SUID-AFRIKA SE SOOGDIERE

SKOOLPROJEK

ONS GROOT SOOGDIERE

Suid-Afrika het die wêreld se grootste land-soogdier: die Afrika-olifant; die langste soogdier: die kameelperd; die vinnigste soogdier: die jagluipers; die kleinste soogdier: die dwergskeerbek.

Nasionale sowel as internasionale wette oor die beskerming van wild het gehelp om Suid-Afrika se meer as 10 000 olifante te bewaar. Vandag is daar soveel olifante in die Krugerwildtuin dat uitdunning nodig geraak het. Tensy die olifante se getalle onder beheer gehou word sal daar nie genoeg water en kos vir hulle almal wees nie en sal baie van hulle van honger omkom.

Die seekoei het vroeër in mere en riviere van Zeekoeivlei tot in Noord-Transvaal voorgekom maar word nou net in Natal en Oos-Tranvaal aangetref. Seekoeie is egter suksesvol hervestig in die Rondevlei-voëlreservaat in die Wes-Kaap en ook in die Groot Visrivier in die Oos-Kaap.

 

SOOGDIERE VIR EWIG VERLORE

Teen die einde van die 18e eeu het die bloubok uit die Kaap se Overberggebied verdwyn. Dit kon gebeur het omdat skape die meeste van hulle natuurlike weiding gevreet het, maar jag het ook 'n tol geëis. In 1889 is 'n paar gemonteerde bloubokhorings tussen ou sporttrofeë in Kaapstad gevind. Dit is deur kenners uitgeken en ondersoek. Vier gemonteerde eksemplare daarvan word in Europese museums uitgestal maar hierdie horings is die enigste aandenking van bloubokke wat ons in Suid-Afrika het.

Die kwagga was die suidelikste subspesie van die bontsebra en het kleurvariasies gehad, maar was nie 'n aparte spesie soos mense gedink het nie. Hy het 'n bruin pels en roomwit bene gehad. Daar was swart strepe net op sy kop, nek en voorste dele. Groot troppe kwaggas het eers in die Kaap en Suid-Vrystaat voorgekom maar die laaste kwagga is in 1883 in die Amsterdamse dieretuin dood. Jag en boerdery noord van die Vaal het tot die verdwyning van die Lichtenstein-hartbees in Suid-Afrika gelei. Hulle kom steeds in lande verder noord voor.

In 1885 het die SA Nasionale Parke verskeie Lichtenstein-hartbeeste uit Malawi suksesvol in die Krugerwildtuin hervestig.

 

GERED!

Bontebokke se getalle het toegeneem sedert 'n paar in 1931 in die Bontebok Nasionale Park naby Swellendam beskerm is. Sowat 20 jaar later is planne ook beraam om van die oorblywende 100 Kaapse bergsebras in die Bergkwagga Nasionale Park buite Cradock te beskerm, en nou is daar meer as 200 sebras in die park.

Die suidelike subspesie van die witrenoster is ook van uitsterwing gered toe die Natalse Natuurbewaringsdiens 'n paar oorlewendes in reservate beskerm het.  Daar is nou meer as 1 500 slegs in Hluhluwe-Umfolozi.

Suidelike noordkappers was vroeër volop, maar walvisjag het hulle getalle in die 19e eeu drasties laat afneem. Bewaringsprogramme behaal groot sukses om dié reuse-soogdier se getalle weer in ons water te laat toeneem.