Lees volledig by Kultuurdagboek
1. David Pratt, 'n Natalse boer, skiet en tref dr Hendrik Verwoerd, Premier van Suid-Afrika, met twee skote uit 'n .22 outomatiese pistool in die kop toe lg die Randse Paasskou in 1960 open. Pratt, wat sielsiek verklaar is, sterf aan sy eie hand op 1 Oktober 1961.
2. Die Slag by Jammerbergdrif: genl de Wet en sy manskappe beleër die Britse garnisoen onder bevel van EH DDalgety sowat 5 km noordwes van Wepener in die Vrystaat, maar sonder welslae tydens die Tweede Vryheidsoorlog in 1900.
3. Emily Hobhouse, Britse pasifis en maatskaplike werker onder Afrikanervroue en –kinders in konsentrasiekampe tydens die Tweede Vryheidsoorlog, is in 1860 op die dorpie St Ives, naby Liskeard in Cornwallis (Brittanje) gebore. Sy besoek op haar 41e verjaardag in 1901 die konsentrasiekamp by Mafikeng in Transvaal. Lees meer in hoofartikel.
4. 1678: Fondamentstene van die eerste kerkgebou aan die Kaap word gelê. Die gereelde kerkdienste aan die Kaap is eers in 'n saal in die Fort de Goede Hoop en daarna op verskillende plekke in die nuwe Kasteel gehou. Toe die eertydse houtkerkie in die Kasteel verwyder is, moet 'n plan gemaak word met die oorblyfsels van die mense wat sedert 1666 rondom die kerkie begrawe is. In 1677 is ds Petrus Hulsenaar dus in die Kompanjie se verlate tuin begrawe, wat toe vir 'n kerk en begraafplaas bestem was. Hier het goew Bax en die lede van die Politieke Raad die namiddag van 9 April 1678 die eerste stene van 'n kruiskerkie gelê. Om verskeie redes het dit jare lank by die fondament gebly en van Pinksterdag 1695 af het die gemeente in die nuwe dwarsmuur of "Kat" van die Kasteel vergader, maar met die plegtigheid van 1678 is die plek vir die toekomstige kerkgebou van die Kaapse gemeente vir goed aangewys.