1842: EERSTE SKOTE TUSSEN BOER EN BRIT IN NATAL

KULTUURDAGBOEK 23 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

By Congella sou die Afrikaner vir die eerse keer met sy bloed sy republikeinse vyheidsideaal teen die Brit verdedig. Ná die wettige grondaankoop van Dingaan vir 'n vaste woonplek in die hartland van Natal, sy verraderlike moord op Piet Retief en sy medeburgers, en die vergelding by Bloedrivier op 16 Desember, sou die Trekkers, ten spyte van Britse teenkanting, al hul kragte inspan om Natalia, hul republiek, te konsolideer. Hulle versoek om as "een vrije en onafhankelijk volk" deur Brittanje erken te word, is egter genegeer. Valse redes is gesoek en aangewend om weer Port Natal te beset, wat die Britse troepe reeds in 1839 om finansiële redes ontruim het.

Goewerneur George Napier was vasbeslote om die Trekkers van 'n vrye hawe na vreemde moondhede af te sny. Kaptein Smith is toe gelas om met 125 man oor land Port Natal te beset, wat op 4 Mei 1842 geskied, toe hy by Congella, 'n ou wagpos van Tsjaka, kamp opslaan. Die Volksraad was die opmars te wagte en het intussen vir Andries Pretorius gelas om met die aankoms van die Britse troepe die burgery te bewapen en te keer dat hulle na die hoofdorp, Pietermaritzburg, opruk.

Proteste van die kant van die Volksraad is in die wind geslaan. Toe verskeie onderhandelinge misluk en die Trekkers van die Engelse se vee aankeer, is daar met 'n kanon en gewere op hulle gevuur. Dié nag en die volgende dag van 23 Mei 1842 het Smith egter besluit om Pretorius aan te val. Pretorius was egter hierop voorberei en 'n hewige skermutseling het gevolg, Smith moes die aftog blaas en na sy kamp terugkeer, maar met 17 gesneuweldes. Die 31 gewondes is met groot menslikheid deur die Trekkers versorg. Die Trekkers self het twee gesneuweldes en drie gewondes getel. Pretorius het 'n maand lank Smith se kamp beleër, maar toe hulp vanweë Dick King se heldhaftige rit opdaag, was die Trekkers nie teen die Britse oormag van kanonne bestand nie. Hulle het na Pietermaritzburg teruggeval waar die Volksraad op 15 Julie 1842 'n formele deklarasie van onderwerping aan die Britse koningin onderteken het.