Lees volledig by Kultuurdagboek
Ná die ondertekening van die Bloemfontein-konvensie op 23 Februarie 1854, wat die onafhanklikheid van die Oranje-Vrystaat verseker het, is 'n 'Raad van Volksrepresentaten' of kortom Volksraad van 29 lede deur die verskillende veldkornetswyke en dorpe verkies. Hul eerste bestuursdaad was om die tradisionele republikeinse staatsbeskouinge van volksoewereiniteit en uitoefening van die volkswil in 'n geskrewe grondwet vas te lê. Die twee uitlanders JJ Groenedaal, Nederlander en onderwyser, en JM Orpen, Ier en landmeter, het waarskynlik die grootste bydraes tot die bewoordingvan die grondwet gelewer.
Na deelglike ontleding blyk dat sowel die grondwette van die VSA as die Franse Republiek van 1848 as model gedien het. Belangrik is egter die feit dat uit hierdie grondwette slegs oorgeneem is wat in ooreenstemming met die tradisies, gebruike, ervaringe en aspirasies van die burgers was. Die merkwaardige van die grondwet wat uiteindelik op 10 April 1854, skaars twee maande na onafhanklikwording, goedgekeur is, is dat dit 'n groepie eenvoudige Afrikanerboere was wat daaraan finale beslag gegee het; dat in die loop van die volgende halfeeu geen kardinale beginsel daarin gewysig of aangevul is nie; en dat dit reeds in die 19e eeu deur die beroemde Britse staatsregkenner, lord Bryce, en later deur Kennedy en Schlosberg sowel as der GW Eybers as 'n model-grondwet aangeprys is. Naas die bydraes wat presidente JN Boshof, JH Brand, FW Reitz en MT Steyn gelewer het tot die vorming van die model-republiek, die Oranje-Vrystaat, moet die grondwet se rol daarin nooit misgekyk word nie. Teenoor die latere grondwet van die ZAR wat uit 232 artikels bestaan het, het die Vrystaatse grondwet slegs 62 artikels bevat. In eenvoudige en duidelike taal is die kwalifikasies van die kiesers en die pligte en magte van die Volksraad, die Staatspresident en die Uitvoerende Raad bepaal en die regterlike mag omskryf, terwyl die krygstelsel se beginsels kort en kragtig omlyn is – alles volgens tradisies en ervaringe wat tot die Geuse in Nederland, die staatsbedeling onder die Kompanjies- en Britse bewind, die Trekker-konstitusies en eie Christelike en demokratiese beskouinge teruggevoer kan word.