1910: ONTWIKKELING VAN TAALBOND

KULTUURDAGBOEK 11 MAART

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die pogings wat gedurende die eerste dekade van hierdie eeu aangewend is om Afrikaans te handhaaf en verder uit te bou, word duidelik weerspieël in die jaarverslag van die Taalbond se sekretaris wat gepubliseer is in De Zuid-Afrikaan van 11 Maart 1910.In die jaarverslag is besonder hulde gebring aan die nagedagtenis van JH Hofmeyr wat gedurende sy lewe van groot betekenis vir die Taalbond was. Om dit in permanente herinnering te roep is besluit om 'n bydrae tot die 'Hofmeyr Gedenkteken Fonds' te maak, terwyl die vier eerste pryse van die vier Taalbond-eksamens mettertyd ook as die Onze Jan Taalbondpryse bekend sou staan.

Dit is opvallend hoe die groeiende taalgevoel onder Afrikaners ook uitgekristalliseer het in groter deelname in die aktiwiteite van die Taalbond. In 1908 het 3 300 kandidate ingeskryf vir die Taalbond-eksamens – in 1909 het dit tot 4 000 gestyg. Gedurende die voorafgaande sewe jaar het die getal kandidate byna verviervoudig – 'n teken van die lewenskragtigheid van die Tweede Taalbeweging.

Hierdie groei en lewenskragtigheid het verder ook tot uiting gekom in die stigting van die ZA Akademie. Die Taalbond was verheug oor die totstandkoming van die Akademie en was bereid om met die Akademie saam te werk – selfs daarin op te gaan as dit nodig was. Ten einde handhawing van die taalregte van die Afrikaner te bestendig en uit te brei, is die aandag ook toegespits op die onderwys.

Die Opvoedings-Gazette is aan Afrikaners gestuur terwyl geskikte persone benoem is "om voor die belangen van onze taal op onderwijsgebied op te treden" in die regeringsopvoedingskommissie wat kort tevore aangestel is.