SKOOLPROJEK
Telefone
Suid-Afrika se eerste telefoonsentrale is in 1882 in Port Elizabeth geopen en het net 20 huurders gehad. Die persoon wat 'n oproep wou maak, moes 'n slinger draai en die sentrale vra om dit deur te sit. Outomatiese sentrales is later ingestel, maar dit was eers in die 1960's dat die meeste groter sentrums daarby aangesluit het.
Vandag is daar miljoene telefone in Suid-Afrika en 'n netwerk van telefoonlyne verbind ons land met ander lande regdeur die wêreld. 'n Mikrogolfnetwerk kan duisende oproepe versend deur antennes op hoë torings.
In 1975 het Suid-Afrika 'n lid geword van Intelsat (International Telecommunications Satellite Organisation) wat verskeie telekommunikasiesatelliete het wat tot 36 000 kilometer bo die aarde in die ruimte wentel. Pieringvormige antennes straal radioseine van Hartebeestpark na ander lande uit en satelliete herlei radioseine van die res van die wêreld na Suid-Afrika.
Baie mense het selfone wat deur 'n netwerk van radiosenders werk. Elke sender bedien 'n gebied wat 'n sel genoem word, en die selfoon verander outomaties van frekwensie wanneer dit van een sel na die volgende beweeg.
Van telegram na Internet
Die eerste plaaslike telegraafboodskappe is in 1860 tussen Kaapstad en Simonstad gestuur. 'n Boodskap wat in Morse-kode op 'n sender uitgetik is, is deur middel van elektrisiteit na sy bestemming oorgedra. Daar is dit gedekodeer, as 'n telegram uitgedruk en afgelwer.
Sedert die 1920's het die teledrukker geleidelik die Morse-kode vervang. Die teledrukker stuur 'n getikte boodskap van een poskantoor na 'n ander. Die woord 'telex' is 'n kombinasie van 'teleprinter' en 'exhange.' Teleksmasjiene is deur die poskantoor uitgehuur aan groot maatskappye soos koerante, wat dan hul eie sentrale gehad het vir die stuur en ontvang van telegramme. In die 1980's is die stelsel gerekenariseer. Dit is egter gou deur die faks vervang.
Faksmasjiene werk deur telefoonlyne en radio-uitsendings en is soos langafstand-fotokopieerders. Faks is 'n afkorting van 'faksimilee' wat beteken 'presiese weergawe'.
In die 1930's het faksimileedienste afbeeldings per landlyn of radio gestuur, veral vir gebruik in koerante. Vandag het baie private gebruikers hul eie faksmasjiene.
Op sy beurt word die faks weer verdring deur e-pos waarmee 'n mens met die gebruik van 'n persoonlike rekenaar en digitale skandeerder nie net teks nie maar ook akkurate kleurafbeeldings stuur en ontvang. Dit kan regoor die wêreld gestuur word.
Die internet is soos 'n elektroniese biblioteek waartoe jy deur telefoonkoppelings met 'n persoonlike rekenaar toegang kan verkry. Organisasies wat inligting wil verskaf, hou 'n elektroniese webwerf soos Gelofteland aan waartoe jy deur die invoer van 'n kode toegang verkry. Die gebruiker kan dan die webwerf se inligting 'deurblaai' en meer te wete kom oor verskeie onderwerpe.
Internetbedrog
Deur die Internet kan misdadigers inbreek by rekenaarnetwerke om geld en inligting van oor die hele wêreld te steel. Een stelselindringer, die Amerikaner Kevin Mitnik wat in 1995 gearresteer is, het 20 000 kredietkaartnommers tot sy beskikking gehad. Dit is moeilik vir wetstoepassers om misdadigers wat in een land bly maar in 'n ander land misdade pleeg, te vang en te vervolg. Daar word darem gereeld nuwe verbeterde programme geskryf om hierdie misdade te probeer voorkom, maar daar is ook altyd weer 'n nuwe slim slenter om dit te omseil.
SMS, of genoem KB
Die Engelse beskrywing, "Short Message Service" word afgekort as SMS, en word verkeerdelik gebruik wanneer iemand sê dat hy 'n SMS gestuur het. Die korrekte Engelse term is dat hy 'n SM gestuur het, dus 'n "Short Message". Die Afrikaanse gebruik is 'n Kort Boodskap en die afkorting KB word algemeen deur Afrikaanssprekendes gebruik.
Die KB-diens is een van die opsies wat selfone bied en laat die gebruiker toe om 'n kort boodskap te versend, wat dan as geskrewe teks op die selfoon se skerm verskyn. 'n Voordeel van die KB-diens is dat dit gebruik kan word om boodskappe oorsee te stuur, wat nie altyd met 'n gewone oproep moontlik is nie. 'n KB is ook goedkoper as 'n telefoonoproep.
Bewaring van inligting
Inligting kan op papier bewaar word maar dit neem dikwels lank om deur boeke en lêers na die verlangde inligting te soek. In die 1940's is rekenaars egter uitgevind en gemaak deur die gebruik van elektroniese buise. Hulle kon geweldig baie inligting bewaar maar was groot en lomp. Toe die silikonskyf uitgevind is, kon kleiner, kragtiger rekenaars gemaak word. Hulle doen berekenings en bewaar inligting wat onmiddellik opgeroep kan word. Vandag kan talle banktransaksies met 'n persoonlike rekenaar en nou ook selfone, vanaf die huis gedoen word.
Die nadeel is natuurlik dat wanneer daar 'n groot kragonderbreking is, inligting nie opgeroep sal kan word nie. So het gewone papier dan ook sy voordeel.
Die Silikonskryfie
Die silikonskyfie is 'n klein stukkie silikon van net 'n paar vierkante milimeter. Die gebruik daarvan in elektronika is eers in 1958 ontdek. Dit bevat honderde elektriese stroombane en indien hulle geprogrammeer is om saam te werk, kan dit byna enige masjien beheer. Wasmasjiene, telefone, outomatiese tellermasjiene en televisiestelle is maar net 'n paar van die masjiene wat deur silikonskyfies beheer word.