Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In 1 Johannes 5:14 sê hy dat God ons verhoor as ons iets vra volgens God se wil. Calvyn se kommentaar op hierdie vers bring meer duidelikheid wanneer hy sê dat as dit aan elkeen van ons toegestaan wou word om te vra net wat ons begeer, sou daar baie swak na ons omgesien word. Dit sou ook die geval wees as God aan ons wense sou toegee. Want ons weet nie wat vir ons goed is nie. Inteendeel, ons brand van slegte en verderflike begeertes. Dus is die geheim van verhoorde gebede daarin dat ons niks sal vra wat strydig is met God se wil nie. Daarom moet ons sy wil ken en gehoorsaam.
ISRAEL, DIE MEDIA EN APARTHEID
Dit val op hoe dikwels die beskuldiging teen Israel geslinger word dat dit ’n apartheidstaat sou wees en dat sy politiek ooreenstem met die beleid wat in Suid-Afrika gevolg is in die era van afsonderlike ontwikkeling. Daarmee word die nega-tiewe beeld wat oor dekades sedert 1948 oor Suid-Afrika opgewek is direk op Israel geprojekteer, en benut die media sodoende die negatiewe emosionele kapitaal daarvan. Uiteraard is die hele poging vals, wanneer dit maar net vlugtig ontleed word. Selfs die ANC en die Arabiese joernaliste gebruik hierdie taal. Kom ons kyk na enkele teenstrydighede in hierdie verband.
Drie eeue se ontwikkeling in Suid-Afrika
Die vestigingspatroon van volke (en dus ook die rasse) in Suid-Afrika het oor ’n tydperk van 300 jaar ’n bepaalde neerslag gevind in min of meer duidelik afsonderlike gebiede, met hartlande vir die swart stamme/volke en ’n bepaalde gebied wat deur blankes beset is op ’n verskillende wyse as wat Jode in Israel hul gebied bekom het. Die gebiede waar blankes hulself in Suid-Afrika gevestig het was grootliks onbewoon of baie yl bewoon deur inheemse volke. Baie van die blankes se gebiede is deur ooreenkomste met swart volke gereël.
In sommige gevalle was die grense wel die uitkoms van stryd en oorlog, maar die blankes het die swart volke toegelaat om in hul eie gebiede te woon en hulle is nie verdryf nie. Daar was nooit ’n vergelykbare proses van uitdrywing soos wat Israel sedert 1948 doelbewus en amptelik teen die Palestyne toepas nie. Wat in Suid-Afrika swart gebiede genoem is, was gegrond op hul tradisionele tuislande: Zoeloeland, die Transkei, Swaziland, Lesotho, Botswana, en andere in Suidwes-Afrika soos Ovamboland en Hereroland. Hierdie kerngebiede is gerespekteer en uiteindelik toegelaat om hulself te regeer.
Die beleid van apartheid of afsonderlike ontwikkeling.
As gevolg van die vermenging wat te weeg gebring is in Suid-Afrika sedert die negentiende eeu deur die toestroming van swartes na die blanke gebiede, na die groot stede, na myne en nywerhede, het ’n gemengde situasie ontstaan wat die beleid van segregasie, apartheid en later afsonderlike ontwikkeling tot gevolg gehad het. Die doel was om die blanke se regmatige gebiede te beskerm teen swart oorstroming en swart besetting. Apartheid was ’n beleid teen die besetting van die blanke gebied. In Israel is die situasie teenoorgesteld: Die Jode in Israel beset die gebiede wat vir duisende jare Palestynse woongebied was, verdryf die bevolking uit hul hartland en pas geweld toe om Palestyne uit hul land te verdryf.
In Suid-Afrika is skeiding nooit as ’n aggressiewe oorlog teen die hele swart bevolking gevoer nie. In teendeel, afsonderlike ontwikkeling (waardeur verskeie tuislande tot selfbestuur en selfs onafhanklikheid gelei is) was terselfdertyd ’n ekonomiese ontwikkelingsprogram op ’n skaal wat uitstaan as ’n unieke wyse van samewerking wat op vreedsame wyse uitgevoer is, en dit is opsigtelik nie die geval in Israel nie. Boonop is daar in Suid-Afrika doelgerig na die welstand van swartes in die blanke gebied omgesien deur middel van die bou van klinieke, hospitale, skole, behuising, vervoer en welsynsdienste ̶ andermaal in skerp teenstelling met wat in Israel gebeur.
Israel se vorm van “apartheid”
Slegs oppervlakkig beskou lyk dit of Israel ’n beleid toepas soos apartheid. Die metodes wat die regering van Israel gebruik en die historiese konteks daarvan verskil egter hemelsbreed van die geskiedenis in Suid-Afrika. In Suid-Afrika is die swart woongebiede (en die tuislande) nie afgesper met meters hoë mure, sekuriteitsheinings en permanente militêre teenwoordigheid nie, asof sulke gebiede in ’n staat van beleg verkeer het nie. Beweging van swartes na en van hul woongebiede is selfs gesubsidieer deur bus- en treindienste. Swartes kon blanke dorpe besoek, hul werk in vrede doen en alle lewensmiddele aankoop. Water, elektrisiteit, paaie en ander infrastruktuurdienste is na die swart gebiede uitgebrei op las van die blanke belastingbetalers. Israel daarenteen behandel die Wesbank, die Golan-hoogland en Gaza as konsentrasiekampe vir die Palestyne, en verklaar openlik dat dit deel sal word van die Joodse staat in die toekoms, vry van Palestynse inwoners. Vandaar die oorlog wat ons tans sien, wat deur baie kenners tereg bestempel word as ’n “volksmoord”.
Nog ’n belangrike verskil
In die geval van Suid-Afrika is die vreedsame ontwikkeling van swart tuislande in hul tradisionele gebiede hewig teengestaan deur die Westerse lande soos Amerika, Brittanje, Kanada, en die meeste Europese lande, insluitende die Europese Unie. Jode in Suid-Afrika het dit ook teengestaan en Israel het dit teengestaan. Hulle was hoegenaamd nie aan die kant van blankes in Suid-Afrika of “apartheid” nie. Daarteenoor steun dieselfde Westerse lande Israel se oorlog teen die Palestyne en kondoneer die aggressiewe besetting van Palestynse woongebiede in die Wesbank asook in die suide van Israel. Israel ontvang sedert 1948 enorme finansiële hulp van Westerse lande, onder andere kompensasiegeld van Duitsland. Die grootste deel van Amerika se buitelandse militêre hulp gaan na Israel. Ons sien dit tans weer afspeel met die hulp wat aan Israel verleen word. Suid-Afrika (die sogenaamde apartheidstaat) het nooit sulke hulp van Westerse lande ontvang nie.
Propaganda teer op negatiwiteit
Ons moet besef dat propaganda maklik teer op negatiewe beelde. Wat is nou handiger vir die media en vir politici in die Weste of in die Midde-Ooste om Israel se dade te koppel aan die negatiewe kapitaal wat oor meer as 70 jaar teen Suid-Afrika opgebou is. Noem hom ’n “apartheidstaat”, noem sy beleid “apartheid”; en so word al daardie negatiewe gevoelens wat teen Suid-Afrika opgesweep is, gemobiliseer. Terselfdertyd word Suid-Afrika se geskiedenis nog swarter geskilder deur dit direk aan Israel se dade te verbind.
In oorlogstye is die waarheid die eerste slagoffer, word dikwels gesê. Gelukkig is daar nog joernaliste, akademici en kundiges wat nie val daarvoor nie.
Ons hartlike dank aan die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis