1837: ERASMUS SMIT AS PREDIKANT AANGESTEL

KULTUURDAGBOEK 21 MEI

Lees volledig by Kultuurdagboek

Gebore op 2 Augustus 1778 in Buiksloot, Nederland, is hy van 1786 af in die Aalmoeseniersweeshuis opgevoed. In 1801 het die Nederlandse Sendinggenootskap hom as sendeling opgelei en ingeseën; dit was nie 'n amptelike ordening nie, dus het hy nie die bevoegdheid verkry om die sakramente te bedien nie.

In Oktober 1804 het hy in Kaapstad aangekom en op Bethelsdorp begin arbei.

In Junie 1813 het hy met die dertienjarige Susanna Catharina Maritz, oudste suster van Gert Maritz, in die huwelik getree en 'n sendinginstituut by Torenberg (later Colesberg) aangelê.

Daar is hy op 15 September 1816 deur eerw. James Read, superintendent van die Londense Sendinggenootskap in Suid-Afrika, as sendeling georden en het hy gevolglik ook die bevoedheid verkry om die sakramente aan nie-blankes wat deur sendelinge bekeer is, te bedien, maar nie aan lidmate van enige kerkgenootskap of hulle kinders nie.

Van 1818 tot 1836 het hy agtereenvolgens op Kookfontein naby Beaufort-Wes, Stellenbosch, Olifantshoek (later Alexandria) en Graaff-Reinet gearbei, en in September 1836 het hy saam met die Maritz-trek die Kaapkolonie verlaat.

Hy het in die Voortrekkers se geestelike behoeftes voorsien maar ernstige verdeeldheid het ontstaan omdat hy nie die sakramente kon bedien ie. Onder druk van omstandighede het hy op 17 Maart 1837 wederregtelik vir die eerste keer die doop op die Groot Trek bedien. Dit het die Voortrekkergemeente in twee geskeur.

Ná sy verkiesing as goewerneur het Piet Retief vir Smit beveel om hom in die erediens op 23 April 1837 as leraar te besestig. Hewige teenkanting het dit in die wiele gery. Die besware teen Smit was veral dat hy nie die sakramente aan blankes kon bedien nie maar ook dat hy 'n onaangename geaardheid gehad het en reeds oud en mankoliekerig was sodat hy sy predikantswerk nie behoorlik sou kon verrig nie. Retief het egter daarop aangedring dat Smit as leraar aangestel word, en op 21 Mei 1837 is hy voor 'n aansienlike getal toehoorders deur homself as eerste leraar van die "reizende gemeente der Gereformeerde Kerk naar Port Natal" bevestig. Geen besware is geopper nie en hy is amptelik vir al die Voortrekkers aangestel. Hy sou ook die sakramente kon bedien. Baie Voortrekkers het hulle egter van hom gedistansieer.

Op 6 Junie 1837 het hy en die ander ampsdraers hulle verskillende ede afgelê, en op 11 Junie 1837 het hy goewerneur Retief voor die gemeente kerklik ingeseën.

Tydens die Voortrekkers se lotgevalle in Natal, het hy onvermoeid sy predikantswerk verrig. Sedert Januarie 1839 het hy op Pietermaritzburg gewoon en as leraar gearbei tot hy op 10 Februarie 1841 verplig is om sy emeritaat te aanvaar.

Hy en Susanna het in 'n armoedige huisie in Bergstraat gewoon. 'n Week ná Susanna se dood is hy op 3 Augustus 1863 oorlede. Hy is langs sy vrou in die Voortrekkerbegraafplaas in Commercialweg begrawe.