KULTUUR- DAGBOEK 11 APRIL

Lees volledig by Kultuurdagboek

1. Piet en Dirkie Uys sneuwel in 1838.

2. 1902: SLAG BY ROODEWAL

Nadat genl JH de la Rey reeds na Klerksdorp vertrek het om aan die voorlopige vredesonderhandlinge deel te neem, het genl JCG Kemp, wat hy in bevel gelaat het, besluit om die Britse kamp by Roodewal aan die Brakrivier aan te val, in Wes-Transvaal vas te trek, en 'n knou toe te dien. Met sowat 2 600 burgers, verdeel onder genls Liebenberg en Celliers en kmdt Potgieter, is die sowat 11 000 Britse troepe op heldhaftige wyse bestorm.

In die vroeë oggendure het die Engelse aanvanklik die stormloop vir 'n deel van hul eie magte aangesien. In werklikheid was dit kmdt FJ Potgieter, die dapper en onverskrokke aanvoerder se 800 man wat met doodsveragting op hulle afgestorm het. Sommige het tot sowat 70 treë van die Britse bajonette gevorder en 50 gesneuweldes, onder wie Potgieter, asook 30 swaar gewondes agtergelaat.

Vanweë die geweldige oormag moes Kemp die aanval op die uitgestrekte Britse linies aflas en self sy magte in twee verdeel om die Britse teenaanval en agtervolging te ontkom. Daarmee was die laaste groot slag van die Tweede Vryheidsoorlog afgeloop en die verliese wat die Boere gely het, het gewis ook 'n neerdrukkende uitwerking op die gedagte van die voortsetting van die oorlog by die vredesonderhandelinge gehad.