1874: JACK HINDON GEBORE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Oliver  John (Jack) Hindon is in Skotland gebore waar hy in diens van die Britse leër getree het. Hy kom op jeugdige leeftyd na Suid-Afrika om in Zoeloeland diens te doen maar dros weens swak behandeling. Baie gou het hy hom met die Boere in die ZAR vereenselwig en verkry volle burgerreg deur sy vrywillige deelname aan die veldtog teen Jameson in 1895.

Hy tree daarna in diens van die ZAR-polisie en neem sodoende deel aan talle veldslae tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Sy onverskrokkenheid het onmiddellik opgeval en in Junie 1900 word hy lid van Danie Theron se verkennerskorps. Na sy bevordering tot hoof van sy eie Veg- en Verkennerskorps wat belas was met die ontwrigting van hul spoorweglinies, het hy en sy manskappe 'n verskrikking vir die Britte langs die Oosterspoorlyn geword.

Hulle het ook talle suksesvolle klopjagte uitgevoer op Swartes wat Boeregesinne aangeval het. Sy vernuf en vreeslose meelewing in die Afrikaner se stryd het aan hom 'n ereplek in die volk se heldegalery besorg.

Met die aanvang van die vredeskonferensie in April 1902 het hy op advies van lede van die Regering om hom met die vyand te versoen ten einde Britse onderdane in sy korps van vervolging onthef te kry, na die Engelse oorgeloop wat aan sy eise toegegee en hom boonop 'n loon van 12 sjielings per dag betaal het. Aan die Boere het hy nogtans geen kwaad berokken nie.

In 1970 word dié beroemde Boereverkenner vereer met die instelling van 'n Jack Hindon-medalje vir buitengewoon ywerige en voortreflike diens in vredes- en oorlogstyd deur manskappe van kommando's van die Suid-Afrikaanse Weermag. Op die voorkant van die medalje is daar 'n reliëfafbeelding van Hindon en twee van sy makkers waar hulle die Vierkleur tydens die Slag van Spioenkop hys. Op die keersy verskyn die versierde wapen van die RSA in reliëf.

Ná die Tweede Vryheidsoorlog vestig hy hom as bou-aannemer in die VSA maar keer later terug na die Republiek waar hy op 19 Maart 1919 in Pretoria sterf.