1905: IS'T ONS ERNS? – JH HOFMEYR

KULTUURDAGBOEK 6 MAART

Lees volledig by Kultuurdagboek

Jan Hofmeyr was wel nie die politikus wat die Afrikanervolk tot hoogtes gelei het nie maar hy was 'n man wat 'n groot liefde vir die Nederlandse taal gekoester het. Dit is opmerklik dat Hofmeyr pleit vir die behoud van Nederlands, en dat hy nie die waarde van Afrikaans besef of ingesien het nie. Die toespraak het gelei tot 'n belangrike debat tussen Afrikaanse geleerdes, predikante en joernaliste oor die onderskeie meriete van Nederlands en Afrikaans, waaraan mense soos Gustav Preller, JHH de Waal en dr DF Malan deelgeneem het en die voortou geneem het om die tweede Afrikaanse taalbeweging van stapel te laat loop.

Preller antwoord in Junie 1905 met "Laat't ons toch ernst wezen", waarin hy pleit vir die voortbestaan van Afrikaans in plaas van Nederlands. Ná hom volg dr DF Malan in Augustus 1908 met "Het is ons Ernst", waarin hy ook Afrikaans bo Nederlands stel as die taal van die volk. Hierdie toespraak ten gunste van Nederlands het dus direk aanleiding gegee tot die bewussyn dat die stryd om Afrikaans as volkstaal bo Nederlands voortgesit moet word.

Onze Jan, soos hy genoem is, het hom sterk ten doel gestel om die lees van Hollands aan te moedig in 'n tyd toe Engels die botoon in ons land gevoer het. In sy bekende toespraak "Is't Ons Erns?" op Stellenbosch op 6 Maart 1905 voor die studentevereniging bepleit hy die handhawing van Hollands as die skryf en moedertaal van die volk, al is die skryftaal in 'n vereenvoudigde spelling.

Hy stel die vraag of die miskenning van hul moedertaal wel vir die Nederlanders van destyds 'n saak van erns is. Hy gee praktiese voorbeelde van waar Nederlands verdraai en verengels is en trek veral te velde teen die swak toestand op skool waar Hollands nouliks as vak aangebied is.

Hy is ook van mening dat die Hollanders selfs iets aan die saak moet doen, dat die miskenning van hulle taal hulle eie skuld is, en dat hulle wat praat oor liefde vir en lojaliteit teenoor die moedertaal, iets daadwerkliks aan die taalkwessie sou doen as dit vir hulle 'n saak van erns was.

Deur voorbeelde van volke wat onder vreemde heersers nog hulle moedertaal behou het, toon hy aan die hoorders dat so iets slegs moontlik is as 'n volk die taalkwessie hulle erns maak. As ander volke hulle taal kon handhaaf, kan die Hollanders in Suid-Afrika dit ook doen –  "indien het u ernst is".

Die kernvraag van hierdie toespraak verskyn op die voetstuk van Hofmeyr se standbeeld in Kaapstad.