KULTUURDAGBOEK 27 FEBRUARIE
Nadat veldmaarskalk Roberts genl. Piet Cronjé se strategiese stellings by Magersfontein omvleuel het, was Cronjé met die tweede belangrikste Republikeinse leër in gevaar om ingesluit te word. Omdat hy sy walaer saam met sy 4 000 man wou red en nie insig genoeg geopenbaar het om Roberts se strategie vooruit te loop nie, is hy uiteindelik op 17 Februarie 1900 op die plaas Wolwekraal, nie ver van Paardeberg nie, teen die Modderrivier, vasgedruk.
Tien dae lank is tevergeefs weerstand gebied teen 'n Britse oormag van 33 000 man, met 120 kanonne wat Cronjé van alle kante bestook het.
Sy laaste poging om te ontkom, is op 26 Februarie verydel toe sy geïmproviseerde wabrug oor die steeds voller wordende rivier deur Britse artillerievuur vernietig is.
Die lyding van die kinders, vroue en burgers in sy bomverflenterde laer waar honger, koue, gebrek aan medikasie, die wil tot verdere weerstand begin ondergrawe het, het ‘n breekpunt veroorsaak. Die meerderheid van sy burgers het oorgawe geëis. Toe teen dagbreek die voorspel tot die finale stormloop met 'n bombardement ingelui is, het enkele wit vlae in die laer verskyn. Die krygsrumoer het bedaar, en Cronjé het 'n nota uitgestuur en 'n rukkie later onder geleide van Britse boodskappers persoonlik na Roberts uitgery en met 46 offisiere en 3 873 man oorgegee.