”
“Ek het, sodat ek net verby die water kon kom en die wiele toelaat om weer vas te trap.”
“En nou kan die voorwiele nie stuur nie?”
“Ja.”
“Die voorste kruiskoppeling, of CV aan die sy-as het gebreek.”
“Hoe weet jy dit?”
“Ek het dit self al meer as een maal oorgekom.”
“Wat doen ons nou?”
“Ons moet die as uithaal, en alles weer terugsit, maar sonder die sy-as. Jy sal dan kan stuur, maar jy sal nie meer vierwieldryf hê nie.”
Die werk was nie intensief of uitdagend nie, maar het tyd geneem en die son sak al voordat hulle klaar is. Natuurlik kan hulle by een van die ander voertuie se hooflig of by flitse en lanterns werk, maar hulle besluit om dit nie te doen nie. Ligte wat ver sigbaar is en nie beweeg nie, sal net so goed wees as ‘n brandende kers by ‘n swerm motte.
Elkeen wat gehelp het, se hande is besmeer met ghries en olie en hulle was sover moontlik met ‘n bietjie petrol en verder met seep. Moeg klim hulle in die slaapsakke.
‘n Jakkals gee sy half-benoude, hartseer en alleen roep, nie baie ver van die kamp af nie. Skeer gaan sit regop.
“Wat is dit?”
“Dis ‘n jakkals, Maya.”
“Ja, ek ken hulle getjank. Ek het immers lank in Phalaborwa gewoon en vir ‘n paar maande binne die grense van die Wildtuin self.”
“Ja, maar hierdie een klink anders.”
“Hoe?”
“Ek weet nie, maar dis nie normaal nie.”
“Miskien het hy net keelseer of verlang baie erg.”
“Miskien.”
*
Met die klomp wat onverbiddelik naderkom, het Klaas sy AR 15 gestoor. Hy het besluit om vir ‘n paar uur die winkel in sy dogter se hande te laat en bietjie uit te kom. Alhoewel Klaas nooit weer sewentig sal sien nie, het hy deur die jare sterk en fiks gebly en geglo jy kan die ouderdom weghou deur spiere geoefend te hou.
Met die geweer en ‘n handwapen – hy glo dat enige vuurwapen ter enige tyd moeilikheid kan gee en daarom moet jy ‘n “back-up” hê – aan sy heup, loop hy tot buite die veilige dorpsgrense, groet die skildwag en teen die lae koppie uit voor hom.
Hy onthou vaagweg van ‘n digter, hy kan nie onthou wie nie, wat gesê het toe die Here die Wes-Transvaal gemaak het, het Hy nie meer berge en bome oorgehad nie, maar net stilte en vrede. Of so-iets, hy kan nie mooi onthou nie. Die koppie voor hom is ‘n uitsondering, nie hoog nie en hy het altyd, na Maggie se dood, daarheen geloop en gaan stilte soek, lank voordat hy die winkel vir die oggend sou oopsluit.
Hy het hulle geruik nog voordat hy enigeen van hulle gesien het. Swartmense sê blankes ruik vir hulle soos suur melk of pap en blankes sê swartmense het ‘n reuk eie aan hulleself. Klaas span die wapen en druk die veiligheidsknip af. Hy is dankbaar dat hy die geweer, wat basies dieselfde is as die Amerikaanse M16 wapens, wat hulle al vanaf die vroë sestigs in Viëtnam gebruik het, kon koop. Nou hou hy die wapen gereed, sy bejaarde oë soekende na enige mensevorm of beweging.
Sonder dat ‘n bewegende grassie hulle teenwoordigheid kon verraai, spring agt frisgeboude manne voor hom op en storm sonder om ‘n woord te uiter op hom af. Die AR 15 klap hard en gevoelloos in die oggendstilte.
Die man reg voor hom steier agteroor as die 5,56 millimeter koeëltjie hom hoog teen die bors vang en as Klaas teiken versit, weier die geweer om die volgende skoot te vuur. Die leë doppie hang halflyf by die aksie van die geweer uit en alhoewel dit maklik is om die storing reg te stel, het Klaas nie tyd nie.
Die sewe makkers, wat al byna omgedraai het om te vlug van die ouman met die wapen, draai weer terug na hom toe en val weereens aan. Hy laat val die wapen en pluk ‘n ou Smith&Wesson .38 uit die holster op sy heup, lyn nog ‘n man op, maar dan is hulle op hom en voordat hy die skoot kan afvuur, stamp een van die manne hom plat.
Klaas is bejaard, sy bene nie meer vandag se kind nie, maar hy is ‘n sterk ouman. Terwyl hy op die grond lê, pluk hy die naaste man aan hom se bene onder hom uit en as die ou val, slaan hy hom met ‘n groot vuis teen die keel. Twee ander skop na sy bolyf, bang om nader te kom, maar ‘n vierde man druk hulle weg en beweeg vinnig nader met ‘n pik, wat hy agteroor sy kop en sy lyf inswaai en reg maak om die lang, skerp punt deur Klaas se bors te kap.
Desperaat voel Klaas na die .38 wat iewers geval het, maar as hy besef die wapen lê buite sy bereik en trek hy sy spiere ineen om die punt van die pik te probeer absorbeer, al weet hy dit help niks. Deur dit alles, sê of mymer hy nie ‘n woord nie.
‘n Half verdwaasde en ontstelde uitdrukking kom op die pikslaner se gesig. Die 158 grein holpuntkoeël tref die bokant van sy regterskouerknop en skram weg. Daar is ‘n oomblik in die stilte as ‘n duidelike klik-klak geluid veertig meter van die koppie af, in die rigting van die dorp, gehoor word. Die val van die .357 Magnum doppie is onhoorbaar as dit op ‘n graspol land. ‘n Tweede geniepsige knal kom weer vanwaar Janah kniel.
Sy het Klaas gevolg, vandat hy doelgerig van die winkel af weggestap het, sonder om werklik te weet waarom. Sy korrel met die Rossi saalkarabyn na ‘n ander aanvaller, tevrede dat haar tweede skoot die man in die middel van sy bors getref het. Dis nie nodig om ‘n vierde skoot af te trek nie. So vinnig as wat hulle bene hulle kan dra, vlug die ander manne teen die koppie uit en verdwyn daaroor.
Janah hardloop teen die koppie uit, haar sterk, jong bene seker en rats oor die klippe. Wanneer sy bo kom, mik sy in die bondel en skiet op die voortvlugtende manne. Een van hulle slaan neer, staan weer op en hardloop mank agter sy maats aan, wat nie ‘n oomblik oorweeg om hom te help nie.
Sodra Janah by die man kom wat sy die eerste geskiet het, maak sy ‘n bol slym agter in haar keel bymekaar en spoeg die man in sy gesig. Sy vee haar mond af met die agterkant van haar hand en praat dan die eerste maal.
“Is jy okay, oom Klaas?”
Klaas bly lê, sy ou oë groot van skok en verbasing.