1948: EERSTE REMBRANDT- SIGARETTE

KULTUURDAGBOEK 12 JUNIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Gelei deur die geloof in 'Leierskap deur navorsing' en ' Nywerheidsvennootskap' het die Rembrandt-groep Beperk van 'n klein onderneming, wat sy beslag in Junie 1948 gekry het, gegroei tot 'n wêreldwye nywerheidsreus – die wêreld se eerste nywerheidsbond van nasies.

Onder die kragtige en doelgerigte leiding van dr AE Rupert, wat van die begin af aan die roer was, het Rembrandt in 1948 die vierde grootste sigaretvervaardiger in die Vrye Wêreld geword met 70 fabrieke in 30 lande. Die batesyfer van R1 000 miljoen het ook wydvertakte belange in die Suid-Afrikaanse nywerheid verteenwoordig. Tesame met sy baanbrekers- en bouwerk as Afrikaanse nywerheidsonderneming het Rebrandt 'n sinvolle rol gespeel in onder meer die bewaring van Suid-Afrika se kultuurhistoriese erfenis en die bevordering van die Suid-Afrikaanse kuns.

Van die oomblik dat Rembrandt op winsgewende voet gevestig was en dividende begin uitkeer het, het hy 'n deel van sy winste tot voordeel van die gemeenskap aangewend. Die bevordering van die kunste op landswye vlak was een van die eerste bedrywighede.

Deur die Kunsstigting Rembrandt van Rijn is uitstallings van 19 versamelings wêreldwyd gehou om alom genot te bring en 'n waardering vir die kunste aan te moedig.

Historiese Huise van Suid-Afrika Beperk is in 1966 onder leiding van Rembrandt gestig. In die eerste tien jaar van sy bestaan is meer as vyftig historiese geboue vir die nageslag gerestoureer en dit sluit in geboue soos die Drosdyhof op Graaff-Reinet, die Ou Residensie op Swellendam, Kerkstraat op Tulbach en Laetitia op Stellenbosch. Op Heidelberg in Transvaal het Rembrandt die Vervoermuseum op die ou spoorwegstasie gestig wat onder meer die grootste fietsversameling in die Suidelike Halfrond gehuisves het.

Rembrandt se beleid van diens aan die gemeenskap het nog verder gestrek en het die bevordering van sport deur die Sportstigting van Suid-Afrika asook die bewaring van die natuur deur die Suid-Afrikaanse Natuurstigting ingesluit.