1861: "NUWE KERK" IN PIETERMARITZ- BURG INGEWY

Lees volledig by Kultuurdagboek

KULTUURDAGBOEK 7 APRIL

Op dié dag is die "Nuwe Kerk" van die Nederduitse Gereformeerde gemeente Pietermaritzburg in 'n gees van nederige, diepe dankbaarheid ingewy. Dit is gebou op die halwe erf van Langmarkstraat 34. Ds P Huet was toe predikant van die gemeente, en verskeie hooggeplaastes soos die luitenant-goewerneur, die hoofregter en die sekretaris van naturellesake, het saam met die gemeente die inwydingsplegtigheid bygewoon.

Dit was die tweede kerkgebou van die gemeente en is opgerig onmiddellik langs die eerste, die ou Geloftekerk, wat later die Voortrekkermuseum geword het. Die twee geboue het min of meer dieselfde getal sitplekke gehad maar die nuwe gebou het nodig geword omdat, soos dr HE Faure – predikant van die gemeente in 1855 – op 18 Julie van daardie jaar aan die regering verklaar het, "the one at present in use is altogether in 'n state of dilapidation."

Die oprigting van die "Nuwe Kerk" was vir die gemeente 'n besondere prestasie. Die mense was arm, en met groot moeite is die nodige geld gevind deur middel van kollektelyste en lenings en deur die verkoop van kerkgrond in die distrik. Vir Afrikaners van Pietermaritzburg in die besonder en Natal in die algemeen was die gebou baie jare lank 'n geestelike en kulturele swaartepunt.

Onder sommige mense het die indruk posgewat dat die "Nuwe Kerk" die eintlike Geloftekerk is. Dit moet waarskynlik daaraan toegeskryf word dat hierdie tweede kerkgebou met soveel dankbaarheid en vreugde in ontvangs geneem is;  en ook omdat, nadat die eerste gebou voltooi was, daar algou die gedagte ontstaan het om, wanneer meer geld beskikbaar is, 'n nuwe kerkgebou op te rig – wat toe in werklikheid die "Nuwe Kerk" was. Hierdie indruk is egter nie korrek nie. Die eerste gebou, later die Voortrekkermuseum, is die ware Kerk van die Gelofte. Afdoende bewyse hiervoor vind ons onder meer in die kollektelyste wat reeds kort na die Slag by Bloedrivier rondgeneem is om geld en voorrade vir die oprigting van die gebou in te samel. Die redakteur van De Zuid-Afrikaan, CJ Brand van Kaapstad, wat aktief met die insameling gehelp het, skryf bv op 13 Junie 1839 aan Andries Pretorius: "Ik heb eene inteekening lyst alhier geopend tot bydragen van het opbouwen des tempels, welke gy den Heere hebt beloofd."