Lees volledig by Kultuurdagboek
In ons Kultuurdagboek het ons tevore gemeld dat Bartholomeu Dias de Novaes anker gegooi het naby Boesmansrivier.
So bietjie meer oor sy ontdekkingsreise: Hy, as Portugese ontdekkingsreisiger, het koninklike opdrag gehad om die lang soektog na 'n seeroete na Indië suidwaarts langs die Weskus van Afrika suksesvol af te rond. Hy was skoon onbewus dat hy óm Kaappunt geseil het, wat vir hom 'n yslike triomf sou wees, maar die tipiese Kaapse seestorms het gemaak dat hy dit nie eers geweet het nie.
In Desember 1487 was die ongeveer 37-jarige Dias nog regoor Lüderitzbaai, en in Februarie 1488 het hy by Visbaai digby Mosselbaai aan land gegaan.
Daarna is verder geseil. Sy bemanning het hom kort hierna verplig om terug te keer. Met die terugreis het hy sy klipkruis, die padräo van St Gregorius, naby die mond van die Boesmansrivier in die distrik Alexandria by Kwaaihoek geplant. Prof. Eric Axelson het die brokstukke van hierdie oudste baken van ons Europese erfenis in April 1938 ontdek. Die herstelde kruis is tot historiese gedenkwaardigheid verklaar en staan by die Universiteit van die Witwatersrand. 'n Afgietsel is op die terrein self aangebring.
Dias het in Mei 1500 'n onbekende watergraf in die Kaapse see gevind toe hy 'n lid van Pedro Cabral se vloot oppad na Indië was. 'n Standbeeld vir Dias deur prof Bara Feyo is op 12 Maart 1960 in die tuin voor die Kunsmuseum in Kaapstad onthul.