1922: RANDSE STAKING FINAAL BEËINDIG

KULTUURDAGBOEK 14 MAART

Lees volledig by Kultuurdagboek

Hierdie rampspoedige gebeurtenisse aan die Witwatersrand die eerste drie maande van 1922 het in hoofsaak gewortel in die onvermoë van laegraadse goudmyne om met produksiekoste tred te hou,terwyl die goudprys 'n dalende neiging getoon het. Die Kamer van Mynwese moes derhalwe kies tussen loonverlaging vir mynwerkers of die opheffing van die sogenaamde 'status quo-ooreenkoms', wat sekere werk vir Blankes gereserveer het. 'n Loonverlaging kon nie die laegraadmyne red nie, en die opheffing van die 'status quo-ooreenkoms' is die dus oorweeg. Loonverlaging is terselfdertyd by steenkoolmyne en by enkele groot maatskappye ingestel, en dit het 'n kollektiewe gees van verset by die werkers laat posvat. Die Suid-Afrikaanse Industriële Federasie, spreekbuis van die werkers, het aan die begin van Januarie 1922 'n algemene staking afgekondig, 'n gebeurtenis waarby ook die Randse Afrikaner nou betrokke geraak het aangesien baie mynwerkers Afrikaners was.

Die Eerste Minister, genl JC Smuts, se pogings om die staking te beëindig, was onsuksesvol en sy verklaring dat die regering hom nie sou inmeng nie, maar die vegtende partye die saak sou laat uitveg, het hom as 'n onsimpatieke bemiddelaar by die stakers gebrandmerk. Etlike skikkingspogings het daarna misluk, en toe die SA Industriële Federasie vroeg in Maart nie meer deur die Kamer van Mynwese erken is nie, het 'n revolusionêre groep  kommunistiese agitators, die sogenaamde Council of Action, beheer oor die stakers verkry. Geweld het spoedig begin hoogty vier, en veral sedert 8 Maart het onluste toegeneem: die Kaapse hooflyntrein is ontspoor, motors is in strate omgekeer en polisie het gaandeweg inisiatief begin verloor.

Die afkondiging van krygswet het geen uitwerking op die geweldpleging gehad nie, en sake het eers 'n wending geneem nadat genl Smuts persoonlik beheer oor die militêre  magte geneem het. Spoedig is toestande aan die Oos- en Wes-Rand genormaliseer, terwyl Fordsburg, die laaste vesting van die stakers, op 14 Maart verower en die staking daarmee beëindig is. Smuts se optrede het hom die wrewel van sy politieke opponente op die hals gehaal en die uiteinde was 'n politieke bondgenootskap tussen die Nasionale Party en die Arbeidersparty, wat deur adv Tielman Roos aangevoor is. Hierdie bondgenootskap het daartoe gelei dat die party wat die aspirasies van die Afrikaner verteenwoordig het, veertien jaar na sy stigting met die hulp van sy Arbeidersbondgenote aan die bewind gekom het.