Lees volledig by Kultuurdagboek
1. Die nuwe kerkgebou van die Strooidakkerk in die Paarl, Wes-Kaap, word in 1805 ingewy. Die kloktoring is in 1811 voltooi en op die klok, 'n oorblyfsel van die ou kerk, is die inskrywing 'Amsterdam 1714'. Die preekstoel is deur MM Krynauw in 1838 geskenk.
2. 1945: Die CNO-Bewaarskool word in Pietermaritzburg geopen. Die beperking op moedertaalonderrig het groot ontevredenheid onder die Afrikaners van Natal ontketen. Uit protes teen hierdie beperking van Afrikaans as taalmedium vir onderrig is daar op 7 Februarie 1944 in die stadsaal van Pietermaritzburg onder luide applous eenparig besluit om 'n eie CNO-Bewaarskool in die stad te stig.
Kragte is gekoördineer, en die Nasionale Instituut vir Onderwys en Opvoeding van die FAK het in samewerking met die Natalse Aksiekomitee besluit om oor te gaan tot die aankoop van 'n geskikte perseel in Pietermaritzburg waar die CNO-Bewaarskool opgerig sou word. Daar is daadwerklik oorgegaan tot die insameling van geld en die nodige bedrag is spoedig bymekaargekry. 'n Gebou is vir die bedrag van 5 500 pond aangekoop, en op 28 April 1945 is die CNO-Voortrekker-Bewaarskool amptelik deur prof JC van Rooy en dr E Greyling geopen.